Is ouderlinge gebedsgenesers?

10-06-2013 07:14

IS DIE OUDERLINGE GEBEDSGENESERS?

 

Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here gesalf het. En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig.” (Jak 5:14,15a) 

 

 

Die woorde wat hierbo afgedruk is roep altyd weer vrae op. Dit is ook ‘n gedeelte waarmee ons ons as gereformeerdes dikwels ‘n bietjie verleë voel. As  ‘n mens dit lees lyk dit asof  charismate wat o.a. vanuit hierdie teks op die gebedsgenesing wys, reg is. Ons ontken nie dat iemand op die gebed genees kan word nie. Ons bely dat die HERE op die gebed wonders kan werk.

Maar wat moet ons met vers 14,15 as ons daar lees dat as iemand siek is hy die ouderlinge moet inroep en dat die sieke op die gebed gered, weer opgerig sal word? Sê die Heilige Gees hier tog nie dat as ons ‘n ouderling by ons siekbed roep en hy bid in geloof dat ons dan verseker van ons siekte sal herstel nie?! Is dit ons wat hier die Bybelse spoor verlaat het? Moet ons ons op hierdie punt bekeer, moet ons hier verander?

Ons moet hierna baie mooi kyk. Ons moet dit ook eerlik doen en baie mooi gaan kyk wat Jakobus hier skryf. Dan kan ons ‘n verantwoorde en oortuigende antwoord gee. Dit beteken dat ons baie mooi na die vertaling en ook na ander uitleggings moet kyk.

 

Word elke sieke wat glo op die gebed weer beter?

 

Ons lees in sowel die Ou as die Nuwe Vertaling  van iemand wat siek  is. In vers 15 lees ons die woord  kranke ( Ou Vertaling) of sieke (Nuwe Vertaling). As ons hierdie woorde so moet vertaal, gaan dit hier om die siekes in die gemeente. Jakobus roep hulle dan op om die ouderlinge te roep om by hulle pastorale besoek te bring. Die belangrikste van die pastorale besoek is dan  dat die ouderlinge vir hierdie sieke bid. Hierdie gebed,  die gebed van ‘n ampsdraer wat regtig met die Here leef, maak die sieke dan gesond. Dit sou hier dan om gebedsgesing gaan. ‘n Gebedsgenesing wat altyd tot herstel lei as dit op ‘n goeie, gelowige manier gedoen word. Ons lees naamlik in vers 15: “En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig.”

Nogtans besef elkeen wat die Bybel goed ken dat die Heilige Gees dit hier nie kan sê nie. Ons lees verskillende voorbeelde in die Bybel dat ware gelowiges nie van ‘n siekte herstel het nie terwyl ampsdraers naby hulle was.

Ons lees in Fil 2: 27 dat Paulus se medewerker Epafroditus baie siek was. Hy was op die randjie van die dood. Dit is duidelik dat Paulus en ander verwag het dat hulle vriend en broeder sou sterf. Paulus skryf  nie: Toe het ons gebid en dus het  hy weer gesond geword nie. Epafroditus het weer gesond geword omdat “God hom barmhartig was”.  Die HERE kon in Sy  mag en liefde ook anders besluit het. Ons lees in 2 Tim 4:20: “Erastus het in Korinthe gebly. Trofimus het ek siek in Milete agtergelaat.”

Hoe kan dit as duidelik is dat as ‘n ampdraers vir ‘n broeder bid, hy verseker weer gesond word? Dink ook aan die voorbeeld in Paulus se eie lewe. Hy sukkel geweldig met ‘n doring in die vlees. Dit beperk hom. Hy bid tot die HERE, tot drie keer toe en dan maak die Here vir hom duidelik dat Hy die doring nie uit Paulus se lewe sal wegneem nie. Dus ook nie as die ouderlinge vir hom  bid nie. Die HERE se antwoord is: “My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.” (2 Kor 12:9)

 

Gaan dit hier om ‘n tydelike gawe?

 

Meerdere gereformeerde Skrifverklaarders probeer die probleem van ons verse oplos deur daarop te wys dat in die eerste tyd van die Christelike kerk daar nog die besondere gawe van die genesing aanwesig is. Voorbeelde van hierdie verklaarders is Calvyn, Van Bruggen en Floor (in mindere mate) Hulle wys op 1 Kor 12:9,11, 28,30   waar ons o.a. lees van die genadegawe van genesing wat nie elkeen het nie. Ander voorbeelde is die apostels en die 70 wat die Here Jesus uitgestuur het en wat die besondere gawe van genesing ontvang het. ‘n Groot probleem by hierdie verklaring is dat ons nêrens lees dat die ouderlinge in die eerste tyd  die gawe van genesing moes hê om ouderling te kan wees nie. Ons lees dit ook nie in die gedeeltes, 1 Tim 3 en Titus 1 waar ons lees aan watter voorwaardes ouderlinge en diakens moet voldoen nie. ‘n Poging om die moeite in ons teks weg te neem is die verklaring dat dit by die ouderlinge in ons teks om ouderlinge uit Jerusalem sou gaan. Die gelowiges is uit  Jerusalem verstrooi. Die apostels bly in Jerusalem en ook ander leiers van die gemeente. Die verstrooides sou nie eie gemeentes gevorm het nie maar nog steeds die ampsdraers in Jerusalem as hulle kerkraad, as hulle oudstes erken. Hierdie oudstes sou in die eerste tyd net uit oor en ooggetuies van Christus se optrede bestaan het wat ook die gawe van genesing ontvang het. Dit  beteken dan dat Jakobus 5:14,15 net ‘n oproep is wat in die eerste jare van die Christelike kerk  geldig gehad het. Na die afsterwe van die oog en oor getuies het die gawe van genesing verdwyn  en kon hierdie deel van Jakobus se brief nie meer uitgevoer word nie.

Hierdie uitleg  bevry ons wel van ‘n probleem maar is nie waarskynlik nie en hou op sekere punte geen water nie.

‘n Mens kan hom amper nie voorstel dat as baie gelowiges,  enkele duisende, moet vlug en op verskillende plekke in Israel gaan woon dat hulle geen eie kerke gaan vorm het met eie ampsdraers nie. Ons lees juis in Handelinge 9:31:  “En die gemeentes deur die hele Judea en Galilea en Samaria het rus gehad.” Let op die meervoud gemeentes. Ons lees ook nêrens dat die ouderlinge in die begintyd van die gemeente van Jerusalem oor en ooggetuies van Christus se optrede moes wees wat ook nog die gawe van genesing gehad het nie. Hierdie uitleg is nie ‘n begaanbare pad om ons teks bevredigend te verklaar nie.

 

‘n  Ander vertaling

 

Laat ons nog ‘n keer na vers 14,15 kyk. Is dit werklik nodig om met siek en krank vertaal?  As ‘n mens na die Griekse woord in die eerste deel van vers 14 kyk, val dit op dat dit sowel siek-wees as swak wees, min krag hê kan beteken. Altwee die betekenisse kom ook  in die Nuwe Testament voor.  Dit is selfs nie so dat siek-wees die belangrikste betekenis is nie. Die kere dat ons die woord met swak wees, min krag hê moet vertaal is:  Rom  4:9; 5:6; 8:3,26; 14:1; 15:1; 1 Kor 8:9,10; 9:22; 11;29;  Gal 4:9; 1 Tes 5:14; Hebr 4:15; 7:18.

Dit is dus duidelik dat die verband waarin die woord gebruik word vir ons moet wys of die betekenis swak wees, min krag hê  beteken of siek wees.

As ons vir die betekenis swak wees, min krag hê  kies,  verdwyn baie probleme. Vers 13 wys op ‘n mens iemand  wat besondere moeites in sy lewe meemaak en van iemand wat in voorspoedige omstandighede leef.

Nou gaan dit in vers 14 oor iemand in die gemeente wat die krag, die energie, die uitsig mis om die lewe te kan lewe. Hy sien deur sy swak wees nie hoe hy verder kan lewe nie. Hy raak daardeur ook swak in geloof en begin met allerhande geloofsvrae worstel.  Hierdie swakte, hierdie futloosheid kan die gevolg van ‘n siekte wees, dit kan die gevolg van allerhande omstandighede wees. Omstandighede wat ‘n mens geestelik baie moeg maak en vir baie vrae laat vra. As iemand in die gemeente so voel, het hy ander mense nodig. Juis dan het hy die ouderlinge so nodig. Die ouderlinge wat vanuit die Woord  kan bemoedig, wat vir die broeder of suster weer perspektief kan gee.  Hy of sy het broers nodig wat in die swakheid van die geloof die goeie pad kan wys.

 

Roep die ouderlinge

 

Dit is ook opvallend dat hy die ouderlinge moet roep. Hierdie broer of suster het geestelike probleme en dit kan die ouderlinge nie dadelik sien nie. As iemand ernstig siek is, is dit sigbaar en sal die ouderlinge vanuit hulleself  die broeder of suster gaan besoek.

Wie geestelik deur die omstandighede futloos, depressief raak moet die ouderlinge roep. Ons moet dan nie sê dat die ouderlinge dit self moet opmerk nie of sê: Toe ek so depressief gevoel het, het ek die dominee of die ouderlinge nie gesien nie. Die Heilige Gees wys vir ons dat dit dan juis die taak van die gemeentelid is om die ampsdraer te skakel en  te vra vir ‘n besoek. Die inhoud van hierdie besoek moet dan veral deur die gebed  gekenmerk word: en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here gesalf het.

 

Die salwing met olie

 

Dit is duidelik, ook uit die vervolg dat die belangrikste die gebed is. Die salwing met olie was ‘n Joodse gebruik waarby iemand simbolies aan die HERE gewy word. Hierdie simboliese handeling moet  die  depressiewe broer of suster juis weer wys op die vreugde van die Gees. Die blydskap en die houvas wat hy in Christus mag hê. Olie by salwing is in die Bybel dikwels die simbool van die Gees. Dit is Christus wat vir elke gelowige die Gees en die inwoning van die Heilige Gees verdien het. Die gelowige moes dan ook in die naam van die Here, van die Here Jesus gesalf word. Die Here Jesus wat vol is van die Heilige Gees. Jesaja profeteer van Hom  in hoofstuk 61:3 dat Sy taak o.a. is om:  “vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle gegee word sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, ‘n gewaad van lof vir ‘n verslae gee”.

Die salwing met olie wys op die Gees wat die broer wat so depressief, so treurig voel,  weer vreugde, weer uitsig wil gee. Dit is God se belofte. Dan kom die gebed, die voorbede vir hierdie man of vrou sonder krag, sonder spankrag.

As die ampsdraers vir die broeder of suster bid en die broeder of suster leef ook in die verwagting op die HERE, sal die HERE hom of haar red.  Dit is red van die afval van die HERE. Dit is red van God se oordeel. Jakobus gebruik op 4 ander plekke in sy brief hierdie Griekse woord vir die ewige redding. Sien: 1:21; 2:14; 4:12; 5:20.

Nou is ons by vers 15. Ons lees daar in ons vertaling die woord kranke.  Hier gebruik die Grieks ‘n ander woord as in vers 14. Verplig hierdie woord vir ons om aan iemand te dink wat fisies siek is? Hierdie woord word net twee keer in die Nuwe Testament gebruik. Dit het in die Grieks drie betekenisse: vermoeid - afgemat wees, siek wees, sterf. Die enigste ander keer dat hierdie woord nog in die Nuwe Testament gebruik word is in Hebr 12:3. Ons lees daar: “Want julle moet ag gee op Hom wat so’n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie.” Ook hier het dit die betekenis vermoeid, afgemat wees.

Die Gees sê in hierdie verse dat die gebed van die ampsdraers, die gebed wat  vanuit geloof, vol verwagting na die HERE gegaan het die uitwerking het dat hierdie afgematte broeder, wat met die geloof worstel, gered word. Hierdie broeder of suster het begin wankel. Hierdie broeder wat die ampsdraers in sy stryd geroep het en vir hom laat bid het, sal van die afval van die Here gered word. Die Gees sal so in hom of haar werk dat  hy hom aan die Here Christus bly toevertrou. Christus sal hom weer oprig, weer krag gee om in die geloof staande te bly. Dit beteken nog nie dat sy omstandighede verseker sal verander nie. Dit is seker dat die HERE  vir hom in daardie omstandighede weer nuwe krag en geloofskrag gee om nie in die omstandighede vas te kyk nie en so die geloof te verloor nie.  

Ons sien hier die HERE se heerlike beloftes. Ons sien hier ook dat  ons nie onseker teenoor gebedsgenesers en  charismate hoef te wees nie wat sê dat wie genoeg geloof het altyd weer van sy siekte genees. Dit sê Jakobus 5:14,15 juis nie. Al verander omstandighede nie, al lê jy op jou sterfbed nogtans gee die HERE op die gebed al die krag wat nodig is om in geloof staande te bly.

 

Ds. Rob Visser