God se wet of die natuurwet
GOD SE WET OF DIE NATUURWET
As ons oor die betekenis van God se wet nadink is dit noodsaak om die vraag te vra of langsaan God se wet nog die natuurwet bestaan. Hoe is dit moontlik dat sekere mense wat nie in die HERE glo tog nog ‘n sekere onderskeid tussen dit wat goed en verkeerd is ken? Is dit die gevolg van die natuurwet? Moet ons vir dit wat goed of verkeerd is sowel God se wet as die natuurwet raadpleeg ?
Wat is die natuurwet?
Wat bedoel mense as hulle van die natuurwet praat? Die konkrete invulling daarvan het by mense in die geskiedenis baie verskil. Mense het daarmee allerhande dinge, ook teenstrydige dinge verdedig. Ondanks al die verskille is dit duidelik dat met die natuurwet bedoel word dat buite God se Woord en Wet, wat ons in die Bybel lees, ‘n wet bestaan wat elke mens ken. Wat elke mens van nature ken. Die groot vraag is of dit goed is om van die natuurwet te praat. Laat ons eers kyk of ons in die Bybel self soiets as ‘n natuurwet vind.
Praat God se Woord van die natuurwet?
Die woord natuurwet lees ons nêrens in die Bybel nie. Dit kan vir ons nog nie beslissend wees nie. Meerdere kere word sekere woorde of begrippe nie in die Bybel nie gebruik nie terwyl die saak verseker genoem word. ‘n Duidelike voorbeeld is dat ons die HERE as ons Drie-enige God bely. Ons lees in die Bybel nêrens die woord Drie-enig nie en nogtans is die Bybel vol daarvan en word gedra deur die openbaring dat die HERE die een God is wat uit die Persone bestaan.
‘n Gedeelte in die Bybel wat baie keer gebruik is om te sê dat ons ook in die Bybel van die natuurwet lees, is Rom 2:14,15:
“Want wanneer heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself ‘n wet, al het hulle geen wet nie; omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die die gedagtes mekaar onderling beskuldig of verontskuldig”.
Ek verwys vir ‘n meer uitgebreider bespreking van hierdie teks na my artikel: Jesus se geboorte en ons gewete in: Kompas van Desember 1998.
Hierdie teks is onder gereformeerdes op verskillende maniere uitgelê nogtans is dit duidelik dat hier nie van ‘n wet gepraat word wat in die mens self lê nie. Dis nie ‘n wet wat die mens onafhanklik van God se openbaring, van God se wet in homself het nie. Dit gaan hier oor ‘n wet wat in hulle hart geskrywe is. Iemand buite die mens het dit in die mens se hart geskrywe. Dit maak al duidelik dat ons hier nie van die natuurwet kan praat nie. Self meen ek dat hierdie teks van christene uit die heidene praat. Dit het ek uitgebreider in die artikel waarna verwys is, beredeneer.
Langsaan God se openbaring, Sy wet bestaan geen wet wat vir ons uitspel wat goed en verkeerd is nie. As ‘n mens dit sê, bly nog ‘n indringende vraag oor. Dit is die volgende vraag: Hoe is dit dan moontlik dat baie mense wat nie Christus volg en nie God se wet aanvaar nie dinge doen en sê wat reg is? Hoe is dit moontlik dat baie mense wat nie in die Drie-enige God glo nogtans moord en steel veroordeel en bestry?
Die rede daarvoor moet ons nie in die mens soek nie en ook nie in ‘n wet wat vanuit die mens of die natuur voortkom nie. Ons moet die oorsaak hiervan in God se oorweldigende openbaring van Sy dade soek. Die HERE openbaar Hom nie alleen in Sy Woord nie. Ons hoor in die Bybel van die HERE se groot dade maar verskillende van die groot dade kom na elke mens op aarde.
Dit gebeur verseker op drie maniere:
a. Die HERE wys Homself as die Skepper aan. As ‘n mens na die skepping kyk, raak hy beindruk. Dan moet die gedagte opkom dat daar ‘n Skepper moet wees. Iemand wat meer as die skepping is en volgens ‘n pragtige plan dit gemaak het. Die skepping is te pragtig, alles pas so goed bymekaar dat dit geen toeval kan wees nie.
b. Die Skepper wys Homself ook daarin dat Hy nog elke dag vir Sy skepping sorg.Die skepping praat in al sy heerlikheid en majesteit van God, van die Skepper. Selfs so dat ons in Psalm 19 lees: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande. Die dag stort vir die ander ‘n boodskap uit, en die nag kondig vir die ander kennis aan.” (vers 3,4) Hiervan lees ons ook in Romeine 1:20: “Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie.”
Selfs hierdie openbaring van God in Sy skepping word nog deur die mense verdraai. Paulus skryf in Rom 1:18 dat die mens “die waarheid in ongeregtigheid onderdruk”.
c. Omdat die HERE die Skepper is en die mens volgens Sy plan gemaak het moet die mens steeds weer toegee dat die HERE se wet by die skepping en die mens pas. As mense steel en doodslaan, as dit in ‘n samelewing toegelaat word, sien mense, en moet hulle na ‘n ruk erken, dat die op chaos, op groot ellende uitloop.
Dan wys die ellendige resultate dat iets moet verander en dat mense moet terugkeer na dinge wat die HERE in Sy wet gesê het.
Die sondige mens het geen betroubare natuurwet in hom nie. Nogtans doen die ongelowige saam met God se kinders dinge wat volgens die HERE se wil is omdat God se openbaring in Sy werke deur die mens nie volledig teengestaan kan word nie. Daarvoor is hierdie sigbare en voelbare openbaring van die HERE te sterk.
Is God se openbaring in Sy dade vir die mens genoeg?
As ons weer terugdink aan Romeine 1 is dit duidelik dat God se openbaring vir die mens nie genoeg is om op God se pad te loop nie en om regtig as die HERE se verloste kind te lewe nie. Die oorsaak daarvan lê in ons. Die oorsaak is ons sondige, harde hart wat God se openbaring in Sy dade in “ongeregtigheid onderdruk”.
‘n Mens vang hierdie openbaring van God in Sy werke op maar deur sy sondige hart dring net ‘n baie klein gedeelte van hierdie openbaring in sy hart deur. Daarvan bely ons in die D.L. III/IV, 4: “Na die sondeval het daar in die mens tot nog ‘n bietjie van die lig van die natuur oorgebly. Daardeur het hy ‘n mate van kennis van God, van die natuurlike dinge, van die onderskeid tussen die betaamlike en onbetaamlike bly behou en vertoon hy in '‘ sekere mate '‘ strewe na deug en uiterlike tug. Vir die mens is dit egter onmoontlik om deur hierdie lig van die natuur tot saligmakende kennis van God te kom en hom te bekeer. Gevolglik kan hy selfs in natuurlike en burgerlike sake hierdie lig nie reg gebruik nie. Hoe ook al, veeleer verduister hy dit op verskillende manier heeltemal en bedek dit in ongeregtigheid. Omdat hy dit doen, is daar vir hom geen verontskuldiging voor God nie.”
Dit is duidelik dat dit vir ‘n mens en vir die menslike samelewing onmoontlik is om op die lig van die natuur, om op God se openbaring in Sy dade ‘n goeie lewe en samelewing te bou. Dit was selfs vir Adam en Eva voor die sondeval nie moontlik nie. Selfs in die paradys moes by God se openbaring in Sy dade, Sy openbaring in en deur Sy Woorde kom. Dieselfde geld vir die Here Jesus as mens. Ook Hy moes in die kennis van God groei deur Sy Woord te hoor! Sien Jes 50: 4,5; Luk 2:52; Joh 5:30; 8:26-28.
‘n Mens wat dit weet, besef dat hy God se Wet broodnodig het. Sonder God se Wet kan nie goed geleef word nie.
God se wet die die lig.
Dit is goed om die term en begrip natuurwet soveel as moontlik te vermy. Dit is beter om van God se openbaring in Sy dade te praat. Belangrike redes daar voor is:
1. Die begrip natuurwet of natuurreg wys eerder van God as die Wetgewer af as dat dit daarop wys dat elke onderskeid van goed en kwaad van God kom. Hierdie woord is te neutraal, verseker in ‘n samelewing wat al hoe meer sekulariseer. Die onderskeid tussen goed en kwaad kom nie uit die natuur of uit die mens op nie maar kom van God.
2. God se wet pas by God se skepping. K. Skilder het in verband hiermee die treffende woorde geskryf: “God se wet is die enigste kleed wat die wêreld werklik pas.” Die HERE is die Skepper en Hy verdien die eer daarvoor en nie die skepping, die natuur nie.
3. Die sondeval en die totale verdorwenheid van die mens maak dit ook onmoontlik om van natuurwet en reg te praat. Die mens verdraai selfs God se openbaring in Sy Woord. Sien o.a: 2 Petrus 3:16. Die mens sal sonder die Woord nooit vanuit homself, vanuit sy natuur of vanuit die skepping die regte norme ontdek nie. Ook daarom is dit beter om nie die woord natuurwet te gebruik nie.
Die HERE se wet soos ons dit in Sy Woord lees is die lig op die pad van ons lewe. Daarin skyn God se lig in Sy Woord vir ons helderder as in Sy openbaring in Sy werke. Daarom volg op die eerste deel van Psalm 19 wat oor God se openbaring in Sy skepping gaan vanaf vers 8 die loflied op God se wet soos Hy dit vir ons hoorbaar en sigbaar gegee het. Die HERE se openbaring in Sy Woord gaan bo Sy openbaring in Sy werke uit: “Hy maak aan Jakob sy woorde bekend, aan Israel sy insettinge en sy verordeninge. So het Hy aan geen enkele nasie gedoen nie; en sy verordeninge, die ken hulle nie. Halleluja!” (Ps 147:19,20)
Dis daarom ook dat ons in artikel 2 van die NGB teenoor God se openbaring in Sy werke bely: “ten tweede maak Hy Hom deur Sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend, en wel so veel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is tot sy eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort.”
God se kinders mag Vader se Woord naspreek as hulle sê: “U Woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig op my pad.” (Ps 119:105)
Die noodsaak van die Gees se werk
Ons het nou baie oor die HERE se Woord en Wet geskryf. Hoe goed is Sy wet! As ons dit gedoen het moet ons steeds weer daaraan aandag gee dat die HERE se Wet en Woord ,wat goed en heilig is, nie outomaties in mense geloof en gehoorsaamheid werk nie.
Altyd moet vir mense die evangelie van die Redder Jesus Christus verkondig word en gebid dat die Heilige Gees die harte van mense vir die evangelie oopbreek en so ‘n lewe gee waarin mense vanuit die verbondenheid aan Christus volgens God se heilige wet wil lewe. Die werking van die Gees is noodsaaklik. Woord, Wet en Gees kan en mag nooit van mekaar geskei word nie.