DIE KERK IS CHRISTUS SE GEMEENTE
Jy vind hieronder 2 artikels van amper 10 jaar gelede:
DIE KERK IS CHRISTUS SE GEMEENTE (I)
Enkele opmerkings by die tema: Die kerk in die Skrif
Inleiding
23 en 24 September 2004 is in die Kaap ‘n konferensie gehou waarvan die tema die kerk was. Hierdie konferensie is bygewoon deur mense uit verskillende kerke wat die 3 Formuliere van eenheid aanvaar as Belydenisskrifte wat volledig met God se Woord in ooreenstemming is. By hierdie geleentheid het ek die volgende lesing aangebied wat in twee dele in Kompas verskyn.
As ‘n mens die opdrag kry om oor die kerk in die Bybel te praat, moet ‘n keuse gemaak word. Ek het daarvoor gekies om veral op die gemeenskap van die HERE met Sy volk te fokus. Die gemeenskap tussen die Seun van God en Sy kerk. Juis in ons tyd is dit baie belangrik om daarop te let. As ons vra wat die kerk is, is ook vir die kerk van die grootste belang wat Christus, wat Sy kerk vergader in Joh 15 sê: “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie. As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry. Hierin is My Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal My dissipels wees.”
Die kerk is die volk van God wat Christus se leerlinge met hart en mond is, hulle wat saam in gemeenskap met Hom leef. Ons wil daarop en op sekere elemente daarvan nou let.
Bestaan die kerk al in die Ou Testament?
As ons van die kerk praat is ons baie geneig om eintlik net aan die tyd van die Nuwe Testament en daarna te dink. Mense is geneig om van Christus se kerk en van Israel te praat. Die tyd van die Ou Testament en die volk Israel sou dan tog nog iets anders as Christus se kerk wees. Ons praat somtyds van die gemeente in Jerusalem na die Pinsterdag as die eerste Christelike kerk. Nogtans is die manier van sê nie die regte een en veroorsaak verkeerde gedagtes.
Ons moet altyd weer bly bedink dat Christus se kerk nie in of na die Nuwe Testament begin nie. Die Seun van God het die kerk by Adam en Eva begin vergader. Dit is ook wat ons as gereformeerdes op grond van God se eie Woord bely. Ons bely in Sondag 21: “Wat glo jy van die heilige algemene Christelike kerk? Dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom ‘n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is, deur Sy Gees en Woord in die eenheid van die ware geloof van die begin van die wêreld af tot die einde toe vergader, beskerm en onderhou en dat ek daarvan ‘n lewende lid is en ewig sal bly.”
As ons die geskiedenis van Christus se kerk wil onderskei is dit beter om dit so te doen:
1. Die Seun van God vergader Sy kerk uit die hele mensheid. Genesis 1-11.
2. Die Seun van God vergader Sy kerk veral uit Israel om uit Israel die Verlosser te laat voortkom. Genesis 12 – Handelinge 1
3. Die Seun van God vergader Sy kerk weer uit die hele mensheid vanaf Handelinge 2 tot Christus se wederkoms.
4. Christus se kerk is vergader en leef op die nuwe hemel en aarde.
Hulle het die Naam van die HERE begin aanroep.
Die kerk is nie die optelsom van die individuele gelowiges nie. Dit is nie individuele gelowiges wat los van mekaar staan en bly staan nie. Die HERE gee die gelowiges as Sy volk ‘n plek op hierdie wêreld. Ook na die sondeval. Dan het die kerk ‘n plek gekry in ‘n wêreld wat vyandig teenoor God staan. Juis dan het die gelowiges dit ook so nodig om vanuit die band van liefde met die HERE saam te staan.
Die eerste keer dat ons in die Bybel lees dat dit gebeur is in Gen 4:26: “En ook vir set is ‘n seun gebore, wat hy Enos noem. Toe het hulle die naam van die HERE begin aanroep.”
Ons moet bedink dat dit hier gaan oor die tyd na die sondeval. Die teenstelling tussen hulle wat die saad van die vrou en hulle wat die saad van die slang is gaan nou sigbaar word. Die wêreld het ‘n plek geword waar juis die gelowiges met groot teenstand van ander mense te doen gaan kry. Die mens wat glo word deur vyandskap bedreig. Die mens wat glo het van homself nie die krag om teenstand daarteen te bly bied nie. Set bely dit in die naam wat hy aan een van sy seuns gee. Set ontvang van die HERE ‘n seun en hy noem hom Enos. Hiermee bely Set sy geloof en afhanklikheid van die HERE. Die naam Enos wys op “swakheid en broosheid”. Hoe anders is dit as Lameg se gebral. Die slang se saad wys in hulle ontwikkeling hoe hulle al hoe meer op hulleself begin vertrou. Die vrou se saad, God se volk bely eie swakheid en verwag beskerming, toekoms en verlossing van die HERE.
Die laaste deel van vers 26 wys dit: “Toe het hulle die Naam van die HERE begin aanroep.” Die deel van die mensheid wat op die HERE bly vertrou het, soek nou saam God se hulp. Hulle kom saam om die Naam van die HERE aan te roep. Hier lê die begin van die eredienste waar God se volk op ‘n God vyandige wêreld saamkom. Dit gaan hier oor die gesamentlike aanroep, aanbid van die HERE. Ander voorbeelde van die openbare en gesamentlike aanbidding van die HERE in die boek Genesis is: 12:8;13:4;21:33;26:25.
Die saad van die slang laat al hoe meer die reg van die sterkste heers. Die vrou se saad aanbid gesamentlik die HERE en vertrou in eie swakheid op die Almagtige. As ons op die eerste hoofstukke van die boek Genesis let, val dit op dat mense met die HERE gepraat het as Hy na hulle toegekom het en met hulle begin praat het. Kyk 3:8-19; 4:6-15. Nou het die gelowiges gesamentlik en openlik begin om deur gebed ook met die HERE te praat terwyl Hy nie eers hoorbaar na hulle toegekom het nie. Die opvallende in Genesis 4 is ook dat ons hier lees hoe die geslag van Kain, die afvallige deel van die mensheid, sy krag veral in uitvindings en in die ontwikkel van nuwe dinge soek. Dink aan die uitvindings van Jabal, Jubal en Tubal-Kain. Dit is nie die kenmerkende van Set se geslag nie. Van hulle lees ons dat hulle hul krag juis in die band met die HERE, in die gebed tot Hom, in die gemeenskap met Christus soek.
Nehemia 13:1-3
Een van die woorde wat in die Ou Testament in verband met die vergadering van die kerk gebruik word is die qehal. Hierdie woord hang met die werkwoord qahal saam. Hierdie werkwoord wys daarop dat iemand roep, iemand roep saam. Die vergadering, die qehal is die resultaat van die saamroep. Mense het gehoor aan die oproep gegee en het saamgekom en ‘n vergadering gevorm. Ons lees verskillende kere in die die Ou Testament van die qehal Jahwe.
As dit daarom gaan hoe die gelowiges in die geskiedenis kerk behoort te wees is en wie deel van die kerk mag wees, is dit wat ons in Nehemia 13:1-3 baie belangrik.
Ons vind in hierdie gedeelte ‘n duidelike toepassing van Deuteronomium 23. Die ballinge het terugkeer en die mure van Jerusalem is herbou. Nou die herbou van Jerusalem se mure klaar is, word dit feestelik gevier en dank die volk die HERE.
By hierdie geleentheid word ook uit die Skrif gelees. Die gedeelte wat ook gelees is, is Deut 23:1-8. As die volk dit hoor besluit hulle om die mense onder hulle van gemengde bloed uit Israel af te sonder.
Die woorde waar ons aandag op gerig moet wees is: kol-ereb.
Die woord ereb lees ons nog op drie ander plekke in die Ou Testament: Jer 25:20, 50:37; Eseg 30:5. ‘n Ondersoek na hierdie woord op hierdie plekke wys op ‘n aparte groep mense wat mense van verskillende herkoms insluit. Hulle is ‘n aparte groep ten aansien van die volk wat in daardie land sy vaderland het. Daarby kan dit mense van gemengde bloed wees maar dis nie nodig nie. Die groep bestaan as ‘n groep mense wat uit verskillende volke kom. As ‘n mens dit vasgestel het, maak dit ‘n mens voorsigtig om in Neh 13 wel aan die mense van gemengde bloed te dink. Dit lyk baie waarskynliker dat ons hier aan ‘n groep mense moet dink wat bestaan uit mense van verskillende afkoms en steeds weer as ‘n drukgroep in Israel optree. As ‘n mens die boeke Esra en Nehemia lees lyk dit meer daarop dat ons hier met ‘n groep te doen het wat hulle steeds weer vyandelik teenoor Esra en Nehemia opstel.
Wat beteken dit dat hulle uit Israel uitgesonder is?
Ons moet hierby daaraan dink dat hierdie groep van verskillende afkoms, wat hulle steeds weer teen God se weg verset, weggestuur word en nie meer by die volk van God gereken word nie. Dit was veral hulle innerlike houding teenoor die HERE waarmee hulle gewys het dat hulle nie by die HERE en Sy volk behoort nie. Hierdie afsondering beteken nie dat elke persoon wat iewers in sy stamboom ‘n Ammonitiese of Moabitiese vader of moeder het, nie by die volk kon bly behoort nie. Mense uit ander volke wat regtig met hulle hart die HERE saam met die Israeliete wou dien, het saam met Israel die HERE gedien as God se een volk. Voorbeelde daarvan lees ons ook in die boeke Esra en Nehemia.
Esra 6:21: “En die kinders van Israel wat uit die ballingskap teruggekeer het, het dit geëet en elkeen wat hom van die onreinheid van die nasies van die land afgesonder het om saam met hulle die HERE, die God van Israel te soek. Hulle het ook die fees van die ongesuurde brode met blydskap sewe dae lank gehou; want die HERE het hulle verbly en die hart van die koning van Assirië na hulle omgewend, om hule hande te versterk in die werk aan die huis van God, die God van Israel.”
Neh 10:28,29: “En die res van die volk, die priesters, die leviete, die poortwagters, die sangers, die tempelbediendes en almal wat hulle afgesonder het van die volke van die lande tot die wet van god, hulle vroue, hulle seuns en hulle dogters, almal wat enigsins kon verstaan, het by hulle broers, die vername manne onder hulle, aangesluit, en hulle het onder eed en met beswering hulleself verplig om te wandel in die wet van God, wat deur die diens van Moses, die kneg van God, gegee is, en om te hou en te doen al die gebooie van die HERE onse Here, en sy verordeninge en sy insettinge.”
Die afsondering van die groep van verskillende herkoms in Neh 13:3 staan teenoor die afsondering van sekere mense van die volke van die lande in Esra en Nehemia.
Die toepassing van Deuteronomium 23 in Nehemia 13 wys daarop dat dit ‘n toepassing kry wat ‘n beoordeling van die lewe met en vir die HERE bevat. Wie nie die HERE wil volg nie, het geen toegang tot die tempel en behoort ook nie meer by die volk Israel nie. Die gemeenskap met Christus en Hom saam volg volgens Sy Woord is hier dus duidelik die beslissende. Dit is die norm of die kerk met iemand of ‘n gemeente gemeenskap kan oefen.
DIE KERK IS CHRISTUS SE GEMEENTE (II)
Enkele opmerkings by die tema: Die kerk in die Skrif
Wie is 'n skeurmaker?
Ons moet op hierdie vraag 'n duidelike antwoord kan gee. Wanneer het mense skeurmakers geword? Wanneer is 'n afskeiding skeurmakery pleks van reformasie?
Ons kry met skeurmakery te doen as mense hulle eie siening so sterk dryf dat hulle nie meer die verskeidenheid in die kerk wil aanvaar en verdra wat volgens God se Woord verdra moet word. Dis skeurmakery as ons mense in die kerk aan meer wil bind as waar die Skrif ons aan bind. As dit gebeur noem ons dit bo-Skriftuurlike binding. Dis skeurmakery as ons die groep opsoek of laat ontstaan waarby ons ons die beste tuisvoel en ons daarom van 'n ander afstig sonder om te kan sê dat hierdie kerk nie meer op die fondament van Christus, op die fondament van apostels en profete bou nie.
Voorbeelde van hierdie vorm van skeurmakery sien ons o.a. in die gemeente van Korinthe waar groepe rondom die naam en die uitstraling van sekere persone vergader. Paulus skryf daaroor:
"Want dit is aan my deur die huisgenote van Chloë bekend gemaak aangaande julle, my broeders, dat daar twiste onder julle is. Ek bedoel dit, dat elkeen van julle sê: Ek is van Paulus, en ek van Cefas, en ek van Christus. Is Christus gedeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig? Of is julle in die naam van Paulus gedoop? (1 Kor 1: 11-13)
'n Ander voorbeeld van hierdie vorm van skeurmakery sien ons in 'n bepaalde optrede van Petrus. Daarvan skryf Paulus aan die gemeentes in Galasië die volgende:
"Maar toe Petrus in Antiochië gekom het, het ek hom openlik teëgestaan, omdat hy veroordelend gestaan het. Want voordat sommige van Jakobus af gekom het, was hy gewoond om saam met die heidene te eet; maar na hulle koms het hy hom teruggetrek en hom eenkant gehou uit vrees vir die wat uit die besnydenis is. En saam met hom het ook die ander Jode geveins, sodat selfs Barnabas hom laat meevoer het deur hulle geveins. Maar toe ek sien dat hulle nie reguit loop volgens die waarheid van die evangelie nie, het ek vir Petrus in teenwoordigheid van almal gesê: As jy wat 'n Jood is, soos 'n heiden lewe en nie soos 'n Jood nie, waarom dwing jy die heidene om soos Jode te lewe?"
Sien vir die vervolg van hierdie geskiedenis Handelinge 15.
Sodra ons mense gaan bind aan menslike gebruike waaraan God ons nie bind nie is ons met skeurmakery besig.
Bind en ontbind
Baie belangrik vir die problematiek van kerk en verskeurdheid is wat Christus na aanleiding van Petrus se belydenis sê van die sleutels van die koninkryk en die bind en ontbind. Ek wil nou enige aandag aan Mat 16:19 gee. Christus sê daar: "En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees."
Wat is nou die verhouding tussen die sleutels waarvan Christus praat en die bind en ontbind? Is dit so dat Hy daarmee op 2 sleutels wys waarvan een die toegang tot die hemelse Koninkryk oopsluit en die ander die toegang tot hierdie Koninkryk toesluit?
Dis nie die geval nie, want die woorde bind en ontbind het onder die Jode 'n besondere betekenis gehad. Hierdie woorde het by Jesus se leerlinge dadelik 'n sekere gedagte, 'n bepaalde beeld opgeroep. Dis ook die manier waarop hierdie woorde op ander plekke in die Nuwe-Testament gebruik word. Mat 5:19; Joh 7:23; 10:35; Rom 7:2; 1 Kor 7:27,39.
As die Jode ges het dat hulle iets bind of ontbind, het dit beteken dat hulle iets geldig of ongeldig, iets verbindend of nie verbindend verklaar het nie. Die Rabbyne het dan uitgespreek dat 'n sekere leer, uitspraak of lewenstyl reg of verkeerd was.
Petrus en die ander leerlinge en daarna die ampsdraers en Christus se kerk in die geheel word geroep om te bind en te ontbind.
Hoe gaan Petrus en die ander apostels dit doen? Dis op die oomblik dat Jesus hierdie woord uitspreek nog toekomsmusiek. Dis musiek wat verseker werklikheid gaan word. In Mat 16:19 word nog die woord sal, die toekomende tyd gebruik. Voordat dit werklikheid kan word moet daar eers nog sekere dinge gebeur en gedoen word.
Petrus het bely dat Jesus die Christus, die Seun van die lewende God is. Nogtans mag Jesus se leerlinge die mense nog nie daaraan bind nie. In vers 20 sê Jesus met klem vir Sy leerlinge dat hulle vir niemand mag sê dat Hy Jesus die Christus is nie. Jesus gaan eers nog Sy leerlinge verdere
onderwys gee. Die leerlinge moet eers nog meer van Hom weet, moet die regte beeld van Hom kry. Hulle moet nog leer dat Hy juis as die Christus, as die Seun van die lewende God moet ly. Dit is iets wat hulle nog nie verstaan nie. Waarteen hulle selfs in verset kom. Dit sien ons al dadelik nadat Hy vir die eerste keer nadruklik oor Sy lyding praat. Sien vers 22,23.
Jesus se leerlinge kan mense nog nie aan die regte beeld van Hom bind nie en kan daardeur die verkeerde leer nog nie mooi herken nie. Hulle kan dit nog nie ontbind nie.
Jesus bly Sy onderwys gee. Hy doen dit ook dadelik na Sy opstanding. Dan verskyn Hy weer aan Sy leerlinge. As Hy die aand na Sy opstanding by hulle verskyn, wys Hy hulle hoe in die Ou-Testament van Sy lyding en opstanding geskryf word. Ons lees dan in Lukas 24:45: "Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan." Nou het Sy leerlinge die juiste
beeld van Hom vanuit wat Hy gedoen het en wat Hy hulle uit die Ou-Testament geleer het. Hulle kan dit nou met God se Woord bewys. Hierdie aand verdwyn die sal, die toekomende tyd wat ons nog in Mat 16:19 gelees het. Ons hoor nou uit Jesus se mond hierdie woorde wat duidelik uit die belofte van Mat 16:19 voortkom:
"Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: Ontvang die Heilige Gees. As julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe; as julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou." (Joh 20:21-23)
Van daardie oomblik af moet die dissipels as Jesus se getuies optree. Hulle moet nou op die pad vorentoe duidelik maak waaraan mense gebind is. Wat die ware leer is, wat 'n lewe volgens Christus se gebooie is. Hulle moet op daardie manier die pad na Christus, na die vergewing van die sondes wys. So moet hulle die evangelie verkondig en mense aan Jesus, wat die Christus is, bind. Hulle moet die mense wys wat die geldige Woord van God is. Die Woord waaraan mense gebind is en waarsonder niemand gered kan word nie.
Dit het hulle ook in die praktyk van die eerste Christelike gemeentes gedoen. Hulle het gewys waaraan hulle gebind is as hulle regtig kerk van Christus wil wees. Hulle gebruik regtig die sleutels van die hemelryk.
Enkele voorbeelde daarvan is:
1. Hand 2: 38,42
2. Hand 5: 3-5, 9,10
3. Hand 15: 1,5,7,22,28,29
4. Die Nieu-Testamentiese briewe waarin verskillende gedagtes en leringe as dwaalleer uitgewys word.
Die apostels het gewys wat die regte leer, wat die regte lewe is. Hulle het Christus se kerk in Sy naam daaraan gebind. Hulle het ook gewys wat dwaalleer is, wat 'n lewenstyl is wat in Christus se kerk nie kan bestaan nie. Hulle het die dwaalleer en 'n lewe teen Christus se gebooie
ongeldig verklaar. Hulle het dit ontbind. Hulle het so die pad van die hemelse Koninkryk gewys. Hulle het so gewys waar Christus se kerk is. Daar waar die kerk op die fondament van die apostels en die profete bou. Sien Ef 2:20; Openb 21:14.
Wanneer word 'n kerk 'n kerk wat skeur?
Die antwoord daarop kan baie kort wees. Dit gebeur as 'n kerk haarself nie meer bind aan dit waaraan Christus ons deur Sy apostels gebind het nie. As 'n kerk dit waaraan die Skrif bind ontbind en dit wat daar ontbind word geldig verklaar.
Dan word so'n kerk 'n gevaar vir God se volk. Dan is so'n kerk 'n instituut wat mense in verwarring bring. Dan saai hierdie instituut twyfel en wys selfs die verkeerde pad. Laat mense op 'n pad stap wat van Christus af weglei. Daarvoor mag ons geen medeverantwoordelikheid neem nie. Ons moet in Christus se kerk vir die waarheid van die evangelie stry sonder om sektaries te word. Ons mag aan die ander kant nie aan 'n kerk bou waar waarheid en dwaalleer altwee 'n wettige plek kan inneem nie. So'n kerk is nie Christus se kerk nie. Want Christus se kerk bind en ontbind in gehoorsaamheid en oorgawe aan die onfeilbare Woord van God.
Dit gebeur o.a. deur die binding aan die Drie Formuliere van Eenheid. Hierdie binding mag geen lippetaal wees nie. Dit kan makkelik so word. Mense begin dan van 'n dinamiese binding aan die belydenis praat. Hulle begin om te sê dat die belydenis ons 'n uitstaande voorbeeld van die geloof van die vaders gee waarop ons op ons manier voortbou.
Woorde kan baie mooi klink maar steeds weer word duidelik dat hierdie woorde moet verdoesel dat mense, dat leraars, dat kerke hulle nie werklik aan die leer van die Skrif wil bind nie. Mense wil nie antiteties teenoor die tydgees staan of bly staan nie. Mense wil nie hulle plek in die isolement inneem nie. Hulle wil meer aanvaarbaar vir die wêreld rondom
hulle wees. Dit is 'n ding wat sowel in die teologie as in die kerklike lewe 'n verwoestende invloed uitoefen. Ons het hier met ons doodsvyand, die wêreld te doen wat by ons ander doodsvyand, ons eie sondige natuur aansluiting vind.
Ons sal dapper in die geloof moet wees en as leraars en lidmate van die kerk moet aanwys waaraan Christus se kerk gebind is en wat ontbind moet word. Ons moet wys wat verskeurdheid is en weier om in 'n kerk te lewe of te bly lewe waar dwaalleer en 'n onbybelse lewe 'n wettige plek ontvang. Ons moet Christus se trop so lei dat ons saam 'n
kerk mag vorm waar verskeidenheid in gehoorsaamheid aan Christus die kerk laat blom. Waar ons in christelike verdraagsaamheid lewe, waar ons nie sektaries is nie. Waar ons ons onvoorwaardelike aan God se Woord bind en aan die belydenis wat daarmee in ooreenstemming is. As ons so lewe skeur ons nooit Christus se kerk nie, dan is ons geen
skeurmakers nie maar kerk van Christus. Die poorte van die doderyk kan en sal hierdie kerk nooit oorweldig nie.
As ons so werk dien ons die vrede van Jerusalem, die egte eenheid van Christus se kerk. Dan staan ons nie medeskuldig aan skape wat in verwarring gebring word nie. Christus roep ons almal om so aan Sy kerk te bou.
Kerk wees beteken saam gemeenskap met Christus hê
As ons nou let op wat ons tot nog toe vanuit God se eie Woord gesien het, weet ons dat daar nog so baie meer oor Christus se kerk gesê kan word. Juis dan begin ook tot ons spreek wat ons van die kerk as liggaam van Christus lees in o.a. Rom 12 en 1 Kor 12. Dan begin ook tot ons spreek dat Christus die Hoof van Sy gemeente is. Kyk Ef 5:23. Ons het nou nie die tyd om nog daaroor verder te praat nie. Sonder om hieroor afsonderlik te handel is dit duidelik dat dit hier om die verbinding tussen, die gemeenskap met Christus gaan. Sonder die gemeenskap kan die kerk nie kerk wees nie. Dan gaan dit om die gemeenskap met die ware Christus, die Christus van die Skrifte. Kyk o.a.1 Kor 15:3,4.
Dit is baie duidelik dat die kerk gekenmerk word deur die gemeenskap met Christus. Sonder die gemeenskap met Hom kan gee kerk bestaan nie.
Ook as dit om ons lewe as kerk, ook as kerke wat met mekaar gemeenskap het in een kerkverband gaan, is dit so belangrik dat ons besef dat ons kerk voor God se oë is. Dat dit daarom gaan dat daar gemeenskap met Christus is volgens God se eie Woord.Dan is dit so belangrik dat ons ook as gemeente bid wat ons in Psalm 139 lees: “HERE sou ek die nie haat wat vir U haat, en ‘n afsku hê van die wat teen U opstaan nie? Ek haat hulle met ‘n volkome haat; vyande is hulle vir my! Deurgrond my o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” vs 21-24
Dit is die pad van Christus, saam as gemeente leef in gemeenskap met Hom!
Rob Visser