DEUR GELOOF HABAKUK 2:4

29-06-2015 09:12

DIE SKYNSEL VAN DIE WOORD

 

“MAAR DIE REGVERDIGE, DEUR SY GELOOF SAL HY LEWE”

Habakuk 2:4

 

DEUR GELOOF!       

 

Hoe belangrik is dit om te verstaan wat geloof is. Ons kry in die 21e eeu in ons geliefde land met so baie dinge te doen wat teenoor die geloof staan. Dan kom skielik die vraag: Kan ons op hierdie punt nog vanuit geloof leef?  Is lewe vanuit die geloof  nog  genoeg  vir ons tyd?  Is ons geloof nie te outyds vir die 21e eeu nie? Pas die geloof nog by die post-moderne tyd? Moet ons nie leer om op ‘n post-moderne manier te glo nie? Moet ons nie saam met Ben du Toit [1] op ‘n post-moderne manier oor God leer dink nie?

Hoe belangrik is dit om juis vandag  weer vaste grond onder ons voete te kry. Die vaste grond het in die post-moderne manier van denke  heeltemal verdwyn.  Elke mens het in hierdie manier van denke sy eie siening. Elkeen het iets van die waarheid maar niemand weet seker wat die waarheid is nie. Ons vraag is nou of dit in ooreenstemming is met wat die Heilige Gees ons in die Bybel leer. Is dit in ooreenstemming met wat Christus, wat van Homself sê dat Hy die weg, die waarheid en die lewe is (Joh 14:6), ons leer?  Is dit in ooreenstemming met God se woorde waarvan ons in Psalm 12, in teenstelling van die woorde van mense (kyk vs 2,3) die volgende sê: “Die woorde van die HERE is rein woorde, silwer wat gelouter is in ‘n smeltkroes in die aarde, gesuiwer sewe maal. U, o HERE, sal hulle bewaar”. Vs 7,8a

 

Waar bly God se regverdigheid?  

 

Ons weet van die profeet Habakuk niks anders as dit wat ons in die boek wat hy geskryf het, lees nie. Die profesie wat die Gees deur hom laat bring, klink baie algemeen. As ‘n mens die hele boek Habakuk lees is dit duidelik dat die Ryk van die Chaldeërs, van Babel besig is om op te kom. Dit lyk daarop dat Babel hom as wêreldmag begin ontplooi maar hulle het Juda nog nie verower nie. As ‘n mens lees wat die sondes is waarin Juda lewe lyk dit die mees waarskynlike dat ons moet dink aan die tyd van omtrent 15 jaar voor Jerusalem se verwoesting.

Dis die tyd waarin Jojakim koning is en Daniël en sy vriende na Babel gevoer word. Habakuk is dan een van die min onder God se volk wat regtig met die HERE lewe.

Juis omdat hy een van die min gelowiges onder God se volk is, juis omdat hy onder so baie ongelowiges in die kerk lewe, verstaan Habakuk die pad wat die HERE op daardie oomblik met Sy volk gaan nie.

As Habakuk rondom hom kyk, sien hy baie afval van die HERE en Sy diens. Dit gaan met die volk, waarvan die meerderheid nie die HERE in liefde dien nie goed nie. Hoe is dit moontlik  dat ‘n volk welvaart ervaar wat die HERE nie dien nie? Waar is God se straf? Waar het Sy regverdigheid gebly?!

Habakuk kom met hierdie klag by die HERE. Die HERE gee vir Habakuk die antwoord dat Sy regverdige oordeel  aan die kom is. Hy vertel dat dit die Chaldeërs, die Babiloniërs is wat hierdie oordeel oor Juda, sal voltrek.

 

Hoekom word die gelowiges ook getref?

 

Habakuk weet nou dat die HERE Sy Woord,  Sy verbond hou. Nogtans besorg dit vir hom weer nuwe vrae. Hoekom? Omdat die HERE vir hom gesê het dat deur die Babiloniërs  elke lidmaat van die kerk getref sal word. Sowel die ongelowiges as hulle wat nog altyd naby die HERE lewe. Habakuk se groot vraag is nou: Hoe kan dit met God se regverdigheid ooreenkom? Daarom hoor ons Habakuk vir die HERE in 1:13 sê: “U, wat rein is van oë om die kwaad aan te sien en die onreg nie kan aanskou nie – waarom aanskou U die trouelose, swyg U wanneer die goddelose die verslind wat regverdiger is as hy?”

Habakuk kry ook op hierdie indringende klag van die HERE antwoord. Hierdie antwoord beheers die hele boek Habakuk. Hierdie antwoord het ook altyd weer ‘n belangrike plek in die lewe van Christus se gemeente ingeneem. Die antwoord lees ons in 2:4: “Kyk, sy siel is opgeblase in hom en nie reg nie. Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe.”

Dis die antwoord wat die HERE gee. Hoe kan dit so wees?  Want dit lyk asof dit eintlik geen antwoord is nie. Die HERE verantwoord, regverdig Hom nie teenoor Habakuk oor Sy dade nie. Hy lê nie vir Habakuk uit hoekom Sy oordeel sowel goddeloses as regverdiges sal tref nie. Die HERE lê vir ons nie uit hoekom dit nie op ons plaas reën terwyl ons in liefde vir Christus lewe en Hom steeds weer om reën smeek nie. Die HERE verklaar nie vir ons hoekom dit onder Sy leiding gebeur dat geweld en misdaad en ‘n toename van afkeer van die HERE en Sy Woord  ons tref nie.

Die HERE sê vir jou en my: “Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe.” Hierdie antwoord beteken: My kind Habakuk,  my gelowige kind jy het groot vrae in jou hart. Ek sê as jou God en Vader vir jou: Ek sal regverdig wees in My oordele. Hoe anders dit ook in jou oë lyk. Hoe anders dit ook lyk as ook die gelowige deur God se oordeel  getref word. Hoe dit ookal lyk nogtans word die gelowige nie dodelik getref nie, hy bly deur My goedheid juis lewe. Die HERE se antwoord bring rus in Habakuk se lewe. Hy kan nou nog allerhande dinge nie verstaan nie maar nogtans kan hy die HERE in ‘n gebed weer loof en prys. Hy kan later selfs sing: “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie – nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil. Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos die van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes.”  3 :17-18

Dit is woorde wat die Heilige Gees op die lippe van God se volk, van die regverdiges gelê het. Dit is nie net woorde vir Habakuk in sy omstandighede nie. Hierdie woorde en die hele hoofstuk 3 is selfs woorde wat die Gees gegee het om in die tempel te sing. Om dit steeds weer te sing. Ons lees naamlik in 3:19: “Vir die musiekleier op snaarinstrumente.”

 

Die “nogtans” van die geloof   Habakuk 3:18

 

As ons na die omstandighede kyk waarin ons leef.  As ons dink aan al die geweld, aan die honger wat baie mense in die Suidelike deel van ons wêrelddeel tref.  As ons dink aan die krisis in die kerk wat op allerhande terreine kop uit steek. As ons daarop let hoe mense van die sogenoemde “Nuwe Hervorming”[2] studente by teologiese skole oplei en hulle dwalleer leer. As ons sien hoe die afval en verwarring in die kerke al hoe meer toeneem. As jy al hierdie dinge raaksien, kan jy dan die HERE mog loof en prys? Kom jy dan nog kerk toe om regtig die HERE te dank vir wat Hy vir jou gegee het? Of is jy  opstandig teenoor die HERE? Of is daar net onsekerheid en worsteling in jou hart?

Hoe moeilik dit ookal is,  hoe Habakuk se  hart en gevoelens ook in opstand wil kom nogtans weet  hy:  hierdie jubel, hierdie blydskap sal  in my lewe wees. Hoe weet hy dit? Dink hy nie te hoog van homself nie?  Vertrou hy hier nie op homself nie? Vertrou  hy nie teveel daarop dat hy in eie krag ‘n gelowige sal bly nie?

Nee, want Habakuk weet dit op grond van dit wat die HERE gesê en belowe het. Hy het met Sy gesag gesê: “Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe.” Habakuk weet in vertroue op die HERE dat hy ook in die grootste materiele en geestelike  nood  die HERE nog sal dank en loof. Dan sal hy nog jubel en juig in die God van sy heil, sy verlossing. Habakuk mag weet dat die HERE Sy Woord, Sy belofte waarmaak. Die geloof en die bly bestaan van die kerk is gelukkig nie van ons kragte, van ons  geloof afhanklik nie.  Die geloof is God se geskenk wat die HERE vir Sy kinders gee en in stand hou. Kyk o.a. Efese 2:8 en hoofstuk 5 van die Dordtse Leereëls.

Ons lees van die jubel en juig in die HERE terwyl die omstandighede vir ‘n mens en vir die kerk so moeilik is ook in die Nuwe Testament .Dink maar aan Paulus en Silas. Omdat hulle van die Here Jesus as die Verlosser getuig het, word hulle in Filippi in die tronk gegooi. Hulle kry nie anders as water en brood nie. Hulle is in die binneste sel opgesluit. Ondanks dit dank  en loof hulle  vir die Here  in die donker sel. Ons lees van hulle: “En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing; en die gevangenes het na hulle geluister.” (Hand 16:25)

Paulus skryf self in Romeine 8:38.39: “Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.”

Wat is nodig om regtig vol moed en verwagting te kan lewe? Dit is God se liefde en trou, dit is die verlossing deur Christus alleen.  Die verlossing deur Christus is dit wat ons nodig het om met diepe dank en met verwagting te leef en in Christus se kerk te werk. As Christus vir jou die belangrikste is, het jy die antwoord of jy in die mees moeilike omstandighede dankbaar en gelowig sal bly.

Wie die HERE as sy Vader ken deur Christus se offer aan die kruis, is vir sy geloof nie afhanklik van welvaart, van veiligheid, van ‘n goeie oes,  van ‘n salaris van 100.000 rand, van ‘n kerk waar geen stryd vir die waarheid gestry hoef te word nie.

So’n mens het geleer,  en hoe moeilik is dit!,  hoe groot is in daardie omstandighede die aanvegtings, dat elke asemteug God, dat elke dag in geloof leef  God se geskenk is. So’n mens het deur God se werk aan en in hom geleer dat elke dag van sy lewe op aarde in geloof niks anders as genade is nie. Omdat jy dan van elke asemteug mag weet dat Christus daardie asemteug vir jou verdien het. Enige oomblik dat jy leef het Christus dan ook geheilig, skoongewas sodat daaroor God se ewige oordeel nie oor jou sal kom nie.

Dan leer ‘n mens om steeds na die HERE op te sien, alles van Hom te verwag. Dan leer jy om op die God van jou heil te bou. Om saam met die profeet Miga te bely: “Maar ek sal uitsien na die HERE,  ek wil wag op die God van my heil, my God sal my hoor.” (7:7)

Dan lê die diepste grond vir jou dankbaarheid vandag nie in goeie of maklike omstandighede nie. Dan lê dit in jou lewe met jou God, in jou lewe van die vergifnis en liefde wat Christus vir jou verdien het.

Die “nogtans” van die geloof sorg daarvoor dat  die gelowiges wat in Christus se bloed geregverdig is ondanks groot hartseer en probleme nooit definitief op moedverlore se vlakte kom nie. Dit beteken ook dat die gelowige leef. Hy lê nie onder die vloek van die ewige dood nie. Hy is ‘n deur Christus verloste mens. Die regverdige leef deur die geloof. Dit beteken ook dat hy nie alleen afwag nie. Die geloof maak hom nie tot ‘n mens wat sê: Dit is in die kerk vandag so erg en moeilik, daar is so baie afval maar ek kan niks doen nie. Ek moet net op die HERE wag.

Laat ons bedink dat die HERE self sê dat die regverdige deur die geloof leef. Dit beteken dat hy bid en werk.  Dit beteken dat ek en jy in alle omstandighede gehoorsaam aan Christus en Sy Woord wil leef.  Ons kry daarvan pragtige voorbeelde in Hebreërs 11. Ek wil nou nog op enkele sake in hierdie hoofstuk wys.  Ek doen dit vanuit  Hebreërs 11:1.

 

Geloof vaste hoop

 

Die  geloof is 'n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop.  Geloof het alles met hoop te doen. Wanneer 'n mens dit hoor is die groot vraag:  Wat is hoop?  Waar hoop jy op? Hoe kan  'n  mens  hoop  sekerheid noem?  Want hoop kan tog geen sekerheid  wees  nie?   Wanneer 'n mens iets hoop is daar tog  altyd  onsekerheid?!   Ons  hoop  word  tog  baiekeer  geen werklikheid nie?! Let daarop hoe verder in hierdie hoofstuk juis op hierdie element klem gelê word. Kyk: vs 13,39,40

 Hoe kan geloof in ons teks 'n vaste vertroue, sekerheid genoem word?  Omdat die hoop waaroor in ons teks gepraat word nie  onseker  is nie.  Hoekom word dit nogtans hoop genoem?

Dit  word  hoop  genoem omdat dit om sake gaan wat ons nog nie sien nie, wat nog nie aanwesig is nie. Dit gaan om iets wat nog moet kom.  Dit gaan om wat God se kinders in Sy belofte al het.  So praat die HERE ook in Romeine 8.  Wanneer ons  daar van die verlossing van die liggam lees,  lees ons in vers 24:  "Want ons is gered in hoop;  maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog?"

Waarop  is  die  hoop van God se kind,  van 'n leerling van Christus eintlik gebou? Op wat die HERE self gesê en gedoen het! Hierdie hoop is gebou op wat die HERE self belowe het. Dan  kan  dit  sekerlik gebeur dat ons vir onsself bepaalde dinge in die verste verte nie kan inbeel nie. Nogtans is dit  vir  ons  seker  omdat God dit gesê het.  Omdat Hy die Almagtige  is  wat  selfs nie kan lieg nie.  (kyk o.a. Hebr 6:17-20) Let daarop wat die laaste verse van Hebreërs 11 sê: “En alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte nie verkry nie, omdat God iets beters oor ons beskik het, sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie.”

 Die  geloof  in Jesus Christus is geen dam waarin die water stilstaan  en  wat  altyd dieselfde hoeveelheid water bevat nie.   In  'n  mens  se lewe,  in die lewe van Christus se gemeente kan die geloof groei,   kan die geloof ook swakker en swakker word.  Ons geloof, ook ons gehoorsaamheid aan Christus sal  groei wanneer ons  al hoe meer die hoop sien wat in God se beloftes vaslê.  Ons sien  al hoe meer die inhoud  wat  die HERE belowe het raak.  Hierdie inhoud ontdek 'n  mens  al  hoe  meer wanneer hy persoonlik of saam met die gemeente vol belangstelling en liefde  die Bybel lees.  Dan leer ons  al hoe duideliker en ryker om die hoop te sien wat die HERE vir  die  gelowiges  gegee  het.

 

Geloof  die bewys

 

Die geloof dan is ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.

Die  eerste en die tweede deel van Hebreërs 11:1 vul mekaar aan. Ons  het  die  Vader,  die Seun en die die Heilige Gees nog nooit  met  ons  eie  oë  gesien  nie.  Ons het die toekoms  waarin  die  Nuwe  Jerusalem  op die aarde sal neerdaal nog nooit  gesien  nie.  Ons het die stad wat fondamente het en  waarvan  God die boumeester en oprigter is nog nooit gesien         nie.   Nogtans  het ons die bewys in hande dat God bestaan, dat  hierdie stad kom,  dat die dinge wat God beloof het, werklikheid is en werklik sal kom. Die bewys is die geloof.

Dis  nie beslissend dat ons dit met eie oë sien nie want die geloof is die bewys.  Dit was ook so by die Kanaanitiese vrou wat by Jesus kom. Sy vra vir Jesus om haar dogter te genees. Ook wanneer die Here Jesus  geen  antwoord  op haar vraag gee nie en later selfs sê  dat Hy in die eerste plek vir die Jode gekom het, bly sy glo dat  Jesus haar dogter  kan  red  en  genees.  Sy bly in Sy krag as die Verlosser  glo.  Al moet sy van die krummels eet.  Dit maak  vir haar nie saak nie.  Die belangrikste vir haar is dat sy by  Christus wil behoort.  Die belangrikste vir haar is dat Jesus  Christus  haar  lewe en haar dogter se lewe sal red.

Dan sê die Here Jesus:  "o Vrou,  groot is jou geloof; laat  dit vir jou wees soos jy wil hê." (Mat 15:28)  Hierdie vrou het  bly  glo  dat Jesus wat die beloofde Verlosser is haar dogter  kan  genees.  Haar vertroue,  haar geloof word voor haar oë werklikheid.

Ook  vandag  geld wat Jesus na Sy opstanding vir Tomas gesê  het:   "Salig  is  die  wat nie gesien het nie en tog geglo het." (Joh 20:29)

Wie in Christus glo sal eendag die heerlike toekoms vir hom en al die gelowiges sien.  Dit self voel. Die geloof is van  hierdie  werklikheid  die  bewys.   Dit is daarom dat Paulus in 1 Kor 13:13 kan skryf dat van geloof, hoop en liefde, die liefde die grootste is. Geloof in die sin dat dit die vaste vertroue op God se belofte is wat werklikheid sal word, sal eendag verdwyn omdat die werklikheid dan gekom het!

Die geloof is die sekerheid dat al God se woorde vas en seker is.  Dit gee die krag om blind vir die toekoms Christus volgens Sy Woord te volg. Dit maak ‘n mens aktief in die volg van die HERE. Dan leef jy deur geloof, dan leef jy vir die HERE. Dan leef jy in liefde vir Christus vir die reformasie van jou lewe en vir die reformasie van Christus se kerk. Deur geloof alleen weet jy dan dat die post-modernisme regtig dwaalleer en nonsens is. Christus en Sy Woord is die waarheid en daarop rig die ware geloof jou.  Dan sien jy so helder God se lig en staal jy dit uit!

 

Rob Visser 

 



[1] du Toit, Ben. 2000   God? Geloof in ‘n posmoderne tyd. Bloemfontein: CLF-Uitgewers  

[2] Kyk vir die idees van die Nuwe Hervorming veral: Muller, Piet e.a.  2002  Die Nuwe Hervorming. Pretoria: Protea Boekhuis.