Artikel 14 Nederlandse Geloofsbelydenis: Wie is die mens?
Wie is die mens?
Artikel 14: Nederlandse Geloofsbelydenis
Wie is ons?
Wat is die mens se plek in die hele skepping? Is hy die baas? Kan die mens die hele skepping beheer en bestuur? ‘n Mens hoor somtyds uitsprake wat hierdie indruk wek. Dit is waar dat die mens se kennis geweldig vermeerder het. Die mens is tot baie in staat. Mense dink somtyds dat hulle die geheim van die lewe kan ontdek en dan uit dooie materie self vir nuwe lewe kan sorg. Mense wat net op hierdie ontwikkelings let, het die gedagte dat die mens al hoe meer die koning van die skepping is. As die mens genoeg tyd kry, bestaan volgens hulle die moontlikheid dat die mens die hele skepping kan beheer. Is dit die tipe ontwikkeling wat dan daarvoor sorg dat die mens weer as beeld van God gaan funksioneer? Kan die mens homself daartoe ontwikkel?
Dit is waar dat ‘n mens baie kan doen. Die HERE self het vir ons gesê dat die mens in die loop van die geskiedenis tot groot hoogtes sal kom. Hy kan dinge gaan doen waardeur mense begin dink dat dit net van God kan kom. Hy kan dan dinge doen waarvan mense vroeër oortuig was dat net God of gode daartoe in staat was. Ons lees van die dier wat uit die aarde opkom in Openbaring 13:13,14: “Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om te doen om voor die oë van die dier te doen”.
Is die mens besig om al hoe meer te ontwikkel, al hoe meer tot God se beeld te evolueer? Is die mens daarnatoe op pad om soos God te word? Ons kry in art 14 van die NGB die baie duidelike antwoord op hierdie vrae en gedagtes.
God het die mens goed gemaak
Die eerste wat ons moet sê is dat alles buite God, skepsel is en skepsel bly. Die HERE is God. Hy is die enigste God. Hy bly ook vir ewig die enigste God. Dit is ook Hy wat die mens geskep het. Nou sien ons al dadelik in Genesis 1,2 dat iets aan die mens baie spesiaal is. Die eerste waaraan jy dit sien is dat ons slegs van die méns lees dat hy volgens God se beeld en gelykenis gemaak is. Die HERE gee aan die mens by die skepping dan ook baie spesiale aandag. By die skepping van die mens sien ons hoe die HERE met die mens op ‘n baie meer persoonlike manier besig is as met die ander skepsels. Ons lees dit wanneer Adam as die eerste mens geskep word: “En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het die mens ‘n lewende siel geword.” 2:7.
Dit is die HERE self wat Sy asem in die eerste mens blaas en op hierdie manier aantoon dat die mens en sy nakomeling in ‘n besondere verhouding met Hom staan.
Dit val ook op dat ons steeds by die skepping hoor: God het gesê. As dit om die mens gaan, lees ons die naam HERE. Dit wys op die vertroulike omgang wat die mens met God in de verbond mag hê.
Die spesiale aandag van die HERE vir die mens sien ons ook raak wanneer die HERE al die diere na Adam bring om hulle name te gee. God se bedoeling daarmee was om Adam te laat ontdek dat hy in teenstelling tot al die diere alleen was. Die HERE wil so in Adam die verlange na ‘n vrou wek.
Ook by die skepping van Eva op dieselfde dag sien ons weer die besondere aandag van God vir die mens. Dit is God wat dan Eva uit ‘n rib van Adam maak. Die mens is vir God die kroon op Sy skepping. Ons mag in ‘n besondere, vertroulike verhouding met die HERE leef. Ons het die posisie van beeld van God op aarde ontvang. Die mens word geroep om vanuit die vertroulike verhouding met die HERE, God se beeld op aarde te vertoon. Die skepping behoort in die mens, in die manier waarop hy leef, werk en regeer, te kan sien hoe God is. Dit is die mens se taak op aarde. Hy is God se onderkoning op aarde. Wanneer dit om die beeld van God gaan, lê die klem in Art 14 veral daarop dat die mens “goed, regverdig en heilig” geskep is.
Hierdie woorde herinner o.a. aan Efese 4:22-24 waar ons die volgende lees: "dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuut moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.”
Ons sien hier hoe Paulus vanuit die verskriklike werklikheid van die sonde skryf. Hy wys dan daarop hoe ‘n mens deur Christus weer tot die beeld van God vernuwe word. Net deur Christus kan jy weer lief word vir dit wat reg en heilig is. Net deur Hom kan jy weer God se beeld gaan vertoon. Waarop dui dit - as dit gaan om die mens wat die HERE in die begin gemaak het? Dat die HERE ons só gemaak het dat ons geweet het wat reg en heilig is. Hy het ons só gemaak dat in ons geen verlange na die verkeerde was nie. Hy het selfs so in liefde na ons toe gekom dat Hy vir ons vertel het wat verkeerd is. Die enigste wat die mens verkeerd kan doen is om van die een boom, die boom van kennis van goed en kwaad, te eet. Die HERE laat nie toe dat ons onwetende iets sou doen wat ons in die verderf sou stort nie. Nee, die HERE kom as die liefdevolle Vader na Sy kind en vertel vir hom dat hy nie van daardie boom moet eet nie. Die HERE het die mens werklik goed geskep sonder dat daar iets was wat móés veroorsaak dat hy in die kwaad val. Die Vader het ook Sy Vaderliefde en betroubaarheid vir die mens gewys. Die mens het alle rede om die HERE, sy Skepper, te vertrou. Artikel 14 stem daarom volledig met die Bybel ooreen wanneer ons bely: “sodat die mens met sy wil in alles met die wil van God kon ooreenstem.” Dit was vir die mens op geen enkele manier nodig om te sondig nie. Die HERE het ons werklik op ‘n pragtige manier as kroon op Sy skepping gemaak - as die skepsel wat in alles geskik is om as Sy verteenwoordiger oor die aarde te regeer.