Hoe rig ons ons aandag op God?

10-07-2015 06:54

 

 

DOEN DIT TOT MY GEDAGTENIS

Hoe rig ons ons aandag op God?

 

Hoe die wêreld op hierdie punt na Israel gekyk het

 

Die Romeine is die baas in Israel. Hulle ontmoet ook op baie plekke buite Israel Jode. Die Jode is ‘n vreemde volk in die oë van die meeste nie-Jode in en buite Israel. As jy by hulle in die huis kom, sien jy nêrens ‘n beeld nie. Jy sien ook nêrens buite hulle huis een of ander ruimte waar ‘n klein beeldjie van hulle God Jahwe staan om voor te kniel nie. Dit is vir die meestes van hulle al vreemd dat die Jode net in een God glo en en een God aanbid.  Jy sien nêrens ‘n beeld van daardie God nie.

Die Romeine is daarvan oortuig dat in die tempel in Jerusalem in die Allerheiligste tog verseker ‘n beeld moet staan. Dit moet tog so wees dat die hoëpriester die god van Jode in ‘n beeld ontmoet. Hoe groot is die verbasing as die Romeine in die jaar 63 voor Christus Jerusalem verower. Toe het die Romeinse generaal Pompejus ook die tempel en die Allerheiligste binnegegaan. Tot sy groot verbasing vind hy nêrens in die tempel ‘n beeld van Jahwe nie. Die Romeinse geskiedenisskrywer Tacitus skryf daarvan: “Toe het dit bekend geword dat in die Joodse tempel in Jerusalem nie een  beeld van ‘n god is nie. Dit wat die Jode die Allerheiligste noem is ook heeltemal leeg.

‘n Volk sonder ‘n beeld, ‘n godsdiens sonder beelde was vir die mense toe amper ondenkbaar. ‘n Beeld is vir hulle nodig om aan hulle gode te dink. ‘n Beeld van ‘n god of gode is vir hulle nodig om met hulle in verbinding te kan wees. Hoe kan jy anders weet of daardie god regtig by jou is?

 

Kan ons deur beelde die HERE  werklik ontmoet?

 

Hierdie gedagtes is baie hardnekkig. As die evangelie van die Here Jesus oor die wêreld verkondig word, sien ons dit baie duidelik in die kerkgeskiedenis. Steeds weer verskyn op agenda’s van kerklike vergaderings of dit nie moontlik of wenslik sou wees om ook beelde in kerke te kry nie.

Die eerste eeue na Christus neem die kerk ‘n duidelike standpunt teen beelde in. So besluit die kerkvergadering van Elvira 306 in Spanje die volgende: “Daar sal geen beeld in die kerk wees nie. Ons het ook besluit dat geen skilderye in die kerk mag wees om daarvoor te sorg dat mense nie begin aanbid wat op die mure geskilder word nie.”  Die radikale verwerping van beelde in die kerk bly tot 787 bestaan. In daardie jaar kom ‘n sinode in Nicea saam wat die volgende besluit neem: “Mense is verplig om prentjies en beelde van Christus, Maria, die engele en die heiliges, die kruisteken en die boeke wat die evangelies bevat deur kerse en wierook te vereer. God is die enigste wat aanbid moet word. Let daarop dat hier  nou ‘n onderskeid tussen verering en aanbidding gemaak word. Nogtans het die beelde toe die kerk amptelik ingekom.

Hierdie besluit was die gevolg van ‘n ontwikkeling. Steeds meer mense in die kerk het daarvoor gepleit dat beelde ‘n plek in die kerk moes kry om by die onderwys, by die kategese gebruik te kan word. Pous Gregorius I staan dit in 600 toe. Die ontwikkeling het tot verering van beelde in kerke gelei.

Die kerkgeskiedenis wys hoe moeilik dit vir mense is om sonder beeld  God te vereer. As ons na die Bybel, na die Ou Testament teruggaan sien ons dieselfde. Dink maar aan die goue bulkalf in die woestyn. Steeds weer soek ook Israel gode en voorwerpe om daarmee die HERE te vereer. ‘n Voorbeeld daarvan is ook wat ons van koning Hiskia lees as hy die volk weer na die ware diens aan die HERE wil terug bring. Ons lees van hom in 2  Konings 18:3,4: “En hy het gedoen wat reg was in die oë van die HERE net soos sy vader Dawid gedoen het. Hy het die hoogtes afgeskaf en die klippilare verbreek en die heilige boomstamme omgekap en die koperslang wat Moses gemaak het, stukkend gestamp, omdat die kinders van Israel tot op die dae daarvoor offerrook laat opgaan het; en hy het dit Nehustan genoem.”

Steeds weer keer terug dat mense dinge wil sien, hulle wil een of ander  voorsteling van die God hê om Hom so te aanbid. Die mens wil sien om te glo. Die mens wil sien ook as dit om godsdiens gaan. Hy dink dat hy so die gedagtenis aan God in sy lewe kan vashou.

 

Hoe is dit in ons tyd?

 

Die opvallende is nou dat ons in ‘n omgewing leef  waar die verering van beelde nie ter sprake is. Ons dink dikwels dat  net primitiewe mense en volke dit nog doen. Nogtans leef ons in ‘n wêreld waarin mense al hoe meer wil sien om iets te kan glo. Die sogenoemde visuele het weer baie belangrik geword. Mense wil liewer ‘n fliek sien met die persoon van Jesus in die hoofrol pleks om die Bybel te lees of die verkondiging van die evangelie te hoor. As ons dit sien kan ons dit beter verstaan, dit hou ons aandag meer vas, dit gee ons ‘n beter beeld van God en Jesus. ‘n Beeld wat ons dan beter kan vashou, sê mense.

Hier sien jy dat ons vandag regtig nie weggegroei het van wat mense die primitiewe neigings van ander noem nie.

 

Voorbereiding op die Nagmaal: Doen dit tot My gedagtenis.

 

Wat sê die Here Jesus nou vir ons? Paulus bring dit in 1 Kor 11:23-25 so onder woorde: “Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verrraai is, brood geneem het; en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot My gedagtenis.  Net so ook die beker na die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit,  so dikwels as julle daaruit drink, tot My gedagtenis.”

Dit is Christus self wat vir ons aanwys wat ‘n sigbare teken mag wees wat ons gebruik om steeds weer Sy beeld  voor oë te hê. Hoe belangrik is dit dan om steeds weer raak te sien dat ons die regte beeld van die HERE en van Christus kry. Juis daarom is dit so belangrik vir ons wat die Heilige Gees vir ons in Openbaring 22 sê: “Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is.” vs 18. Dit is nie maar net ‘n algemene reël nie! Hoe belangrik is dit ook hier dat ons nie meer en ander dinge van God en Christus wil weet as wat Hy self vir ons in die Bybel gewys het nie.

Dit wat die HERE vir ons in die Bybel vertel is die regte beeld van Hom. Dit wys wat Hy gedoen en gesê het. Dit wys dat dit wat Hy  gesê het genoeg is om Hom op die regte manier in gedagtenis te hê, om die regte beeld van Hom te hê. Die Here Jesus wys dit ook as Hy vir Tomas na Sy opstandingsê: “Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo;  salig is die wat nie gesien het en tog geglo het.”

Wat is dan die funksie van die Nagmaal as gedagtenis aan die Here Jesus Christus? Voeg dit iets aan die evangelie toe? Voeg dit iets toe aan die beeld van die Here Jesus toe?

Nee! Die Here het ons die Nagmaal nie gegee om iets aan Sy beeld toe te voeg nie maar om ons steeds weer aan Hom en Sy werk te herinner. Om die ware beeld van Hom soos ons dit in die Bybel vind in ons gedagtes diep en diep in te grif. Dit het ons steeds weer nodig om Hom waarlik te ken!  Sodat  Hy en Sy werk ons steeds weer opnuut  duidelik voor oë staan.

Daarvoor het ek geen beeld nodig, daarvoor het ek geen fliek nodig wat altyd weer dinge toevoeg wat nie tot die ware beeld van Christus behoort nie. Die gedagtenis in die Nagmaal laat jou hart, jou oë en jou hande weer na die Bybel teruggaan. Dit laat jou weer  na die Woord en die verkondiging van die evangelie teruggaan om weer te hoor en te lees wie Christus is en wat Hy gedoen het. Dit laat jou nie voor ‘n beeld kniel nie. Dan kom ek weer terug by wat ek in die Kategismus bely: “Mag ons beelde as “boeke van die leke” in die kerkgeboue toelaat? Nee, want ons moet nie wyser as God wil wees nie. Hy wil sy Christene nie deur stom beelde nie maar deur die lewende verkondiging van sy Woord onderrig.”  Vraag en antwoord 98.

Hoe goed is dit om Nagmaal te vier en dan Christus as jou Saligmaker voor jou te sien soos ons Hy Homself in God se Woord gewys het. Dis die regte beeld, die regte gedagtenis. Dan wil jy die beeld deur na God se Woord te luister en dit  te lees steeds duideliker en ryker sien. Dan is jy tevrede met daardie beeld, dan is jy versadig met daardie beeld. Dan ken jy Christus as die Verlosser, as jou Verlosser. Hoe heerlik is Sy gedagtenis.