Is die Bybel nog God se Woord?
Hierdie artikel het ek in 2003 as 'n lesing uitgespreek.
Die inhoud, ek is jammer om dit te sê, is sowel in Suid-Afrika
as in Nederland nog baie aktueel.
IS DIE BYBEL NOG GOD SE WOORD?
Die laaste jare hoor ons al hoe duideliker die geluid dat ‘n mens die Bybel nie in alles as God se onfeilbare Woord kan gebruik nie. Sekere dinge wat ons in die Bybel kan ons in ons samelewing nie meer glo of toepas nie.
Hoe kan die moderne mens nou nog glo dat Adam en Eva die eerste mense was? Hoe kan mense in ons tyd nog aanvaar wat die Bybel oor die gesagsverhouding tussen man en vrou in die Bybel sê? Dit is in ons tyd tog nie meer moontlik om te sê dat vroue nie ampsdraers in die kerk mag wees nie? Hoe kan ons in ‘n tyd nog sê dat net die geloof in Christus die waarheid is en dat al die ander godsdienste valse godsdienste is? Die druk word ook al hoe groter om dit wat die Bybel oor homoseksualiteit sê eenkant te skuif en te sê dat ons vandag nie meer so kan en mag dink nie.
Die druk van ons tyd en samelewing is baie groot. Hierdie druk word nog groter omdat leraars en professore wat aan die kweekskole klas gee vir ons sê dat ons die Bybel nie meer so naief moet gebruik nie. Ons moet daarmee rekening hou dat mense die Bybel geskryf het. Natuurlik sê hulle is die Bybel ‘n besondere boek maar ons moet nie vergeet dat die menslike inbring, die menslike faktor ook daar is. Dit het die kerk sê hulle dan vroeër nie gesien of nie genoeg wil raaksien nie.
‘n Ander manier om die Bybel met ons tyd in ooreenstemming te bring is om te sê dat sekere skrywers in die Bybel hulle so sterk by hulle tyd aangepas het dat hulle sekere voorskrifte by hulle tyd aangepas het. Hulle tyd sou nog nie ryp vir die ware gebod van die HERE gewees het nie. Dit word dan veral op die posisie van die vrou toegepas. Die Heilige Gees laat Paulus in 1 Timoteus 2:12-14 skryf: “Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou. Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva. En Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom.” Volgens die verklaarder in die Bybellennium is hierdie woorde geen norm vir ons nie maar het Paulus hom hier by sy tyd aangepas omdat anders die evangelie deur baie minder mense aangeneem sou word.
Ek noem nog een ander voorbeeld in die Bybellennium waarin die norm van die Skrif eenkant gesit word omdat dit nie by die gedagtes en gevoelens van ons tyd pas nie. Ons lees in 1 Korintiërs 6:10: “Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beerwe nie.” Die woorde “wellustelinge en sodomiete” wys op homoseksualiteit. Die Nuwe Vertaling het hier dan ook: “of mense wat homoseksualiteit beoefen”.
Die uitlegger in die Bybellennium skryf hierby: “Ander sake in Paulus se sondelys (6:9,10) blyk ook nie so eenvoudig te wees nie. Dit word allerweë aanvaar dat alkoholisme (dronkenskap) beter behandel kan word deur dit as siekte te hanteer, eerder as ‘n sonde. Daar is tans hewige debatte aan die gang of homoseksualiteit ‘n sonde is. Daar is aanduidings dat die oorsake daarvan geneties kan wees. Paulus praat in elk geval net van manlike homoseksualiteit, naamlik “malakoi” (verwyfde mans, die passiewe vennoot) en “arsenokoitoi” (die aktiewe vennoot). Daar is lidmate en ampsdraers in bestaande kerke wat praktiserende homoseksuele is. Die weersin daarteen het eenvoudig die saak ondergronds gedruk. ‘n Openlike debat oor die saak is tydig. Is ons werklik vandag bereid om al die mense wat in 6:9,10 genoem word met skuldigbevinding uit die kerklike gemeenskap uit te sluit indien hulle weier om te verander?”
‘n Mens sien hoe die Bybel as God se norm vir die lewe eenkant geskuif word of bevraagteken word. Dit gebeur nie buite die kerke nie maar in die kerke. Dit gebeur deur mense wat in die kerke leiding gee en nie deur mense wat openlik vyande van die evangelie is nie.
Belangrike verteenwoordigers van die grootste kerk onder ons Afrikaners, die NG, soos Christina Landman en Isak Spangenberg kom met al hoe meer skokkende uitsprake wat daarop moet wys dat die Bybel nie God se Woord is nie en dat die norme in die Skrif outyds is en aangepas moet word. Nou sê jy dalk dat hulle ekstreme uitsprake doen en dat daar baie is wat anders dink en praat. Dit is so maar dit wil nie sê dat die meer gematigdes die Bybel in alles as God se onfeilbare Woord aanvaar nie. ‘n Baie invloedryke persoon wat as meer gematig bekend staan is professor Adrio Konig. Hy het hierdie jaar ‘n geloofsleer laat verskyn onder die titel: Fokus op die 300 Geloofsvrae. Ek sou baie dinge kan noem waar Konig die Skrif nie eerbiedig soos die HERE dit vir ons gee nie. Ek noem nou een voorbeeld en dit gaan oor die maagdelike geboorte van die Here Jesus. Wie hierdie gedeelte in sy boek lees kom agter dat ‘n mens volgens hom mooi gedagtes aan hierdie maagdelike geboorte soos dit in die Bybel genoem word kan ontleen maar dit vandag nie nodig is om te glo dat dit toe so gebeur het nie. Ek gee die volgende aanhaling van bladsy 241: “’n Ander argument ten gunste van die maagdelike geboorte was dat menslike bydrae tot die geboorte van Jesus uitgeskakel is. Net die vrou, wat die onvangende persoon sou wees, was betrokke. God gee haar die kind; sy (die mens) ontvang net. Dit is ook die “metode” waarop God ons in die heil laat deel. Daarom is die maagdelike geboorte ‘n duidelike illustrasie van die wyse waarop die heil en vryspraak werk. Ons kan niks daartoe bydra nie, ons word gered.
Dit is ‘n pragtige gedagte, maar die model van die verhouding tussen man en vrou is verouderd. Dis die ou gedagte van die aktiewe man en die passiewe vrou, van die leidende man en die onderdanige vrou!”
Konig se gevolgtrekking is:
· “Daar word dikwels vreemde betekenisse aan sy maagdfelike geboorte geheg."
· "Tog kan dit vir ons die boodskap inhou dat Jesus op ‘n unieke manier gebore is omdat ons misluk het en God ‘n nuwe begin wou maak.”
Let hier op enkele sake:
1. Die woordjie kan wys daarop dat dit volgens Koning nie noodsaaklik is om te glo dat die Here Jesus op ‘n unieke manier in die wêreld gekom het nie.
2. Let daarop dat hy sê dat dit kan wys dat Jesus op ‘n unieke manier gebore is. Let daarop dat Konig nie daarvan praat dat Jesus op ‘n unieke manier verwek is nie
3. Die Skrif is hier volkome duidelik. Jesus is deur God in die maagd Maria verwek. Kyk Matt 1:20-23; Lukas 1:34,35.
Dit is die situasie waarin ons leef. Ons moet in hierdie situasie antwoord gee op die vraag: Is die Bybel nog God se Woord?
Is dit die HERE se onfeilbare Woord waarvoor in alle tye en kulture moet buig?
God se Woord!
Ek wil julle nou saamneem op ‘n korte reis deur die Bybel. Hoe kom dit wat ons in die Bybel lees in die geskiedenis na die mense toe wat hoor wat ons in die Bybel lees?
Laat ons by Genesis 1 begin. Toe die HERE in 6 dae Sy skepping gereed gemaak het, was daar geen mens wat daarvan iets gesien het nie. Selfs Adam as eerste mens het nie gesien hoe die HERE dit gedoen het nie en het ook nie gesien hoe God hom gemaak het nie. As Adam op die sesde dag na ‘n lewensmaat verlang maak die HERE Eva sonder dat Adam daarvan iets gesien het. Die HERE laat ’n diepe slaap oor hom kom en maak Eva uit een van sy ribbebene. Dit beteken dat geen enkele mense met eie oë gesien ‘n deel van God se skeppingswerk gesien het.
Dit wat ons daarvan weet, het geen anders oorsprong dan dat God dit vertel het en mense dit moes opskryf nie. God kom met Sy woorde na ons toe. So is dit ook in die paradys. Die HERE praat met die mens en so weet hulle wie die HERE is, wie hulle is en wat hulle moet doen.
Dit is dadelik na die sondeval nie anders nie. Die HERE soek die mens wat gesondig het weer op openbaar aan sowel Adam en Eva hoe hulle lewe deur die gevolge van die sondeval geraak word. Hy openbaar aan die duiwel wat sy straf sal wees en dat die Verlosser sal kom. Dit is die manier waarop dit deur die hele geskiedenis gaan. Dit is die HERE wat vir Moses vertel dat hy na Egipte moet gaan en wat hy daar moet doen. As die volk onder die HERE se leiding by die berg Sinai kom is dit die HERE wat self met Sy eie stem die tien gebooie vanaf die berg laat hoor.
Die heerlikheid en majesteit van God se stem is vir die volk teveel. Hulle vra of die HERE die ander sake nie vir Moses kan vertel en dat Moses dit dan weer aan hulle bekend maak. Moses gaan dan die berg op en daar gee die HERE dan nog baie van Sy wette en instruksie vir die volk. Dit is God se wette en nie wette wat mense, ook nie baie vroom mense self uitgedink het nie.
Ons lees ook meerdere kere dat die HERE die uitdruklike bevel gee dat dit wat Hy gesê het, opgeskryf moet word. Voorbeelde daarvan is:
Eks 17:14; 24:4
Jos 24:26
Spr 25:1
Jes 8:16; 30:8-15; 34:16
Jer 30:1-4: 36:1
Openb 2:1,8,12,18; 3:1,7,14.
As ons ons reis deur die Bybel voortsit en na die profetiese boeke kyk, sien ons weer hoe beklemtoon word dat dit wat ons in hierdie boeke lees van God kom. God se eie woorde is. Elke profetiese boek behalwe Jesaja, Daniël, Amos en Nahum het in die begin van die boek die vermelding dat dit die debar Jahwe, die woord van die HERE is. Ook die profetiese boeke waar ons hierdie woorde nie lees, beklemtoon dat die profeet nie sy eie woorde gepraat of opgeskryf het nie maar God se woorde.
Jesaja: “Die gesig van Jesaja, die seun van Amos, wat hy gesien het met betrekking tot Juda en Jerusalem, in die dae van Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, die konings van Juda. Hoor, o hemle, en luister, o aarde, want die HERE spreek:”
Die Heilige Gees beklemtoon ook in die boek Daniël dat die HERE met Sy Woorde tot mense kom. As Daniël drome uitlê beklemtoon hy steeds wees dat dit die HERE is wat vir hom gesê het wat die droom was en/of wat die uitlegging van die droom is. Kyk Dan 2:17-23,27,28;47; 4:24; 7:1,16.
Na die eerste vers van die boek Amos waar gesê word dat Amos hierdie woorde van die boek uitgespreek het lees ons: “En hy het gesê: Die HERE brul uit Sion en verhef Sy stem uit Jerusalem, sodat die weivelde van die herders treur en die top van Karmel verdor. So sê die HERE:”
Die boek Nahum begin nie met die woorde: die Woord van die HERE nie maar ons lees daar vanaf die staanspoor: “Godspraak oor Nineve.”
As ons nou aan die Nuwe Testament dink, is baie belangrik om te besef dat die Here Jesus wat God se Seun is, wat self God is die hele Ou Testament as God se eie Woord aanvaar en Hom daaraan onderwerp.
Hy doen wat die Skrif sê en gebruik die Skrif as die waarheid. Dit wat die Here Jesus sê is niks anders as God se eie woorde nie. Die Here Jesus wys steeds weer daarop. Enkele verse waar ons dit baie duidelik raaksien noem ek nou:
“Ek kan van Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het.” Joh 5:30
“Ek het baie dinge om van julle te sê en te oordeel; maar Hy wat My gestuur het, is waaragtig; en Ek, wat Ek van Hom gehoor het, dit spreek Ek tot die wêreld. Hulle het nie verstaan dat Hy met hulle van die Vader gespreek het nie. En Jesus sê vir hulle: Wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, dan sal julle weet dat dit Ek is; en uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek.” Joh 8:26-28
Selfs die Here Jesus beklemtoon dat dit wat Hy sê van die Vader, vanuit die hemel kom. Hy beklemtoon dat dit Goddelike woorde is!
As Christus Sy werk gedoen het laat Hy die Heilige die apostels lei sodat hulle die waarheid kan herinner en opskryf. Joh 16:13. Dit is die Gees wat sorg dat die Bybel kompleet raak. Die Bybel is God se werk. Hy het daarvoor gesorg dat Sy Woord opgeskryf is en ook bewaar is. Dit is vanweë God se werk dat van die hele Bybel geld wat ons lees in 1 Timoteus 3:16,17 en in 2 Petrus 1:19-21:
1 Tim 3:16,17: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
2 Petrus 1:19-21: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; terwyl julle vooral dit moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.”
Hierdie baie kort reis deur die Bybel maak ons duidelik dat die Bybel God se Woord is en altyd bly. Die HERE het mense gebruik om Sy Woord te verkondig en op te skryf maar dit doen deur God se besondere sorg daarby niks van die waarheid en gesag van die Bybel af nie. Die Gees het die mense wat Hy gebruik het so geheilig dat menslike tekorte en sondes Sy Woord nie kon afbreek of aantas nie.
God se Woord is ‘n eenheid
As ‘n mens een keer deur God se genade gesien het dat die Bybel God se Woord is, sien ons ook raak dat die Bybel ‘n eenheid is. Dit kan dan nie meer ‘n boek wees waarin teenstrydighede staan nie. Dit kan dan nie meer ‘n boek wees wat teenstrydige boodskappe uitdra nie.
Hoekom is dit onmoontlik? Omdat die HERE een is! Hy is die enigste God en Hy is die betroubare en daarom ook die onveranderlike. Jakobus skryf: “Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.” 1:17. Paulus skryf aan Timoteus selfs: “God kan Homself nie verloën nie”. Dit wat die HERE sê is so betroubaar dat ons in Psalm 12:7 lees: “Die woorde van die HERE is rein woorde, silwer wat gelouter is in ‘n smeltkroes in die aarde, gesuiwer sewe maal.”
Juis omdat die HERE die waarheid is en alle waarheid van Hom as die Onveranderlike kom, kan Sy Woord nooit teenstrydig wees nie. Nogtans is daar vandag baie teoloë, ook in ons Afrikaanse kerke wat sê dat ‘n mens verskillende, teenstrydige boodskappe in die Bybel kan lees. Die een Bybelskrywer sou ander gedagtes wil uitdra as die ander. ‘n Voorbeeld daarvan is wat Isak Spangenberg in sy verklaring van die Bybelboek Prediker skryf: “Die prediker dink en praat inderdaad anders oor God as die ander skrywers van die Ou Testament – om nie eens te praat van die skrywers van die Nuwe Testament nie. ….. Ons weet ook dat die Prediker dwarsdeur sy geskrif met die ouer leermeesters (veral die skrywer van Spreuke RV) argumenteer oor hul standpunte en beskouings en daarom is dit te verwagte dat hy ook met hulle sal argumenteer oor hul Godsbeskouing. Anders gestel: dat hy nie vrede sal hê met dit wat hulle van God sê.” (bls 20,21)
“Niemand kan ontken dat die Prediker se siening van die dood radikaal anders is as Christene s’n. Hy maak byvoorbeeld nie melding van die opstanding en God se regverdige oordeel nie. Om die waarheid te sê: daar is in die boek geen sprake van ‘n lewe na die dood nie. Vergelyk ons sy siening van die dood egter met die sienings wat ons in die res van die Ou Testament aantref, is daar opvallende ooreenkomste, maar ook radikale verskille.” (24)
“Om dieselfde rede ontken Prediker enige moontlikheid van nadoodse roem (2:16) en dat ‘n mens jou sterfuur kan verander (3:2; 8:8). Volgens hom is daar geen onderskeid tussen die dood wat alle mense moet sterf en die dood wat ‘n mens weens dwase optrede kan sterf nie. Daar is slegs een dood – die een wat vir almal onverwags en plotseling kom en die mens se bestaan bedreig.” (27)
Hierdie gedagtes tas nie net die Skrif aan nie maar tas dadelik die regte kennis en beeld van God aan. Wie die Bybel nie as die volledige onfeilbare en betroubare Woord van God aanvaar nie, leef nie met die HERE soos Hy is nie. Dit is ook daarom dat ons in die laaste hoofstuk van God se Woord hierdie sterk woorde lees: “Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie woorde byvoeg, dan sal God oor Hom die plae byvoeg waarvan hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskryf is.” Openb 22:18,19
Hoe belangrik is dit om vanuit die aanbidding van God Sy Woord met besonder groot eerbied te lees en te wil verstaan.
Die erns van die situasie
Die Bybel word deur mense ontgoddelik. Dit gebeur in kerke en in die naam van kerke wat hulle bestaan met Christus verbind. Mense praat baie mooi en dierbare woorde. Nogtans het die mens op die troon gaan sit en die HERE volgens sy gedagtes van die troon gestoot.
Dit is nie meer God se Woord wat ons gebruik om ons gedagtes te vorm nie. Dit is nie meer die Bybel wat ons gebruik om te sien wat goed en verkeerd is nie. Dit is nie meer so dat ons sekere gevoelens en gedagtes in ons lewe bestry omdat ons weet dat dit volgens God se Woord nie goed is nie.
Die omgekeerde gebeur. Die Bybel en dit wat in Bybel staan moet nou aan die gees van die tyd aangepas word. Ons moet met ons tyd saamgaan. Ons het die mense in die tyd van die Bybel in wysheid en verstand voorbygestreef en daarom kan ons oor die Bybel heers. So verval ons eintlik weer in dieselfde patroon as die mense wat die afgode in Israel se tyd gedien het. Hulle gode was die gode soos hulle die gode wou hê. Die gode was eintlik nie anders as baie magtige mense nie. Hierdie gees het in kerke gekom, hierdie gedagtes het in prediking en kategese binnegekom. God en Christus is persone wat aan ons gedagtes en gevoelens moet voldoen. So verdwyn ook die oordeel en die ernsige vermaan uit die prediking. So verdwyn die tug uit kerke.
Dit het alles te doen hoe mense met God se Woord, met die HERE self omgaan en hoe hulle aanbidding is. As mense begin om God se Woord volgens eie gedagtes te beoordeel is dit ‘n groot gevaar vir ons en ons kinders. ‘n Mens is vanuit sy sondige hart baie gevoelig vir hierdie geluide.
‘n Groot gevaar is dat ons net let op die mees radikale uitsprake wat deur teoloë gedoen word. As ons dan by ander ‘n versigtige manier van Skrifkritiek sien, sê ons dat dit nie so erg is nie. Die gevaar is dat ons aan al sterker uitsprake gewoond raak en daardeur die kritiek op die Skrif nie meer bestry of raaksien wat dit op ‘n versigtiger manier doen.
Hoe belangrik is dit dat die gelowiges wat in alles vir God se Woord wil buig hande vat. Dat ons mekaar help om die Skrif te verstaan. Dat ook in Afrikaans ‘n reeks van betroubare Bybelverklarings kom wat ons self sonder wantroue kan gebruik en met vertroue in hande van ons kinders en vriende kan gee. Hoe belangrik is dit dat ons nie meer teologiese skole en kerklike aktiwiteite ondersteun waar die Skrif nie as die onfeilbare Woord eerbiedig word nie. Hoe belangrik is dit dat die Afrikaanssprekende gelowiges wat die Skrif as die onfeilbare Woord erken en die gereformeerde belydenis wat met die Skrif ooreenstem liefhet mekaar soek en ook kerklike eenheid soek en vind. ‘n Eenheid wat ook kerklik Sy fondament vind in die eenheid van die geloof in volkome binding aan die Bybel as die Woord van God en die gereformeerde belydenisskrifte wat daarmee in ooreenstemming is. Ons mag nie daar bly waar die Woord van ons God en Heiland betwyfel en bevraagteken word. Dit is lewensg3evaarlik vir onsself en vir ons kinders. Die HERE vra van ons dat ons vanuit die band aan Christus en daardeur in eerbiedige onderworpenheid aan Sy Woord die eenheid van die geloof wys en as gemeentes van gelowiges mekaar vanuit die eenheid opbou.
Daarom wil ek hierdie lesing afsluit met die bede:
“Vader in die hemel, vernietig die werke van die duiwel, elke mag wat teen U opstaan, en alle kwaadwillige planne wat teen u heilige Woord bedink word. Laat hul weer met my vergader wat u Naam van harte vrees, dat ons, in u woord verenig, een gemeenskap weer kan wees. Laat my hart maar net opreg wees voor U oog wat alles sien, dan sal my geen skaamte oorkom nie as ek U van harte dien.
In Jesus se naam en net uit genade. Amen. "