Geskiedenis van die hemel
IETS OOR DIE GESKIEDENIS VAN DIE HEMEL
DIE SKEPPING VAN DIE HEMEL
Ons dink dikwels dat daar 'n groot verskil tussen die hemel en die aarde is. Dat die hemel die plek is waar alles goed is en waar die sonde nooit gekom het nie. Waar die sonde nooit 'n invloed uitgeoefen het nie. Ons sal egter merk dat dit nie so is nie, want ook in die hemel het die mag van die sonde homself bewys. Ook in die hemel het die satan sy stem laat hoor.
Dit is belangrik om die verhouding tussen hemel en aarde in die geloof raak te sien. Daarby is o.a. die eerste vers in die Bybel, Genesis 1:1, van groot belang.
Die hemel het 'n begin
Dit is 'n magtige woord waarmee die Bybel begin. 'n Woord wat God se krag en goddelikheid so duidelik wys. God maak alles, wat jy rondom jou sien en selfs alles wat jy nie sien nie. Ons moet nie verby die eerste woorde van die Bybel lees nie, want hulle is van groot belang.
Die Bybel begin met die woorde: " In die begin". Hierdie woorde wys dat dit God was wat die begin van die hele skepping bepaal het. Die heelal, die skepping was daar nie altyd nie. Hemel en aarde het 'n begin wat aanwysbaar is.
Die ewige God wat sonder begin en sonder einde is het hierdie begin gemaak. Dit is vir ons ongebryplik dat die HERE sonder begin en einde is. Ons kan ons dit nie voorstel nie. Slegs deur die geloof leer jy om dit raak te sien, leer jy om met eerbied oor die ewige God, wat die Skepper van hemel en aarde is, te praat. Soos Moses dit in Psalm 90 doen:
" Here, U was vir ons 'n toevlug van geslag tot geslag. Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wereld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God." (vers 1,2)
Jy kan ook sê dat die Seun van God hemel en aarde gemaak het. Want met Genesis 1 in gedagte lees ons in Johannes 1: "In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie." (vers 1-3)
Hier gaan het oor die Seun van God. Dit blyk duidelik uit wat ons in vers 14 lees: "En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon - en ons het sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader
kom - vol van genade en waarheid.”
Hoe het God die hemel in die begin gemaak?
Ons antwoord op hierdie vraag moet wees: deur Sy Woord. Hy het gespreek en dit was. Maar daaroor nou nie verder nie. Die vraag waarop ek nou antwoord wil gee is wat is die resultaat van God se skeppingswerk. Die antwoord vind ons op die grens van Genesis 1 en 2. As ons in Genesis 1 gelees het dat God hemel en aarde gemaak het en daarna hoe die HERE aarde in ses dae ingerig het, lees ons: "Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. En dit was aand en dit was m“re, die sesde dag. So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag." Gen 1:31-2:1
Net soos in Gen 1:1 gaan dit in hierdie gedeelte van Genesis oor die hemel as God se paleis. In teënstelling met wat ons in Gen 1:6 lees. Daar gaan dit oor die lug wat ons kan sien. Die lug as deel van die aarde. In Genesis 1:1 en 2:1 word die hemel bedoel soos ons in Psalm 115:15,16 daaroor lees: "Julle is geseënd deur die HERE wat hemel en aarde gemaak het. Die hemele is hemele vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die mense kinders gegee."
Die hemel is goed, baie goed geskep. Vanaf die begin het God Sy woonplek, die hemel, goed gemaak.
Wanneer is die hemel gemaak?
Dit lyk na 'n maklike vraag. Want die aarde is tog in die begin gemaak! Dit is reg. Maar tog kan ons hiervan meer sê. Wat is die antwoord op hierdie vraag as ons die skepping van die hemel met die skepping van die aarde vergelyk?
Was die hemel of die aarde eerste gemaak en bewoon? Die hemel eers geskep is. Dit maak die Gees ons in die boek Job duidelik. Ons lees daar dat die hemel al inwoners het as die HERE nog aan die aarde werk. Dit blyk as
die HERE vir Job praat. Die HERE praat met Job en sê dat Sy wysheid bo enige menslike wysheid uitstyg. Die HERE sê dan in hoofstuk 38 o.a.: "Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Gee te kenne as jy insig het. Wie het sy afmetinge bepaal? - Jy weet dit mos! Of wie het daaroor die meetsnoer gespan!" (vers 4,5)
En daarop volg: "Waar is sy fondamentklippe op ingesink? Of wie het sy
hoeksteen gele? Toe die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het?"(vers 6,7)
Terwyl die HERE besig was met wat ons in Gen 1:3-31 lees, het die seuns van God daarna gekyk. Hulle is die engele. Vol bewondering het hulle gesien hoe God die aarde vir bewoning gereedmaak. Die engele in die hemel het hulle
bewondering met gejubel en gejuig geuiter. Hoe wonderlik is onse God. Die hemel gee God die eer as Hy in Sy almag die aarde skep.
Onderskeid tussen hemel en aarde
Die HERE het die hemel en die aarde gemaak. Hy het hulle so geskep dat daar vanaf die begin onderskeid tussen hemel en aarde is. Dink maar weer terug aan die teks uit Psalm 115: "Die hemele is hemel vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee."(vers 16)
Die HERE wys hierdie onderskeid. Die hemel is Sy paleis. Hy is die groot Koning wat daar woon. Daar woon Hy in besondere sin, maar Sy heerlikheid is groter as wat ons in die hemel kan sien. Die HERE styg bo Sy eie skepping uit. Selfs die hemel is te klein om Hom volkome te bevat. Koning Salomo het dit by die inwyding van die tempel so onder woorde gebring: "Maar sou God werklik op die aarde woon? Kyk die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het." (1 Kon 8:27)
Ons sien op die aarde die glans van God se heerlikheid in dit wat Hy in 6 dae geskep het. Veral in die mens wat Hy na Sy beeld gemaak het. Die mens wat as God se onderkoning geskep is en wat God op die aarde verteenwoordig, Sy glans uitstraal.
Vanaf die begin is daar 'n duidelike onderskeid tussen hemel en aarde. 'n Onderskeid en 'n afstand wat volgens God se plan eendag sal verdwyn. Die vereniging van hemel en aarde, soos ons daarvan lees in Openbaring 21, is in Gen 1:1 al God se doel.
Uit dit wat ons in Gen 1:1 en wat verder in die Bybel staan, is dit duidelik dat die onderskeid tussen hemel en aarde nie 'n skeiding is nie. Want vanaf die staanspoor het hemel en aarde hulle eenheid in die Skepper, die Almagtige
God, gevind.
Eenheid van hemel en aarde
Ons is soms geneig om die hemel en aarde in teënstelling met mekaar te sien. Veral omdat ons van die gevolge van die sondeval weet en met die sondeval rekening hou. Die mens het deur die sonde die vloek oor die aarde gebring. Selfs so dat ook die natuur na Christus se terugkoms uitsien. Ons lees daarvan in Romeine 8: "Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die
openbaarmaking van die kinders van God. Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe - nie gewillig nie, maar terwille van hom wat dit onderwerp het - in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word
van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die kinders van God.
Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe." (vers 19-22)
Die hemel en aarde moet saam van God se mag en grootheid getuig. Saam moet hulle van God se skoonheid en volmaaktheid getuig. As ons vandag oor hemel en aarde praat, moet ons met hierdie dinge rekening hou.
Ons mag as God se kinders die aarde nie minag nie. Dit is nie 'n minderwaardig woonplek nie, want ook die aarde is deur die HERE geskep. Die vraag of jy as kind van God na die lewe in die hemel mag verlang, kan egter wel opkom.
Ons mag daarna verlang maar nie omdat ons die lewe op aarde minag nie. Ons verlange na die lewe in die hemel of na die nuwe hemel en aarde is goed as ons na 'n wêreld verlang waar die sonde en die gevolge daarvan verdwyn het.
Die sonde is dit wat die aarde bederf het. Die sonde wat ons eie lewe bederf het. Ons moet leer om na 'n lewe by die HERE te verlang. Omdat ons die gebrokenheid op hierdie aarde, juis as kinders van God, so pynlik voel. Omdat ons deur God se genade leer dat 'n lewe sonder sonde soveel beter is. Dit beantwoord aan die doel waarmee God ons geskep het. Omdat jy dan sonder twyfel, sonder aanvegting met volle oortuiging die Skepper kan en sal loof. Steeds weer!
Soos die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge dit doen in Openbaring 4:11: "U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur U wil bestaan hulle en is hulle geskape."
Die eenheid van God se werk behoed ons vir 'n ongesonde hemelverlange. Die HERE het ons op hierdie aarde geplaas en ons na Sy wil gemaak. Ons opdrag op hierdie aarde bly: Wees beeld van jou Skepper. Ons mag op hierdie aarde wat 'n toekoms het, leef. Die aarde wat eendag weer in God se heerlikheid sal skitter en waar die HERE onder Sy volk sal woon soos nog nooit tevore nie. Ons verlange sal veral gerig moet wees op die aarde wat vernuwe word.. Op die aarde waar die eenheid van God se skepping nog grootser sal skitter as in Gen 1:1. Ons moet daarvoor sorg dat ons hierdie uitsig nooit verloor nie. Laat ons met hart en siel glo wat ons in Sondag 9 van die Heiderbergse Kategismus bely: "dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus, wat die Hemel en aarde met alles wat daarin is, uit niks geskep het en deur Sy ewige raad en voorsienigheid nog onderhou en regeer, terwille van Sy Seun Christus my God en Vader is."
Dink jouself eers in dat die God jou God en Vader wil wees. Hy, die Skepper van hemel en aarde sorg daarvoor dat die gelowiges 'n plek op die nuwe hemel en aarde ontvang. Daar waar die onderskeid tussen hemel en aarde, na God se plan,
verdwyn het.
DIE SONDEVAL IN DIE HEMEL
Voordat die revolusie teen die HERE op aarde losbars, het dit in die hemel gebeur. Twee tekste in die Nuwe-Testament, naamlik in 2 Petrus 2:4 en Judas 6, vertel ons dit duidelik.
Wat lees ons in hierdie tekste?
2 Petrus 2:4: "Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het,om vir die oordeel in bewaring gehou te word."
Judas 6: "En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar;"
In watter omstandighede het hierdie sondeval plaasgevind?
Alles was goed. Dit het vir die engele groot heerlikheid beteken. Hulle het in die hemel geleef en gewoon, in die hemel waar God se heerlikheid duideliker as iewers anders gesien word. Die engele is God se knegte. Hulle mag dit elke dag weer wees. As knegte wat met die Skepper verbonde is, het hulle dit baie goed en sal hulle dit as kneg nêrens beter hê nie. Dit het vir enige engel gegeld wat ook al hy vir die HERE moet doen.
In die engelewêreld is daar ook 'n rangorde. Sommige is leiers en ander ondergeskiktes. Sonder dat hierdie rangorde deur dwang of sonde gestempel word. Ons ken van die engele wat leiding gee: Migaël en Gabriël. Die duiwel was voor die sondeval 'n vooraanstaande engel. Voor die sondeval was ook vir die engele alles baie goed. Toe was daar niks in God se skepping wat aanleiding gegee het tot sonde of daartoe kon verlei nie.
Die kenmerkende van die engele se val
Ons lees in Judas 6 van engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie. Wat moet ons ons by hierdie woorde voorstel? Ons mag daaroor nie spekuleer en fantaseer nie. Nogtans beteken dit nie dat ons niks kan sê nie. Die woorde uit Judas 6 en 2 Petrus 2:4 vertel ons genoeg om die kern van die engele se sondeval te begryp. Die kern is dat sekere engele op 'n bepaalde moment hul eie beginsel nie bewaar het nie. Wat is nou hul eie beginsel? Hul eie beginsel is dat die HERE hulle gemaak het om Hom te dien en te eer. Die HERE het die engele nie gemaak met die bedoeling dat hulle met hul mag en heerlikheid kan doen wat hulle self wil nie. Die HERE het die engele gemaak as knegte wat hul mag en heerlikheid in diens aan Hom moet ontplooi. Daarby behoort ook dat die engele in diens van die mens werk wat God na Sy beeld en gelykenis gemaak het. Dit lees ons o.a. in Hebreërs 1:14:
"Is hulle (die engele) nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe nie?"
Die Here Jesus sê in Matteus 18:10:"Pas op dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie; want Ek sê vir julle dat hulle engele in die hemele altyd die aangesig sien van my Vader wat in die hemele is."
Net as knegte van die HERE, wat deur die HERE se bevel ook die mense moet dien, kan die engele goeie engele wees en bly. Maar op 'n sekere oomblik wil 'n deel van die engele onder leiding van die duiwel nie meer knegte wees nie. Hulle voel dat hulle te goed en te verhewe is om altyd God se knegte te bly. Hulle wil nie aan God se bevele gebind wees nie. Hulle dink dat hulle hul eie vryheid kan verower. Hulle wil bo die Skepper van die hemel en aarde kom staan. Met hierdie revolusie in die hemel, het die eerste sonde in God se skepping plaasgevind. In 2 Petrus 2:4 lees ons mos:
"Want as God die engele wat gesondig het nie gespaar het nie."
Die raaisel en die erns van hierdie sondeval
Die sondeval in die hemel is vir ons 'n onverklaarbare raaisel. Hoe kan dit gebeur dat jy, as goed geskape engel, wat dit baie goed by die HERE het!, jou teen die HERE begin versit?!
Hoe is dit moontlik dat jy 'n rewolusie ontketen teen Hom wat jy in 6 dae die aarde sien skep het? Die aarde wat die HERE baie goed gemaak het. Niks in God se skepping was verkeerd nie en daar was niks in Sy skepping wat tot die
verkeerde, tot die sonde verlei nie. Nogtans is daar 'n deel van die engele wat vir 'n lewe los van die HERE kies. Hulle kies vir 'n lewe teen die HERE. Jy sien pas hoe erg dit is as jy besef dat alles tot die oomblik van die sondeval in die hemel goed was. Daar is geen enkele aanleiding, geen enkele oorsaak om tot hierdie daad van opstandigheid oor te gaan nie. Dit gebeur nogtans.
In die geskiedenis is dit 'n baie groot dwaasheid. En wel 'n dwaasheid wat in die hemel plaasgevind het. 'n Dwaasheid wat sy ellendige uitwerking op die aarde gehad het, deurdat die satan na die sondeval in die hemel geprobeer het om die
mens te verlei. Die mens wat hy eintlik moet dien. Die ontroue kneg van die HERE, die duiwel, probeer om die kind van God, die mens, in sy opstand teen God saam te sleep. Ons ken die vreeslike gevolg daarvan. Dit is dat die
mense, wat alle moontlikhede van God gekry het om Hom te dien, so dwaas was om op die pad van die opstandige engel te gaan. Ons het die gemeenskap met die engele, wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, gesoek. Daardeur het ons ook ontrou geword. Omdat ons as mense nie van God as ons Vader afhanklik wil bly nie. Ons wou nie kind van God die Vader bly nie.
Die woonplek van die gevalle engele
Die gevalle engele het in ellendige omstandighede beland. Hulle moes hul heerlike woonplek, die hemel, vir 'n plek vol ellende verruil. Dit lees ons in Judas 6 as daar staan:"maar hul eie woning verlaat het". In hierdie woning , God
se paleis, het hulle niks meer te soek nie. Hulle het God se teenstanders geword.
Dit het so geword dat die gevalle engele vanuit 'n ander plek werk. Ons moet nie aan die aarde dink nie, want toe die sondeval in die hemel plaasgevind het was alles op die aarde nog baie goed. Die gevalle engele werk nou vanuit die
hel. Al die duistere magte van die sonde kom daar saam. Die hel is soos die hemel ‘n plek.
'n Woonplek wat onder God se beheer staan
Die hel as woonplek van die gevalle engele is nie buite God se beheer nie. Dit lees ons ook in Judas 6: "En die engele .... het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar."
Die HERE het ook in die hel die gevalle engele in Sy mag. Hulle kan God nie ontvlug nie. Geen skepsel kan God ontvlug nie. Ook vir die duiwel en sy volgelinge geld wat ons in Psalm 139 oor die mens lees:
"Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk U is daar! En as ek sê: Mag tog net die duisternis my oorval en die lig nag wees tot my beskutting, dan is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, duisternis is soos die lig." (vers 7,8,11,12)
God hou die opstandige engele in alle omstandighede onder Sy beheer. God se beheer beteken dat Hy die duiwels met ewige boeie onder die duisternis bewaar. Hulle kan nooit ontsnap nie. Hulle word in die hel met ewige boeie geboei. In hierdie gevangenskap het die gevalle engele nog 'n sekere vryheid. So kon die duiwel voor Christus se hemelvaart nog in die hemel kom. Maar dit bly 'n vryheid in gevangeskap. Sonder dat God dit toelaat, kan hulle geen voet versit nie. Hulle bly gevangenes wat nooit kan ontsnap nie. Die HERE trek hulle altyd weer na die hel terug.
'n Woonplek vir engele en mense
Die hel is nie net 'n tronk vir engele wat gesondig het nie. Dit is ook die plek waar mense wat hulle lewe nie op Christus gebou het nie, teregkom.
As ons daaroor nadink ontdek ons 'n opvallende verskil in God se omgang met engele en mense. God het vir sondige mense Sy Seun gestuur. Hy het dit gedoen om Sy uitverkore kinders van die ewige straf te red. Die HERE doen dit nie vir die engele wat gesondig het nie. In Hebreërs 2:16 lees ons naamlik: "Want waarlik, Hy bekommer Hom nie oor die engele nie, maar oor die geslag van Abraham bekommer Hy Hom."
Die gevalle engele asook die mense wat hulle lewe nie by Christus as die Verlosser gesoek het nie kom in die tronk wat hel genoem word. Die HERE bring daar engele en mense saam. Dit gebeur omdat dit vanaf die begin God se bedoeling was dat engele en mense saam sal leef. God se doel was vanaf die begin dat engele en mense saam heerlik in Sy skepping sou leef. Eendag naby mekaar as hemel en aarde een geword het.
Die HERE hou aan Sy eie skeppingswet vas. Ook as dit om die hel gaan. Dit bring gevalle engele en mense wat in hulle sonde volhard saam in die hel.
Die karakter van die hel voor Christus se terugkeer
In die tyd voor Christus se terugkeer is die hel 'n tronk waar die laaste oordeel afgewag word. Oor hierdie oordeel gaan dit as ons in Judas 6 lees: "En die engele ... het Hy vir die oordeel van die grote dag ... bewaar."
By hierdie oordeel gaan dit nie oor die hel soos die nou is nie. Die oordeel wat hier bedoel word is soos 'n voorarres. Die definitiewe straf moet nog kom.
Wie vandag in die hel is, weet dat die definitiewe straf nog sal kom. Wie as gelowige gesterf het, weet vandag in die hemel dat die volle heerlikheid in die toekoms sy deel sal wees.
Die karakter van die hel na Christus se terugkeer
Na Christus se terugkeer sal alles tot volle ontplooiing kom. Sowel die hemel as die aarde. Ook die hel sal dan tot sy volle ontplooiing kom. Dan is die hel nie meer die plek van voorlopige gevangenskap nie. Dan is die hel nie meer die plek vanwaar die duiwels nog op die aarde kan kom nie. Die hel het dan die plek geword waaruit hulle nie meer kan kom nie.
Dan is die hel meer as 'n tronk waar hulle tot die tyd van die definitiewe oordeel bewaar word. Die hel het dan geword die plek van vuur en swawel waarvan ons in Openbaring 20:10 lees. Die hel is dan die plek waar God se straf in alle hewigheid ondergaan word. Dit is die plek waarheen Christus die gevalle engele en die ongelowiges by die laaste oordeel verwys. Oor hierdie plek gaan dit as Christus in Mattheus 25 vir die mense wat oor Hom gepraat het maar nie regtig as christene geleef het nie sê: "Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele." (vers 41)
SATAN SE AANWESIGHEID IN DIE HEMEL
Ons het gesien dat die duiwel en die engele wat hom volg nie meer in die
hemel kan bly woon nie. Maar tog kon die duiwel nog vir lank in die hemel kom.
Die voorbeeld in die geskiedenis van Job is duidelik. God se Woord wys ons wat in die hemel, wat in God se troonsaal gebeur. In Job 1 lees ons naamlik: "En op 'n dag toe die seuns van God (dit is engele R.V) kom om hulle voor die HERE te stel, het die Satan ook onder hulle gekom. Toe vra die HERE vir die Satan: Waar kom jy vandaan? En die Satan antwoord die HERE en sê: Van 'n swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het." (vers 6,7)
Ook in Sagaria 3 sien ons die Satan in die hemel. Ons vind hom op die plek waar hy nie in gehoorsaamheid aan die HERE wil leef nie.
Iets oor die naam satan
As die Bybel oor die werk van die Bose in die hemel praat, is veral die naam satan opvallend. So word die duiwel in Job 1 en 2, in Sagaria 3 en Openbaring 12 genoem.
Die woord 'satan' is 'n Hebreeuse woord wat teenstander beteken. Vir ons is die woord satan baie opvallend omdat ons by hierdie woord dadelik aan 'n naam dink. Die woord satan het in die loop van die openbaringsgeskiedenis ook al hoe
meer so'n klank gekry.
In die Ou-Testament was die woord satan 'n gewone woord. Want elkeen wat as 'n teenstander optree word 'n satan genoem. Satan-wees kan selfs 'n opdrag van die HERE wees.
Dit kan selfs 'n aksie aandui wat God se koninkryk bou. 'n Voorbeeld hiervan is Bileam as hy na koning Balak op pad is. Plotseling verskyn die Engel van die HERE en Hy hou Bileam en sy esel met 'n ontblote swaard in sy hand teë. Ons
lees daarvan in Numeri 22:22: "Maar die toorn van die God het ontvlam, omdat hy weggetrek het; en die Engel van die HERE het gaan staan in die pad as sy teëparty". In die Hebreeus staan vir teëparty, teenstander: as sy satan.
As daar in die Bybel oor die Satan wat in die hemel kom, gepraat word, wys die Heilige Gees ons op die persoon wat een en al teenstand teen God se Seun, die Engel van die HERE, is. Omdat hy God se groot teenstander is het
hy die naam Satan in die mees negatiewe betekenis verdien. Daarom word hy die draer van die naam Satan. Christus noem hom in die Nuwe-Testament met hierdie naam.
Satan beskuldig in die hemel
Die Christus wat aan die kom is, staan in die hemel teenoor die Satan. Die Christus wat aan die kom is, is die satan van elkeen wat in opstand teen die HERE kom. Hy is die satan van elkeen wat God se werk aanval.
Ons sien in Sagaria 3 dat die Seun van God en die Satan ook teenoor mekaar staan. Die Satan kom in die hemel met beskuldigings teen die hoëpriester Josua. Satan wil met hierdie aanklagte wil God se werk op aarde vernietig. Hy
wil sorg dat die HERE Sy volk sal verstoot sodat God se Seun nooit mens sal word nie. Sodat die beloofde Verlosser Sy werk nooit kan doen nie.
Die Satan het op hierdie manier tot die tyd van Christus se hemelvaart gewerk. Hy het geprobeer om die koms van Christus te keer . Toe God se Seun tog mens geword het, het hy geprobeer om die Here Jesus so ver te kry dat Hy met Sy werk as Middelaar ophou. Hy het ook geprobeer om soveel moontlik mense uit die hemel en van die nuwe aarde en hemel weg te hou. Een van die wapens wat die Satan daarby gebruik het, is dat hy die gelowiges aangekla het. Hy het hulle in die hemel aangekla. Selfs so dat ons in Openbaring 12:10
lees: "Toe hoor ek 'n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiedom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag." Die stem van Satan het tot Christus se hemelvaart steeds in die hemel geklink. Want dag en nag het hy daar gelowiges aangekla. Die Satan was al die tyd 'n opvallende smet in die hemel.
Het hierdie klagte tot veroordeling gelei?
Die ergste is dat dit lyk asof die satan met sy aanklagte reg is. So lyk dit ook in Sagaria 3. In hierdie hoofstuk lyk dit selfs asof die duiwel vir God se reg opkom. Die reg van God dat die sonde gestraf moet word.
Dit is nie 'n leuen as die Satan sondes by die hoëpriester Josua aanwys nie. Ons lees dat Josua se klere vuil klere is. Sy klere is besoedel. Dit beteken dat Josua teenoor die HERE skuldig staan.
Maar tog bereik die Satan nie sy doel nie. Dit sien ons duidelik in die heftige en skerp reaksie van die Engel van die HERE. Want die Engel van die HERE sê: "Mag die HERE jou bestraf, o Satan! Ja, mag die HERE, wat Jerusalem verkies
het, jou bestraf!" (vers 2) Die Christus wat aan die kom is, wys hier die diepste grond vir Sy werk van verlossing aan. Dit is God se verkiesing.
Dit is wat ons God se ewige plan, Sy ewige welbehae noem. "Ja, mag die HERE wat Jerusalem verkies het, jou bestraf!" Die diepste grond vir God se genadige omgang met Sy volk, lê nie in die goedheid van die volk nie. Die diepste grond vir God se genadige omgang met die hoëpriester Josua lê nie
in Josua se voorbeeldige lewe nie.
Die HERE wys dit baie duidelik net voor die verowering van Kanaan deur Sy volk: "As die HERE jou God hulle (die inwoners van Kanaan R.V) voor jou uitjaag, moet dan nie in jou hart spreek en sê: Die HERE het my ter wille van my geregtigheid ingebring om hierdie land in besit te neem nie; want weens die goddeloosheid van hierdie nasies verdryf die HERE hulle voor jou uit. Nie ter wille van jou geregtigheid en die opregtheid van jou hart kom jy
in om hulle land in besit te neem nie, maar weens die goddeloosheid van hierdie nasies verdryf die HERE jou God hulle voor jou uit, en om die woord te vervul wat die HERE vir jou vaders, Abraham, Isak en Jakob, gesweer het. Weet dan
dat die HERE jou God nie ter wille van jou geregtigheid jou hierdie goeie land gee om dit in besit te neem nie, want jy is 'n hardnekkige volk." (Deuteronomium 9: 4-6) Die HERE het vir Homself in Sy heiligheid redes om Sy uitverkore
kinders te red, vir ewig te verlos. Die HERE wys op hierdie onpeilbare liefdevolle verkiesing ook in Sag 1:17 en 2:12. Op hierdie genadige verkiesing
loop die aanklagte van die Satan in die hemel dood. Die HERE swig nie voor die Satan nie. Nooit nie! Vir God se kinders kom sekerlik vryspraak. Ons sien hierdie wonder ook in Sagaria 3 gebeur.
Die Satan kan die verlossing nie keer nie
Ons sien in die hemel sien die wonder van God se genade gebeur. Want wat doen Christus daar? Hy gee 'n bevel wat wys dat Satan met sy aanklag nie die laaste woord het nie. Sekerlik nie in die hemel nie.
Die woord van God se Seun is beslissend vir die ewige verlossing van Sy volk. Ook vir die hoëpriester Josua wat deur die HERE uit die ballingskap gered is, wat Hy soos 'n brandhout uit die vuur geruk is. Die HERE het op hierdie manier dat die hoëpriesterlike familie bewaar bly. (sien ook 2 Kon 25: 18 e.v.; 1 Kron 6:15)
Die HERE bewaar hierdie familie sodat versoening gedoen kan word tot die dag dat Christus Sy beslissende offer aan die kruis gebring het. Totdat Hy Sy bloed vir die gelowiges gestort het.
Omdat dit sekerlik sal gebeur kan die Engel van die HERE vir die hoëpriester Josua sê: "Kyk, Ek het jou skuld van jou weggeneem, en Ek beklee jou met feesklere." (vers 4) Dit sê die Seun van God ondanks die aanklagte van die Satan.
Hier wys God se Seun ons reeds wat die effek van Sy werk sal wees. Die verlossing wat Hy sal verdien, red Josua en al die Ou-Testamentiese gelowiges. Die genade wat Christus sal verdien smoor Satan se aanklagte teen God se kinders in die kiem. Satan se aanklagte word gesmoor in Christus bloed wat sal vloei. Satan kan die verlossing van God se kinders nie stop nie. Ook nie in die hemel nie. Want die verlossing lê in God se ewige verkiesing vas.
SATAN VIR ALTYD UIT DIE HEMEL GESIT
Die HERE toon ons in Openbaring 12 op 'n indrukwekkende manier die oorlog tussen Satan en Christus met Sy volk. Dit sien ons baie duidelik as jy Genesis 3 as agtergrond in gedagte hou. Ons sien in Openbaring 12 die stryd waaroor ons in
Genesis 3:15 lees: "En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt."
Die duiwel is vanaf die sondeval besig om die saad van die vrou, die kerk aan te val. Hy probeer in die tyd van die Ou-Testament steeds weer om die volk Israel te vernietig. Die Satan is hiermee besig omdat God se volk swanger geraak het.
Swanger van die beloofde Verlosser, die Here Jesus Christus. Hy is die enigste wat die gelowiges van alle tye uit die slawerny van die duiwel kan red. Die duiwel wil dit voorkom! As hy Israel kan vernietig sal hy ook voorkom dat
die Verlosser gebore sal word. Hoe die magtige slang ook tekere gaan, hy sal sy doel nie bereik nie. Nogtans word die beloofde Verlosser gebore, word God se Seun mens. Hy word in Betlehem gebore. As dit gebeur het, wil die Satan probeer om die Here Jesus tot ongehoorsaamheid aan Sy Vader te verlei. Daarom versoek hy die Here Jesus in die woestyn, daarom val hy tydens die drie ure duisternis op Golgota Jesus in alle hewigheid aan. Hoe swaar was dit vir die saad van die vrou, vir Jesus Christus, om die geweld, om die geraffineerde verleiding en spot van die duiwel tot in die diepste diepte van Sy siel te moet deurmaak! Die duiwel het al sy krag gebruik in 'n poging om Jesus ongehoorsaam te maak.
Christus die hemel in, die duiwel die hemel uit.
Die duiwel doen 'n groot kragsinspanning maar Christus bly trou. Omdat Christus trou bly ruk die Vader Hom op 'n bepaalde moment van die aarde weg. Jesus se hemelvaart is die oomblik dat dit gebeur. Hierdie hemelvaart is nie net 'n aksie van Christus nie. Christus styg self op. Maar dis ook 'n aksie van God die Vader. Dit lees ons duidelik in Handelinge 1:9:
"En nadat Jesus dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en 'n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem."
As dit gebeur het, verskyn Christus skielik in God se troonsaal. Hy gaan op die troon sit as die Koning van alle konings. Die gevolg hiervan is dat Christus as Koning die hemel inkom en die duiwel pad moet gee. Die duiwel word as
aanklaer die hemel uitgejaag.
Die Satan begin oorlog voer.
Lê die magtige draak hom by hierdie stand van sake neer? Lê hy hom daarby neer dat Christus sy kop vermorsel en hy die hemel moet verlaat? Nee! As 'n getergde draak skree hy moord en brand. Hy aanvaar nie dat hy uit die hemel uitgegooi is nie. Hy wil nie toegee dat hy vir altyd verloor het nie. As hy Christus nie op aarde kan verslaan nie sal hy nogtans probeer om Hom in die hemel te oorwin. Die Satan wil nie toegee dat hy God en Sy Gesalfde nie kan
oorwin nie. Daarom roep die duiwel sy leër saam. 'n Baie groot leër, wat tot die tande toe gewapen is, verskyn in die hemel. God se woonplek word nou deur die duiwel en sy engele beleër. Hulle soek niks anders as die verderf, as
God se neerlaag nie. Hulle wil niks anders as om die hemel in 'n groot hel te verander nie. Die uitslag van hierdie geveg is beslissend vir die vervolg van die geskiedenis.
Die HERE wag nie af nie. Hy stuur Migaël met die hemelse leër om die duiwel en sy leër te bestry. Die naam Migaël wys al vir wie hy veg. Die naam Migaël beteken naamlik: Wie is aan God gelyk! Oor Migaël kan ons ook in Daniël 10 en 12 en in Judas:9 lees.
Ons sien op beslissende oomblikke van die geskiedenis dat Migael met met krag in diens van die HERE optree. Hy het dit met al sy krag en mag gedoen. So 'n beslissende oomblik was Christus se hemelvaart.
As Christus in die hemel aangekom het, breek die oorlog in die hemel uit. Nou val die beslissing of die werk wat Christus op aarde gedoen het tot sy doel sal kom. Sal Jesus in die hemel kan stand hou? Sodat Hy voor God se
troon in die hemel vir die gelowiges kan pleit en daardeur die gelowiges ewige vryspraak sal ontvang. Sal Christus se werk daarvoor sorg dat die draak geen aanklagte meer teen die gelowiges kan inbring nie? Hierdie oorlog in die hemel
beslis oor die feit of die nuwe hemel en aarde ooit sal kom. Of God Sy plan kan voltooi. Die uitslag van hierdie oorlog in die hemel is van die allergrootste belang.
God se leër val aan
Die geveg in die hemel begin. Migaël soek in Christus se naam die aanval. Die duiwel en sy volgelinge reageer daarop want ook hulle voer oorlog. Hoe lank die geveg geduur het weet ons nie. Dis ook nie belangrik nie. Net die uitslag is belangrik.
In die loop van die geveg word duidelik dat die draak vir God se leër moet wyk. As Migaël begin om aan te val kan die draak met sy leër nie standhou nie. Die duiwel moet erken dat die Skepper, dat die Verlosser, dat die enigste God sy duiwelse krag te bowe gaan. Dat sy geslepe aanval in die paradys nie daartoe sal lei dat die uiteindelike paradys nie sal kom nie. Die duiwel moet erken dat hy Christus nie kan keer nie.
Die duiwel moet saam met sy engele vlug. Uit die hemel uit, julle! Julle kom nooit meer die hemel binne nie. Ons lees dit ook in Openb 12:8: "en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie."
Die hemel sonder satan
Op die oomblik dat die Satan die geveg in die hemel verloor het, is 'n belangrike deel van die geskiedenis afgesluit. Die gedeelte van die geskiedenis wat die Satan in die hemel kon kom. Die tyd wat hy in die hemel 'n opvallende smet kon wees. Nou kan hy nie meer daar kom nie en daarmee is die glorie van die hemel vergroot. Koning Christus skitter nou in al Sy majesteit en genade in die hemel. Vanweë Sy werk het die duiwel uit die hemel verdwyn. Nou hoor ons in die hemel nog net die lof op die HERE. Ons hoor nog net van genade vir God se kinders en van oordeel vir God se vyande. Die duiwelse aanklagte het vir altyd uit die hemel verdwyn.
Hoekom kan Satan nie meer in die hemel aankla nie?
Hoe is dit nou moontlik dat die duiwel God se kinders na Christus se hemelvaart nie meer kan aankla nie? Dit is so omdat op die oomblik toe Christus die hemel binnegekom het elke rede om 'n gelowige aan te kla, verdwyn het. Selfs elke skynbare rede (dink aan Sagaria 3) het toe verdwyn. Christus wat die hemel binnekom is naamlik die Lam van God wat die sondes van die gelowiges gedra het. Dit is die Christus wat die ewige lewe vir die hele volk van God verdien het. Hierdie Lam van God bedek nou elke sonde van enige gelowige.
As die duiwel nou sou sê: "HERE het u die sondes van daardie persoon gesien" sal die HERE, as dit om 'n gelowige gaan, sê: "Waar is daardie skuld, Satan? Ek sien net reinheid. Ek sien net Christus se sondeloosheid wat daardie persoon bedek."
Die duiwel moes in die tyd van die Ou-Testament steeds weer met die werk wat Christus nog moes doen weerlê word. Dit is die rede waarom die Satan geprobeer om te voorkom dat Christus Sy werk klaar sou maak.
Nogtans is dit nou heeltemal duidelik dat Christus oorwin het.
Paulus kan daarom as gelowige uitroep: "Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree." (Rom 8: 33,34)
Vanaf Christus se hemelvaart word in die hemel gehoor dat die Lam van God vir God se kinders intree pleks dat die duiwel hulle aankla. Die bloed van die Lam het die duiwel se aanklagte laat verdwyn. Dis 'n heerlike boodskap wat die
gelowige se hart warm maak.
Satan se val uit die hemel het gevolge vir die aarde
God se leër het Satan se leër verslaan en dit maak bly. Dit maak die gelowige ook waaksaam. Die duiwel is naamlik op die aarde neergewerp. Wat dit vir die aarde se bewoners beteken word duidelik as 'n stem in die hemel hard uitroep:
"Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het." (Open 12:12)
Die draak sal sy aandag nou op die aarde konsentreer. Hy sal daarby sy aandag weer op Christus se kerk, op die gelowiges konsentreer. Dit lees ons in Openbaring 12: 13 en 17: "En toe die draak sien dat hy neergewerp is op die aarde, dat hy die vrou vervolg wat die seuntjie gebaar het, ..... En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou." Die vrou is God se volk, Christus se kerk.
Petrus beklemtoon dit ook. In sy eerste brief skryf hy o.a: "Wees nugter en waaksaam, want julle teënstander, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die
geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelˆ word aan julle broederskap wat in die wêreld is." ( 5:8,9)
Dit alles beteken vir ons vandag dat ons bly mag wees met Christus se oorwinning oor die draak. Nogtans mag die blydskap ons nie onversigtig of sorgeloos maak nie. Ons mag nie dink dat ons nou nie weer deur die verleidinge van die duiwel gepla sal word nie. Dat die duiwel hier op aarde geen mag meer kan uitoefen nie. Dit is 'n slegte teken as jy nooit voel dat die duiwel aan jou trek nie. As jy nooit opmerk hoe die Satan besig is om Christus se gemeente aan te val nie. Juis aan die gelowiges, juis aan Christus se kerk bestee die duiwel die meeste aandag.
Maar in al die verleidinge wat die duiwel op ons laat afkom wil die Heilige Gees ons wapens gee om in die geestelike stryd te kan standhou. Die Heilige Gees verbind die gelowiges aan Christus in wie die oorwinning seker is.
HEMEL EN AARDE WORD EEN
God kom tot Sy doelwit. Wat Hy besluit het kom sekerlik, ondanks Satan se teenwerking. Ondanks dat die mens hom van die HERE afgekeer het en vir die plan van die duiwel gekies het.
Hemel en aarde een
Die HERE is trou aan Homself. Hy is ook trou aan die doel wat Hy vanaf die staanspoor met hemel en aarde gehad het. Die groot doel is dat hemel een aarde eendag een sal wees. Nie as 'n hemelaarde, of 'n aardehemel, waarop nog gebrek
en sonde sal wees nie. Nee, as die groot stad waarin alles volmaak sal wees. So volmaak dat selfs die moontlikheid om te sondig nie meer bestaan nie.
Daardie moontlikheid het in die paradys bestaan. Die heerlikheid van die nuwe hemel en aarde sal meer wees as in die paradys. Dit sal ook op 'n ander punt so wees.
In Genesis 1 en 2 is dit nog so dat die hemel God se paleis is. Toe was daar nog 'n afstand tussen hemel en aarde. Die HERE is met Sy heerlikheid in die besonder in die hemel. Somtyds het Hy vanuit die hemel na Adam en Eva toe gekom om met hulle te praat. Die nuwe aarde sal nog baie mooier wees. Dan is dit sover dat God se paleis, die hemel, op die aarde neergedaal het. Dan bly die HERE op die aarde.
Ons lees daaroor in Openbaring 21:3: "En ek het 'n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees, en God self sal by hulle wees as hulle God."
Die eerste skepping verdwyn
Hoe sal dit sover kom dat God in die Nuwe-Jerusalem by die mense sal bly? Nadat die duiwel sy mag ontplooi het kom skielik God se oordeel. Dit gebeur as Christus terugkeer. Dan spreek Christus die oordeel oor die lewendes en die
dooies uit. Wat sal dan gebeur?
Daaroor lees ons in Openbaring 21:1: "En ek het 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verby gegaan; en die see was daar nie meer nie."
Dan gebeur waarvan Jesaja in die tyd van die Ou-Testament al geprofeteer het. Toe hy in die HERE se Naam gesê het: "Want kyk, Ek skep nuwe hemele en 'n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie." (65:17 sien ook 66:22) Hier word beklemtoon dat die HERE nuwe hemele en 'n nuwe aarde skep. Wat word daarmee bedoel? Beteken dit dat die nuwe hemel en aarde heeltemal anders is? Dat dit 'n heeltemal ander hemel en aarde sal wees?
Nee, dit sal 'n skepping wees wat deur die HERE vernuwe is. Die skepping wat van elke gebrek en van alles wat aan gebrek en sonde herinner, gesuiwer is. God se oordeelsvuur het dan alles wat aan die ou, gebrekkige skepping herinner,
verbrand. Dit bely ons ook in artikel 37 van die Nederlandse Geloofsbelydenis: "Ons Here Jesus Christus sal met groot heerlikheid en majesteit uit die hemel kom, liggaamlik en sigbaar, soos Hy opgevaar het (Hand 1:11), om Homself as Regter oor die lewendes en die dooies aan te kondig, terwyl Hy hierdie ou wêreld aan vuur en vlam sal prysgee om dit te suiwer."
Nie net die aarde word vernuwe nie maar ook die hemel. Altwee kry 'n nuwe gesig. Die nuwe gesig sal baie mooier wees as wat ons tot vandag toe gesien het. As daar in die hemel nog dinge is wat aan die engele se val herinner, as
daar nog dinge is wat daaraan herinner dat die duiwel in die hemel kon kom het dit dan heeltemal verdwyn. Dan het in vervulling gegaan wat Petrus in sy tweede brief skryf:"Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en 'n nuwe
aarde waarin geregtigheid woon." (3:13)
Al die dinge wat nou nog die goeie lewe met die HERE bedreig, alles wat ons lewe vandag nog swaar maak, alles wat nou nog gebrekkig is, sal dan verdwyn het. Omdat die krag van die sonde wat die oorsaak van al die ellende is, dan verdwyn het.
Daarvoor kan ons niemand anders as die HERE dank nie. Want net Hy kan die nuwe en volmaakte hemel en aarde skep. Ons kan daaraan niks bydra nie. Heeltemal niks nie! Dat jy op die nuwe skepping mag leef, het jy aan niemand anders as Jesus Christus te danke nie. Elke plek in die Nuwe-Jerusalem het Christus met Sy bloed verdien. Sonder Sy bloed sou daar vir geen enkele mens plek wees nie. As jy jou lewe op hierdie aarde nie by Christus gesoek het nie het God vir jou geen plek op die nuwe aarde gereserveer nie. Wie sy lewe by Christus soek mag weet dat hy "'n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om
geopenbaar te word in die laaste tyd." (1 Pet 1:4,5)
God sal hierdie erfenis in die laaste tyd in volle glorie toon. Dan sal die erfenis vanuit die hemel kom en op die aarde neerdaal.
Die Nuwe-Jerusalem daal neer
Johannes sien in Openbaring 21:2 iets besonders gebeur. Ons lees daar: "En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos 'n bruid wat vir haar man versier is."
'n Wonderlike groot en skitterende stad kom van bo na onder. Hierdie stad is nuut en wys in sy naam dat dit die kerkstad is. Die stad waarin God temidde van Sy volk woon. Jesaja het al van hierdie stad wat aan die kom is geprofeteer. Ons lees in Jes 65:17,18: "Want kyk, Ek skep nuwe hemele en 'n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie. Maar wees julle bly en juig vir ewig oor wat Ek skep; want kyk, Ek skep Jerusalem om te juig, en sy mense om bly te wees."
Die Nuwe-Jerusalem, die kerkstad
Die Nuwe-Jerusalem is die kerkstad. Dit word duidelik as ons lees dat hierdie stad met 'n bruid vergelyk word. 'n Bruid wat op die dag van die bruilof pragtig lyk. Alles vir die fees is gereed. Die bruilofsmaal van die Lam kan begin. Dat die kerk met 'n bruid vergelyk word, met die bruid wat by Christus behoort, lees ons meerdere kere in die Bybel. Een voorbeeld daarvan is Psalm 45.
Met de koning in hierdie Psalm word uiteindelik Christus bedoel. (sien Hebr 1:8,9) Die dogter, die bruid is die kerk wat haar mooi maak vir haar Verlosser, vir Hom wat sy eindeloos bewonder, wat sy innig liefhet. (sien o.a: Jes 26:1;
40:9; 49:18; 61:10; 2 Kor 11:2; Ef 5:22-33) Die kerk het tot voltooiing gekom. Sy daal op die aarde neer in die heilige stad. God se volk van alle tye en plekke begin om die nuwe aarde te bevolk. Dan sien ons dat die werk van Christus, wat tot doel het om Sy kerk te vergader tot Sy doel gekom het. Christus het die inwoners van die kerkstad in ooreenstemming met God se plan versamel. Niemand ontbreek nie. Die Heilige Gees het elkeen wat God daartoe bestem het, deur die geloof tot Christus en die Vader gebring.
Die Nuwe-Jerusalem is heilig
Hierdie pragtige kerkstad is heilig. Dit is God se stad. Hy het die stad gebou. Hierdie stad is ook heilig omdat daarin niks wat gebrekkig is, gevind kan word nie. Alles is in ooreenstemming met God se plan. Daardeur staan hierdie stad
in teenstelling tot die groot stad op die ou aarde. Dit is die groot Babilon waarvan ons in Openbaring 17 en 18 lees. Daardie stad is vol owerspel en hoerery. Jy sien in daardie stad baie bedrieglike skoonheid wat niks anders as uiterlike skoonheid is nie. Nou sien ons die stad wat heilig is neerdaal, waarin alles van God se heerlikheid en trou spreek. Waarin alles van egte skoonheid, wat jy nie stukkend kan maak nie, spreek.
Die Nuwe-Jerusalem die hoofstad van die nuwe aarde?
Watter plek neem die Nuwe-Jerusalem op die nuwe aarde in? Is die Nuwe-Jerusalem die hoofstad wat 'n deel van die hemel op die aarde gebring het? Of moet ons dit anders sien? Ons sal ons dit inderdaad anders moet voorstel.
Hierby is dit baie belangrik om raak te sien dat ons die woorde nuwe hemel en nuwe aarde in Openbaring net in hoofstuk 21:1 lees. Ons lees hierdie omskrywing ook nie in Openbaring 22 nie. Die Nuwe-Jerusalem bedek die hele aarde. Die hemel daal as stad onder toe en so word hemel en aarde een geheel.
In Genesis 1 en 2 was dit so dat God 'n deel van die aarde gereed gemaak het waar die mens kon woon. Dit was die hof van Eden, die paradys. Die HERE het in Openbaring 21 die hele aarde gereed gemaak. Nou is die hele aarde God se heilige stad pleks van 'n tuin op 'n deel van die aarde. Nou is die hele aarde die woonplek vir God se volk. Nou het die afstand tussen hemel en aarde verdwyn. Alles is een. Die HERE het Sy doel bereik, die doel wat Hy in Genesis 1 al in die oog gehad het. Christus leef in die heilige wêreldstad saam met Sy volk in volmaakte eenheid. Die engele en God se volk dien God met groot vreugde in hierdie stad.
Slot
As die Nuwe-Jerusalem neergedaal het, beteken dit dat die HERE alles nuut gemaak het. Die geskiedenis van hemel en aarde het tot God se doel gekom deur Christus se werk. Die toekomstige skepping staan vir die gelowiges gereed. Die nuwe skepping kom. Niemand kan dit keer nie. Christus is elke dag besig om die inwoners van die Nuwe-Jerusalem te versamel. Elke keer wat iemand hom by die Goeie Herder se kudde voeg, by God se volk, daal die Nuwe-Jerusalem om so te sê 'n bietjie neer. Dan kom die koms van die Nuwe-Jerusalem nog meer naby.
Hoe belangrik is dit om op Christus se uitnodiging ja te sê. Hoe belangrik is dit dat jy Hom as jou Verlosser liefhet. Dan leer jy om na die groot dag uit te sien. Dit leer die Heilige Gees ons. Dan leer jy om ook vir jou toekoms net op die HERE te vertrou en Hom te roem. Hy wat dan: "al die trane van hulle oë sal afvee". (0penb 21:4)
En God sal self, en vir altyd,
die trane van hul oë wis;
geen dood sal daar dan langer wees,
geen smart of rou of kommernis.
Dis alles nuut, van sonde vry;
die eerste dinge is verby! (Skrifberyming 23:4)
SOLI DEO GLORIA! GOD ALLEEN SY DIE EER!