Artikel 1 Nederlandse Geloofsbelydenis: God leef!
God leef! Artikel 1 NGB
Die plan is dat hierdie die eerste artikel word van ‘n reeks oor die Nederlandse Geloofsbelydenis. Hierdie Belydenisskrif is een van die Belydenisskrifte waarin die kerk haar geloof uitspreek. Dit is nie een of ander kreatiewe formulering van die kerk se geloof nie. Die kerk staan nooit met sy eie kreatiewe geloof in hierdie wêreld nie. Die ware kerk wil niks anders glo as wat die HERE in Sy Woord geopenbaar het nie. Dit is die geloof wat aan die heiliges oorgelewer is. Die inhoud van ons geloof is dit wat God geopenbaar het. Ek wil dan ook in hierdie artikel die Nederlandse Geloofsbelydenis vanuit die Skrif lees en op hierdie wyse iets van die rykdom van ons eie belydenis aantoon. Dit gaan daarom dat dit ons eie belydenis is. Nie die produk van ons eie hart nie, maar wel die belydenis waarmee ons hart be-aam, amen sê, op dit wat die HERE vir ons geleer het.
Hoe mooi is die eerste woorde van die Nederlandse Geloofsbelydenis: “Ons glo almal met die hart en bely met die mond”. Ons vind hier ‘n duidelike verwysing na Romeine 10. Ons lees daar in vers 9,10: “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word, want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.” Wat is die verband waarin Paulus hierdie woorde skryf? Hy wys in die voorafgaande verse dat sy eie volksgenote God nie werklik ken nie omdat hulle hul eie geregtigheid soek. Hulle wil nie net van genade leef nie maar dink dat hulle iets by God moet verdien. Sien vers 2,3. Dit is daarom dat hulle die Here Jesus nie as die Christus aanneem nie. Hulle weier om hulle hele verlossing in Hom te soek. Die ware geloof is so eenvoudig, nogtans vir ons sondige hart so geweldig moeilik om te aanvaar. Die ware geloof is dat jy na Christus en Sy Woord, wat naby is (kyk vers 6-8), luister. Dan wys Paulus vir ons baie duidelik wat die karakter van die begrip “bely” is. Dit is dat jy op grond van Christus se Woord wat naby is met jou hele wese Christus bely. Dit beteken dat jou hart vol liefde vir Christus is, dat jy met jou hart Hom soek en vir Hom as jou God en Koning wil lewe. Sien Joh. 20:28. As jy so met jou hart aan Christus verbonde is, is jy ook so met die Drie-enige God verbind. Dan glo jy met jou hart in God! Dan glo jy met jou hart “dat God die Here Jesus uit die dode opgewek het”. Hier sien ons hoe die “glo in die Here Jesus” nooit van die “glo in God” losgemaak mag word nie. Hier sien ons raak dat die kerk wat waarlik “bely”, ook nooit die Ou en Nuwe Testament van mekaar mag losmaak nie. Die kerk wat aan Christus verbonde is, kan nie stilbly nie. Die ware geloof kan nie iets bly wat net iewers binne-in ‘n mens is nie en nie met krag na buite sou uitstraal nie. Die Here Jesus wys daarop o.a. in Matteus 10 as Hy sê: “Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is. Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is.” Vs 32,33.
“Verloën” is ook wanneer die kerk stilbly as verkeerde dinge van God, Christus en Sy Woord geleer word. “Verloën” is ook wanneer ons die vrede met mense, menslike vrede in die kerk soek ten koste van die waarheid. Dit is opmerklik dat die Here Jesus net na hierdie woorde in Matt 10:32,33 sê: “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard.” Bely beteken dat ons openlik getuig. Openlik van God en Christus getuig volgens die Skrifte. (Kyk die Geloofsbelydenis van Nicea hoe ons daar bely: “Op die derde dag het Hy volgens die Skrifte opgestaan). Dit gaan daarom dat Christus se kerk openlik teenoor die wêreld en in die wêreld die evangelie van Christus laat hoor. Dit is ook wat die kerk van die staanspoor af gedoen het. Ons lees daarvan in Genesis 4:26: “En ook vir Set is ‘n seun gebore, wat hy Enos genoem het. Toe het hulle die Naam van die HERE begin aanroep. Die aanroep van die HERE se Naam wys daarop dat die gelowiges openlik saam gewys het dat hulle van die HERE afhanklik is en na Sy Woord as die lewende waarheid vir hulle lewe wil luister. Hierin staan die kerk teenoor die wereld wat dit nie wil doen nie. Bely met jou hele wese is dat jy met jou hele lewe na God wys en ander na Hom verwys. Die kerk wat bely, wys van haarself af na die HERE en Sy Woord. Die kerk wil nie kreatief wees nie, maar luister na die HERE en daarom in alles Christus volg en net van Sy genade leef.
Ek kan dit nou nie nalaat om nog op die woordjie almal te wys nie. Dit is ‘n klein woordjie en tog so belangrik. So belangrik vir ons kerklike lewe in ons land. Hierdie woordjie wys daarop dat dit nie net ‘n deel van die kerk is wat die inhoud van die Nederlandse Geloofsbelydenis bely nie maar dat die hele kerk dit doen. Dit mag nie die belydenis wees van ‘n sekere groep in die kerk nie. Nee, dit is almal se belydenis. Wie nie meer van harte die inhoud van die Nederlandse Geloofsbelydenis bely nie, het homself van die kerk vervreem omdat hy homself van die leer van die Skrif, die leer van Christus vervreem het. Die kerk wat die Nederlandse Geloofsbelydenis as haar Belydenisskrif aanvaar, is dan ook geroep om hierdie belydenis te handhaaf en toe te sien dat dit elkeen se persoonlik belydenis word. As ons toelaat dat dinge geleer word wat nie hiermee ooreen kom nie, is ons besig om ons eie belydenis te verlaat en voor te gee dat hierdie belydenis maar ‘n kreatiewe poging van die kerk is om die geloof te omskryf en dat dit nie noodwendig die leer van Christus is nie. Hoe heerlik en goed en noodsaaklik is dit om te bely. En, om dit saam te mag doen! Om sodoende waarlik kerk te wees: “Ons glo en bely ‘n enige katolieke of algemene kerk, ‘n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo”. Kyk art 27 NGB. Die leer van Christus bind die ware gelowiges in Sy kerk saam. Ja, ALMAL saam!
God leef! NGB Artikel 1 (2)
Die doel van hierdie opsomming
Ons lees in artikel 1 ‘n opsomming van die eienskappe van God. Die doel daarvan is nie om ‘n dooierige opsomming te gee nie. Dit gaan daarom dat jy onder die indruk van die HERE se grootheid begin kom. Dat dit jou tot die lof van God bring. God, wat baie meer as jyself, as die hele skepping saam is. Dit moet ons bring tot die lofsang vol bewondering en aanbidding van God: “O, Diepte van rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!
Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees. Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Rom 11:33-36)
Enkelvoudige geestelike Wese
Die woord “enkelvoudig” wys daarop dat in God geen teenstrydighede is en kan wees nie. In Hom is daar niks wat stry nie. Ook nie tussen die drie Persone, die Vader, die Seun en die Heilige Gees nie. Hierdie enkelvoudigheid van God bewys en onderstreep sy betroubaarheid. God is ook geestelik. Die Here Jesus sê van God o.a. dit: “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” (Joh 4:24)
Die geestelikheid van God sê twee dinge van Hom:
a.Die HERE is die bron van alle lewe. Hy skep met Sy Gees alles wat leef. Dink aan Psalm 104:30: “U stuur U Gees uit, hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut.”
b.Die HERE is nie liggaamlik nie. Hy is anders en meer as alles wat ‘n mens hier op aarde sien. Ons kan God daarom ook nooit in ‘n beeld vasvang nie. Hy leef en is die God wat leef.
Ewig
Ons moet hierdie woord anders verstaan as wat ons normaalweg met “ewige lewe” bedoel. Die bestaan van elke skepsel het ‘n begin. So is dit nie met die HERE die geval nie. As ons van God se ewigheid praat beteken dit dat Hy sonder begin en sonder einde is. Moses bely dit in Psalm 90 so: “Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God.” (vers 2). God staan bo die tyd. Ook daarvan skryf Moses in Psalm 90: “Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister wat verbyskiet en soos ‘n nagwaak. Kyk ook 2 Petrus 3:8.
Onbegryplik
Dit is nie so dat ons die HERE nie kan ken nie. Hy laat Homself juis deur die Bybel ken. Ons mag in die verbond juis met Hom as ons Vader omgaan. Die woord “onbegryplik” wys daarop dat die HERE se wysheid meer is as dit wat ‘n mens kan bevat. Die HERE doen dinge wat nooit in ons verstand en hart kan opkom nie. Twee voorbeelde daarvan - as dit om die manier van verlossing gaan - vind ons in Jes 55 en 1 Kor 2. “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.” (Jes 55:8,9). Ons lees in die Nuwe Testament: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. Maar God het dit aan ons deur Sy Gees geopenbaar; want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God.” (1 Kor 2:9,10)
Onsienlik - oneindig
God is soveel meer en anders as ons. Ons kan Hom met ons oë nie sien nie. Mense het God gesien as Hy Homself vir hulle sigbaar gemaak het. ‘n Voorbeeld daarvan is as God Homself aan Abraham vertoon. Hy verskyn dan aan Abraham in die gedaante van ‘n mens. Kyk Genesis 18: 1,2. Ook Abraham het die HERE egter nie in Sy volle heerlike Wese gesien nie. Geen mens op aarde het die HERE so gesien nie: “wat alleen onsterflikheid besit en ‘n ontoeganklik lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, aan wie toekom eer en ewige krag. Amen.” (1 Tim 6:16). Die woord “oneindig”- wat later in ons artikel genoem word - wys veral daarop dat die HERE altyd sonder einde bly bestaan.
Onveranderlik
Wat beteken dit dat God onveranderlik is? Beteken dit dat Hy ‘n harde God is? Beteken dit dat Hy geen hart vir mense het nie? Somtyds dink mense so, maar so is die HERE nie. Hy is nie hard nie. Sy onveranderlikheid beteken dat Hy Hom aan Sy Woord hou. As die HERE Hom aan Sy Woord hou is dit altyd goed en regverdig. Sy onveranderlikheid staan teenoor die leuen en onbetroubaarheid. Omdat die HERE die enigste God is behoort by Sy onveranderlikheid ook dat Hy doen wat Hy gesê het. Kyk o.a. Jak 1:17.
Almagtig
Die beste omskrywing van hierdie woord is: Die HERE kan alles wat Hy wil. Niks kan Hom hinder by die uitvoering van Sy plan nie. Die duiwel en die dood kan Hom nie teëhou nie. Ons sien dit as die Here Jesus in die graf lê. Die dood kan Hom nie in die graf hou nie. Die dood kan Hom nie vashou nie. Hy staan uit die dood op. Hý is die oorwinnaar en nie die dood of die duiwel nie. Die Bybel is vol van allerhande gebeurtenisse waar ‘n mens die HERE se almag so duidelik sien. Dink maar aan allerhande wonders wat die HERE gedoen het. Dink ook aan Sy heerlike werk waardeur Hy in ses dae die aarde geskep het.
Alleroorvloedigste fontein
Alles wat goed is kom van die enigste God. Sy volkome wysheid, regverdigheid en goedheid sorg daarvoor dat dit wat van Hom kom, goed is. Dit kan nie anders as goed wees nie. Sy volkome wysheid sorg daarvoor dat God alles deursien en alles oorsien. As Hy iets doen, dan is dit daardeur altyd op die regte oomblik en op die regte plek. Die HERE is die alleenwyse God. (Rom 16:27). Egte regverdigheid is dit wat volgens God se reg goed is. As jy wil weet wat werklik reg of verkeerd is moet jy by God wees. As mense gestraf word, of as ons vanweë die gevolge van die sondeval hartseerdinge meemaak, is dit regverdig. Die HERE is regverdig in Sy dade van verlossing en van oordeel. Hy red die gelowiges volgens reg. Die Here Jesus moet die straf dra, dit vra God se regverdigheid. ‘n Ander manier van verlossing is nie volgens God se reg nie. Kyk Rom 3:25.26. Die moeites in hierdie wêreld, dood en ellende, is hier volgens God se reg. Die HERE het dit al in Gen 2:17 aangekondig. Die HERE is goed. Die hele skepping was goed. Kyk Gen 1:31. Goed omdat dit Sy skepping is. Ná die sondeval is elke ding wat volgens God se reg is, wat aan die doel beantwoord, ‘n geskenk van God. Ons lees dit in Jakobus 1:17: “Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie geen verandering of skaduwee van omkering is nie.”
Ds. Rob Visser