Aktiewe eutanasie

17-02-2014 10:32

DIE LIG VAN DIE SKRIF OOR AKTIEWE EUTANASIE

                               

 

Die woord eutansie stam uit die Grieks maar as ons na die woord self kyk gee dit ons nog nie ‘n duidelike aanwysing vir ‘n beoordeling vanuit God se Woord nie. Hierdie woord is in die geskiedenis vir verskillende sake rondom die mens se sterwe gebruik.

As ons na die letterlike betekenis van hierdie woord kyk beteken dit niks anders as: “die goeie sterwe”. Dit sal goed wees om nou eers daarop te konsentreer wat die HERE in Sy Woord oor die dood sê. Dan kry ons die regte kader om verder oor eutanasie te praat.

 

        Eutanasie: Is die dood goed?

 

As ‘n mens van die goeie sterwe praat mag dit in die lig van die Skrif dan beteken  dat die dood goed is? Behoort die dood by die skepping waarvan God in Genesis 1:31 sê dat dit baie goed was?

Verskillende teoloë in ons tyd beweer dat die dood by die skepping behoort. [1]

Die HERE wys in die Bybel baie duidelik aan dat dit nie so is nie. Die dood was verseker geen deel van Sy goeie skepping nie. As Hy  Adam as die eerste mens[2] gemaak het, lees ons  o.a. die volgende: “En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet sal jy sekerlik sterwe.”

Hierdie woorde van God maak duidelik dat die dood geen deel van Sy goeie skepping was nie. Die mens kan wel self die dood in die wêreld inbring as hy ongehoorsaam aan sy God en Skepper word. Die ongehoorsaam word aan Sy Vader, wat hom as Sy kind geskep het, kom tot stand as die mens van die een boom eet waarvan God gesê het  hy nie mag eet nie. Hierdie woorde van God beteken nie dat as die mens daarvan eet dat hy dan dadelik dood langsaan die boom sal neerval nie. Die mens verbreek dan sy band met God en vervreem hom van Sy Skepper. Dit is die geestelike dood. Die gevolg daarvan is dat die mens dan ook sterflik geword het. Vanaf die dag dat hy van daardie boom geëet het, werk die afbraak in sy liggaam en is hy ook op pad na sy ligaamlike dood.

Die dood ook in liggaamlike sin is dus God se straf op die mens se sonde. Dit wys die Heilige Gees ook baie duidelik in Romeine 5:12 en 6:23:

5:12: “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het”.

6:23: “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.”

Die Bybel noem die dood dan ook ‘n vyand. As dit om Christus se werk van verlossing gaan wat in Sy opstanding Sy oorwinning gewys het, lees ons in 1 Kor 15:25,26: “Want Hy (Christus) moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.”

Die totale vernietiging van die dood, ook in liggaamlike sin, sal ons sien as die nuwe aarde en die nuwe hemel kom. Ons lees van die lewe daar in Openbaring 21:4: “En God sal die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.” 

Die paradystoestand het dan weer teruggekeer. Die dood het dan van die nuwe aarde verdwyn. Die lewe is dan weer so soos die HERE dit as die Skepper bedoel het.

Juis God se kinders wat weet dat die dood nie by God se skepping behoort nie, voel die sterkste en die diepste dat die vertering van ‘n mens se liggaam tot stof  vir enige mens voorlê maar nie werklik natuurlik is nie. Die dood herinner altyd aan die sonde, aan die afstand wat die sonde tussen God as Vader en die mens as Sy kind gebring het.            

 

         Is die dood werklik ‘n vyand?

 

Is daar in die Bybel nie voorbeelde waar die dood  baie positiewer benader word nie?  Is daar tog nie plek om van die “goeie sterwe” te praat nie?

Laat ek ‘n enkele voorbeeld noem.

1.                              Ons lees meerdere kere van gelowiges in die Bybel dat hulle lank geleef het en dat hulle dan van die lewe versadig sterf.  Voorbeelde daarvan is Abraham, Isak en Job. Kyk Gen 25:8;  35:29;  Job 42:17.  In verband hiermee kan ons dan ook  ‘n positiewe geluid hoor as ‘n gelowige op hoë leeftyd sterf. Ons lees in Job 5:26: “Op rype leeftyd sal jy na die graf gaan, soos ‘n koringgerf ingebring word op sy tyd.”

2.                              Dit is ook duidelik dat God  hulle wat in die lewe Hom in liefde gevolg het nie loslaat as hulle sterf nie. Ons lees in Psalm 116:15: “Kosbaar is in die oë van die HERE die dood van Sy gunsgenote.”  Die dood is vir God se kinders nie die uur van die verskrikking wat  hulle lewe vir altyd afbreek of hulle daar bring waar vir ewig pyn en moeite is nie. Hulle bly altyd naby God en deel in Sy goedheid en seën vir hulle. Hierop wys Paulus as hy in Rom 14:7-9 skryf: “Want niemand van ons leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie. Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here. Want hiervoor het Christus ook gesterwe en opgestaan en weer lewend geword, om oor dode sowel as lewendes te heers.”     

3.                              Ons lees in die Bybel selfs dat gelowiges na die dag van hulle dood uitsien. ‘n Baie duidelike voorbeeld daarvan is wat Paulus in Fil 1:21-24: “Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins. Maar as ek in die vlees moet lewe, dan beteken dit vir my vrugbare arbeid; en wat ek sal kies, weet ek nie. Want ek word van weerskante gedring: ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; maar om in die vlees te bly is nodiger om julle ontwil”

 

         Wat sê hierdie voorbeelde vir ons?

 

Wys hierdie voorbeelde op een of ander manier dat die dood tog goed is?  Praat die Bybel op twee manier van die dood? Is die dood die een keer ‘n vyand en die ander keer ‘n vriend en vertroueling?

Nee, verseker nie! Die dood is die laaste vyand. Die dood is ‘n verskriklike inbreuk op God se goeie skepping wat oorwin moet word en wat Christus oorwin het.

Die gelowiges mag vanuit Christus se oorwinning van die dood  van ‘n goeie sterwe praat.[3] Dit beteken nie dat hulle die dood goed noem nie. Dit beteken o.a. die volgende drie sake:

1.                              ‘n Mens se omstandighede op hierdie aarde kan so moeilik wees dat hy na die dag van sy dood uitsien. Hy is so siek en hy is so moeg en het so baie pyn dat hy na die oomblik verlang dat hy daarvan verlos word en by sy God en Verlosser sal wees. Hy sien dan daarna uit om uit sy moeites gered te word en by Vader in die hemel tuis te wees. Hierdie verlange is nie dat ‘n mens die daad oorweeg om homself te dood of  om iemand te vra om te sorg dat hy sterf nie. Dit is die verlange dat  die HERE  hom gou laat sterwe en tuis haal.

2.                              As ons dink aan dit wat Paulus in Filippense 1 skryf , sien ons hoe hy die omstandighede op die aarde wat deur die sonde en die gevolge van die sonde geteister word  met die lewe by God in die hemel vergelyk. As hy dit langsaanmekaar sit, is daar by hom die verlange na die dag dat die HERE hom tot Hom neem. Ook in hierdie gedeelte val dit op dat dit nie daarom gaan dat die mens besluit wat die dag is waarop hy sal sterwe nie. Paulus wys self daarop dat die keuse van die dag van sy sterwe nie in sy hande lê nie. Hy skryf naamlik in vers 22: “Maar as ek in die vlees moet lewe.” Hierdie woorde “moet lewe” wys daarop dat Paulus nie sy lewe in eie hande neem maar dit in God se hande laat. Die manier waarop God sy lewe lei, wys vir hom of hy nog ‘n taak op hierdie wêreld het of nie het nie. 

3.                              ‘n Christen kan van die “goeie sterwe” praat as dit gaan om die voorbereiding, die manier en uitsig wat hy by     sy afsterwe het. Die sterwe is vir God se kinders in die sin goed dat hulle dan by Vader in die hemel mag lewe en verlos is van alle skuld en van al die gevolge van die sonde. Hulle mag op hulle sterfbeddens seker weet dat die dood vir hulle ‘n deurgang tot die ewige lewe is.[4] Ook dit het Christus met sy lyding en dood vir die gelowiges verdien. Die lewe met Christus gee  die gelowiges ‘n afsterwe vol hoop en met ‘n heerlike troosryke uitsig.

 

        Eerste gevolgtrekking

 

Die woord eutanasie is nie altyd vir dieselfde saak gebruik nie.[5] Dit is in die geskiedenis van die kerk ook gebruik om mense daarop te wys hoe hulle op ‘n goeie manier mag sterwe: deur die lewende geloof in Jesus Christus. Die goeie van die sterwe was dan dat iemand daarop voorberei was en deur Christus se werk op die dag van sy sterwe by Christus in die hemel sal wees.[6] Die woord eutanasie het dan nie die betekenis gehad dat die dood goed is nie.

Die dood behoort nie by God se goeie skepping en is nie goed nie.

 

Aktiewe eutanasie

 

Die laaste eeue het die woord eutanasie ‘n ander betekenis gekry. Die eerste keer dat ons hierdie woord in die moderne betekenis vind is by Francis Bacon in sy boek “Nova Atlantis” wat in 1626 verskyn. Vandag ken die woord eutanasie eintlik geen ander betekenis as wat ons genadedood noem nie. Ek beperk my nou tot dit wat  in ons tyd aktiewe eutanasie genoem word.[7] ‘n Baie belangrike vraag by die beoordeling daarvan is of ‘n mens die reg het om oor sy eie lewe te beskik. Het die mens selfbeskikkingsreg? Mag hy besluit wanneer die dag van sy afsterwe gekom het?  Het ‘n mens die reg om op versoek  van iemand wat dit aangaan of van ander wat dit in sy belang ag  die ander se lewe opsetlik en aktief te beeindig?

As ons op hierdie vrae vanuit die Bybel ‘n antwoord soek is dit baie belangrik om daarop te let wat dit beteken dat die mens volgens God se beeld en gelykenis geskep is. Ek sal daaroor in verband met die tyd enkele kort opmerkings maak. Ek het daaroor meer gesê by die simposium oor aborsie in 1997.

 

        Die mens volgens God se beeld geskep

 

God is die Skepper. Sonder God kan ‘n mens nie een oomblik leef nie. Die HERE het die eerste mens uit lewelose stof gemaak. Hy het die eerste mens uit die grond van die aarde gemaak en ons lees dan: “en die HERE God het in die mens se neus die asem van die lewe geblaas. So het die mens ‘n lewende siel geword.” (Gen 2:7) Dit is duidelik dat die mens nie vir sy eie ontstaan gesorg het nie. Dat hy nie stadig maar seker homself so by die omstandighede aangepas het dat hy tot ‘n mens geëvolueer het nie. Die mens is God se maaksel.[8]  Hy is vir sy ontstaan, sy bestaan en voortbestaan van God afhanklik. Psalm 104:27-30 beklemtoon dat mens en dier vir elke oomblik van hulle lewe van God afhanklik is.

Ons lees in Genesis 1:26-28 dat die mens volgens God se beeld geskep is en dat hy die opdrag kry om so te lewe. Wat beteken dit dat die mens na God se beeld geskep is? Watter besondere taak ontvang die mens daarmee? Die mens ontvang die opdrag  dat ander in hom sy Maker kan herken. Die mens is God se verteenwoordiger op aarde en hy moet God se beeld op aarde toon. Dit is die mens se amp. Die HERE het die mens as Sy kind gemaak. Dit kan ons ook in die Nuwe Testament lees. Ons lees in Lukas 3 die Here Jesus se geslagsregister. Die laaste vers lui so: “die seun van Adam, die seun van God.” (Luk 3:38)

Beeld van God wees, het ook alles met gehoorsaamheid aan God te doen. Die mens kan net God se beeld wees en wys as hy in alles aan Hom gehoorsaam. Ons sien dit baie duidelik in die Here Jesus. Hy is die mens, wat ook God is, wat na die sondeval van die mens wys wat dit beteken om God se beeld te wees. Dit doen hy juis deur steeds die wil van Sy Vader in die hemel te wil volg. Ek noem twee voorbeelde:

1.                              Joh 5:30: “Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; en My oordeel is regverdig, omdat Ek nie My wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het.”

2.                              Johannes 8:26,28: “Ek het baie dinge om van julle te sê en te oordeel; maar Hy wat My gestuur het, is waaragtig; en Ek, wat Ek van Hom gehoor het, dit spreek ek tot die wêreld …. En Jesus sê vir hulle: Wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, dan sal julle weet dat dit Ek is; en uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek."

Wat is nou die mens se vryheid as beeld van God? Dit is geen onbeperkte vryheid nie. Werklik vry is die mens as hy in ‘n goeie verhouding met die HERE leef. As hy steeds weer vra: HERE wat is U wil? As jy Christus volg het jy na die sondeval weer ‘n vrye mens geword. Dan is die hoogste wat jy kan bereik nie dat jy oor jouself beskik nie maar dat jy Jesus Christus in alles wil volg. Christus self sê: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” (Joh 8:31)

Die ware vryheid vir ‘n mens is dat hy in alles aan God gehoorsaam wil wees. Die groot vraag by aktiewe eutanasie is of ons iemand op sy versoek mag  doodmaak. Om hierop antwoord te kry is die goed om daarna te kyk wat die HERE ons oor selfmoord in die Bybel leer.

      

Selfmoord

 

Ons lees in die Bybel verskillende kere van mense wat selfmoord pleeg.[9] Die gebeurtenisse word ons daar vertel sonder dat dadelik ‘n etiese beoordeling daarvan gegee word. Ons mag daaruit nie die gevolgtrekking maak dat  selfmoord dus geen sonde is nie. ‘n Historiese mededeling sê nie dat dit wat beskryf word dus goedkeuring ontvang nie. Ons sal na ander gegewens in die Bybel moet kyk om dit te kan beoordeel. Dit is wel opvallend dat  hulle wat in die Bybel selfmoord pleeg almal mense is wat hulle as teenstanders van die lewe met die HERE gewys het.[10]

Die HERE leer ons in Sy Woord dat Hy ons  nie die  vryheid  gegee  het om onsself dood te maak nie.  Juis omdat  die mens na God se beeld geskep is, mag ons die bloed van 'n mens nie vergiet nie. (sien Gen 9:6) Dus mag ons ook nie ons eie bloed  vergiet nie. Die liggaam van 'n mens word in  God  se  Woord 'n tempel van die God of van die Heilige Gees genoem. (sien o.a: 1 Kor 3:6 e.v; 6:19) Hierdie tempel mag  ons nie self afbreek nie.  Die tye van ons lewe is nie in ons hand nie en ons mag dit ook nie in ons eie hand neem nie. Die tye van die mens se lewe is in God se hand. (Psalm 31:16)   Die HERE bepaal die lengte van ons lewe en Hy weet  wat  goed vir ons is en wat ons in die lewe kan dra.  Ons moet nie maak asof ons koning is,  asof ons God is nie. Dit   is  onmoontlik  om die HERE in liefde gehoorsaam te wees as jy besluit om jouself dood te maak.

Hiermee het ons prinsipieel die belangrikste en beslissende  gesê.   Selfmoord is sonde.  Nogtans is daar verskil tussen die een selfmoord en die ander.  Ons moet ook 'n onderskeid tref tussen selfmoord en selfopoffering. Ek wil oor hierdie twee dinge nog enkele opmerkings maak.

         

Onderskeid tussen selfmoord en selfopoffering

         

Dit gebeur soms dat 'n mens in 'n situasie kom waar jou lewe  in  gevaar gestel word.  Dit kan gebeur dat jy weet dat die  kans groot is dat jy sal sterf as jy ander mense help. Dit  kan gebeur dat jy in diens van Christus werk en daarom jou lewe verloor. 'n Voorbeeld daarvan is Simson wat in die tempel van Dagon krag vra om die tempel te verwoes.  Simson  se  laaste  daad  op  hierdie aarde is geen selfmoordpoging nie. [11] Dit was 'n daad van selfopoffering in diens van die HERE.

'n  Ander voorbeeld van selfopoffering is dit wat 'n sekere ds.   Pieron  in die tyd van die Tweede Wêreldoorlog gedoen het. Die oorlogskip waarop hy was het gesink. Die bemanning het in die reddingsbote geklim. Die reddingsboot waarin ds. Pieron  sit  was  te vol en as almal in die boot gebly het,  sou hy sink en sou almal verdrink.  Dan sê ds.  Pieron: "Ek kan sterwe. Ek het Jesus Christus as die Heiland wat my met Sy  bloed  gekoop  het."  Uit  liefde  vir  sy  naastes wat Christus  nog  nie  ken  nie  het  ds.Pieron uit die reddingsboot geklim om vir altyd in die golwe te verdwyn.

Selfopoffering  vanuit goeie motiewe mag ons nie veroordeel  nie.   Daar  is selfs omstandighede waarin die HERE van ons vra  dat ons bereid is om ons eie lewe op te offer.  Dit is ook  uit  die volgende gedeeltes in die Bybel duidelik dat ons selfopoffering nie mag veroordeel nie:

Lukas  14:26:   "As iemand na My toe kom en hy haat nie sy   vader  en moeder en vrou en kinders en broers en susters,  ja selfs sy eie lewe nie, kan hy My dissipel nie wees nie."

Johannes 15:13:  "Groter liefde het niemand as dit nie, dat    iemand sy lewe vir sy vriende gee."

Die  Here  Jesus  Christus het Sy lewe opgeoffer om sondige          mense te red. Hy het God se wil gedoen. Dit was vir Hom die          belangrikste.  Juis daarom het Hy gesterf.  Christus se offer, Sy opoffering wys ons Sy uiterste liefde. Dit lees ons o.a.  in 1 Johannes 3:16:  "Hieraan het ons die liefde leer  ken,  dat Hy(Christus)  sy lewe vir ons afgelê het; en ons behoort ons lewe vir die broeders af te lê.”

 

Nie elke selfmoord dieselfde nie

         

Selfmoord is sonde. Tog is dit nie so dat jy elke selfmoord  oor dieselfde kam kan skeer nie. 'n Mens sou die selfmoorde wat gepleeg word in 3 groepe kan verdeel.

a.  Selfmoord as gevolg van 'n psigiese siekte.  Hierby kan ons o.a. aan bepaalde vorme van skisofrenie dink.

b.  Selfmoord as gevolg van groot probleme in iemand se lewe.

c. Selfmoord wat na deeglike oorweging bewus gesoek word.

Dit  is  duidelik  dat ons mense wat psigies siek is en dan   selfmoord  pleeg  anderste  moet oordeel as mense wat bewus  die dood soek.

As  ons  iemand  ontmoet wat groot probleme het en ons weet dat  hy of sy daaroor dink om 'n einde aan sy of haar lewe te maak is  dit  belangrik dat ons die ander probeer help.  Dat ons nie  net  sê  'n mens mag nie selfmoord pleeg nie,  maar dat ons  ook  probeer  om  die  ander in sy of haar probleme te help.   Dat  ons  dan vanuit die evangelie van Christus met woorde  en  dade  duidelik  maak dat selfmoord nie nodig is nie.   Dat ons wys dat elkeen se lewe deur Christus se werk sinvol is.  Geen kind van God se lewe is nutteloos nie.  As iemand geen sinvolle taak meer op hierdie aarde het nie sal

God  daardie mens laat sterwe.  In die HERE se hande is ons lewe  veilig.   Dit sou dom wees om die tye van jou lewe in  jou eie hand te neem.  Die HERE is soveel wyser as enige mens.

 

Tweede gevolgtrekking: aktiewe eutanasie

 

Ons het gesien dat dit ‘n mens nie toegestaan is om die hand aan sy eie lewe te slaan nie.  Dit is daarom ook nie toegestaan dat  iemand vir ‘n ander vra om hom dood te maak op die oomblik dat dit hom pas nie. Dit is dan nog altyd so dat die mens oor die oomblik van sy eie dood wil beskik terwyl die tyd in God se hand lê.

Aktiewe eutanasie is verseker geen genadedood nie. Dit het niks met God se genade te doen nie. Sonde en genade behoort nie bymekaar nie maar staan teenoor mekaar.

‘n Medikus vertoon God se beeld as hy op geen enkele manier by aktiewe eutanasie betrokke raak nie. Dit is ‘n Christen-arts se roeping om sy pasiente wat in hierdie rigting dink met liefde en mededoë daarop te wys dat dit nie die regte pad is nie.

 

Wat doen ons met Christus se voorbeeld?

 

As die Here Jesus Homself in Joh 10 as die goeie herder aangewys het, maak Hy in vers 17,18 ‘n opvallende uitspraak: “Daarom het die Vader My lief, omdat Ek my lewe aflê om dit weer te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het mag om dit af te lê en het mag om dit weer te neem. Hierdie gebod het Ek van my Vader ontvang.”

Moet ons nou tog nog vraagtekens sit agter die gevolgtrekking dat ‘n mens nie die dag en uur van sy eie sterwe mag bepaal nie? Nee, dit is duidelik dat Christus hier verduidelik dat Hy  hierdie bevoegdheid ontvang het en niemand anders nie. Hoe kon die Here Jesus nou die bevoegdheid ontvang om die oomblik van Sy sterwe as die Verlosser te bepaal? Omdat Hy as die Verlosser en God se eie Seun in alles na Sy Vader luister. Sy wil is nooit anders as die wil van Sy Vader nie. Hy sal nie eerder as wat die Vader se wil is, besluit om te sterwe nie. Hy sê op die oomblik dat dit ook Vader se beskikking was: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor! En toe Hy dit gesê het, blaas Hy die laaste asem uit.” (Luk 23:46)

Ons moet leer om in die vertroue op Jesus Christus as ons Verlosser te wag op die oomblik dat Vader in die hemel iemand laat sterwe. 

 

Ware liefde en mededoë

 

Christus leer ons om God en ons naaste lief te hê. Wat beteken dit as ons te doen kry met mense wat baie ernstig siek is?

Ek noem drie dinge:

1.                              As mense om eutanasie vra, is dit ons opdrag om vir hierdie mense met liefde en meegevoel te verduidelik hoekom ons aan hierdie versoek nie mag en wil voldoen nie. Hier kry ‘n mens dan ook die kans om van Christus te getuig.

2.                              Die liefde vir ons naaste vra ook daarom dat ons alles doen om hulle wat baie ly die beste versorging en pynbestryding te gee. Ons is nie onverskillig maar gee werklik om vanuit Christus se liefde.

3.                              Ons span ons daarvoor in dat hulle wat baie ly en ongeneeslik siek is, aandag en begeleiding ontvang. Ons span ons daarvoor in dat ook in hospitale die ruimte en die tyd daar is dat mense sterwensbegeleiding ontvang. Ons laat dit ook nie net aan ander oor nie maar  wys ook as verpleegkundiges en artse ons meegevoel en liefde vir hierdie pasiente.   

 

 

 

 

 

 



[1] Voorbeelde daarvan is:   Karl Barth; H.M. Kuitert en H. Berkhof

[2] Kyk o.a.  Versteeg, J.P 1971  Is Adam in het Nieuwe Testament een ‘leermodel’  In: Kremer, W. e.a Woord en Kerk pag 29-70  Amsterdam: Ton Bolland   

Visser, Rob. 1999   Kan ons nog aan Adam en Eva glo? Vrye Gereformeerde Studies 5    Pretoria: Victoria Drukkers

[3] Baie voorbeelde daarvan vind ons in:  Exalto, K.  1979.  De dood ontmaskerd  Amsterdam: Ton Bolland

[4] Ons bely dit met hierdie woorde in vraag en antwoord 42 van die Heidelbergse Kategismus: As Christus dan vir ons gesterf het, waarom moet ons ook nog sterwe?  Ons dood is nie ‘n betaling vir ons sondes nie maar selgs ‘n afsterwe van die sonde en ‘n deurgang tot die ewige lewe.”

[5] Douma, J.  1997.  Medische Ethiek  pag 260-263.  Kampen: Kok

[6] Christus se kerk bely dat die gelowiges by hulle afsterwe dadelik  in die hemel by God en Christus is. ‘n Voorbeeld van hierdie belydenis vind ons in vraag en antwoord 57 van die Heidelbergse Kategismus: “Watter troos gee die opstanding van die liggaam aan jou? Dat nie alleen  my siel na hierdie lewe dadelik tot Christus sy Hoof, opgeneem sal word nie maar ook hierdie selfde liggaam van my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word.”  

[7] Dit is jammer dat ons van passiewe eutanasie praat. Dit veral omdat die woorde eutanasie en genadedood in die algemeen so gebruik word dat dit vir mense wys op die opsetlike beeindiging van die lewe. Dit gaan by passiewe eutanasie nie om die beeindiging van die lewe nie maar om die beeindiging van ‘n sekere behandeling.  Dit sou beter wees om te onderskei tussen eutanasie, genadedood  en beeindiging of staking van ‘n behandeling.

[8] Dit kom o.a. duidelik in die Bybel na vore waar die HERE Homself die Formeerder, Maker of Pottebakker noem en die mens Sy maaksel. Enkele voorbeelde daarvan is: Jes 27:11, 29:16; 43:1;  44;2,24;  45;9,11; 64:8; Hosea 8:14; Rom 9:20,2.1

[9] Die volgende persone in die Bybel het selfmoord gepleeg:  

1. Saul  1 Samuël 31: 3-6; 1 Kronieke 10:3-5

2. Saul se wapendraer 1 Samuël 31:4,5                                                                                       

3. Agitofel 2 Samuël 17:23

4. Simri   1 Konings 16:18,19

5. Judas   Matteus 27:5; Handelinge 1:18

[10] Die mense wat in die Bybel selfmoord pleeg het hulle of aktief teen die HERE en Sy wil opgestel of staan in diens van iemand wat dit gedoen het. Aktief teenoor die HERE se werk staan: Saul, Agitofel, Simri en Judas. Saul se wapendraer is die vertroueling van die koning wat hom teen die HERE verset en selfs Dawid wat die HERE dien en tot nuwe koning deur die HERE gesalf is, vervolg. Die naam van die wapendraer word nie genoem nie. Dit wys daarop dat hy juis gesien moet word in sy verbondenheid met Saul.

[11] Ek verskil hier met ander, o.a. Douma wat Simson ook reken onder hulle wat in die Bybel selfmoord gepleeg het.  Douma omskryf selfmoord so: “Zelfdoding in de medisch-ethische contekst is een handeling, waarmee iemand zichzelf doodt om aan de moeiten van het leven te ontsnappen.” a.w. 301.

Ek kan nie sien dat  Simson se beslissende motief vir sy daad sy eie dood was nie. Simson sien dat in die tempel van Dagon derduisende Filistyne is. Hy vra dan aan die HERE om vir hom weer die besondere krag te gee sodat hy die Filistyne kan verslaan. Sy belangrikste motief lees ons in Rigters 16:28: “Here, HERE, dink tog aan my en versterk my tog net hierdie keer, o God, dat ek my voor een keer van my twee oë op die Filistyne kan wreek.”  Dit is ook opvallend dat Simson in Hebreërs 11:32 onder die geloofsgetuies genoem word. Dit is hulle wat in hulle lewe gewys het wat lewe in die vertroue op God se beloftes beteken. Dit is baie beter om Simson se laaste daad as ‘n vorm van selfopoffering te sien. Hy wil in God se diens nog een keer God se vyande verslaan en ookal kos dit hom sy lewe. Dit is die kader waarin ons Rigters 16:30 moet lees: “En Simson sê: Laat my sterwe saam met die Filistyne! En hy buig hom met krag, sodat die huis inval op die vorste en op al die mense wat daarin was. So was dan die dooies wat hy by sy sterwe gedood het. meer as die wat hy in sy lewe gedood het.” Let daarop dat hier Simson se daad as verlosser wat God se volk se vyande dood beklemtoon word.