Kerk en verskeidenheid - Kerk en verskeurdheid
KERK EN VERSKEIDENHEID – KERK EN VERSKEURDHEID
Toetsing bly altyd nodig
Ons mag nie staties oor die kerk dink nie. Dit is nie so dat 'n kerk wat ware kerk is altyd ware kerk bly nie. Dit is ook nieso dat 'n kerk wat vroeër valse kerk was nooit ware kerk kan word nie. As gereformeerdes het ons o.a. die Nederlandse Geloofsbelydenis as ons belydenis aangeneem. Dit beteken dat ons ons aan hierdie belydenis verbind omdat ons daarvan oortuig is dat dit in alles met God se Woord ooreenstem.
Dit beteken ook dat ons altyd weer geroep is om die kerk waarvan ons leraars of lidmate is, te toets. Die 3 kenmerke van die ware kerk wat in artikel 29 genoem word, is nie bedoel om te sê: Ons is ware kerk en dus kan 'n mens die 3 kenmerke van Christus se kerk by ons vind nie. As ons so redeneer het ons in die slaggat van menslike hoogmoed, tradisionalisme en kerkisme geval. Dan het die kerk by ons 'n plek bo die Woord begin inneem en gebruik ons nie meer die
kritiese funksie wat God se Woord altyd in ons lewe moet inneem nie.
Ons sê dat die belydenis in alles God se Woord naspreek. Dit beteken dan ook dat ons vanuit die belydenis ook krities na ons eie lewe, na die kerk waarvan ons lidmate is, waarvan ons leraars is, moet kyk. Ons mag nie vergeet om onsself te beproef nie. Die Drie Formuliere van Eenheid is nie 'n kussing waarop 'n mens aan die slaap kan raak nie. Die feit dat ons kerke die 3 Formuliere van Eenheid aangeneem het mag ons nie vaak maak nie en veroorsaak dat ons nie meer skerp sien wat vandag gebeur en wat dit vir die kerk-wees van môre beteken nie.
As ons oor kerk en verskeidenheid en kerk en verskeurdheid nadink, moet dit regtig om Christus se kerk en verskeidenheid en Christus se kerk en verskeurdheid gaan. Dit gaan nie om 'n verskeidenheid waarvan ek persoonlik nie hou nie of wat ek self graag wil sien. Dit wat ons verskeidenheid en verskeurdheid noem moet normatief vanuit God se Woord so genoem kan word. En dit moet daarom ook aan die drie kenmerke van die kerk wat in artikel 29 genoem word, getoets kan word. Die suiwere verkondiging van die Woord, die bediening van Doop en Nagmaal volgens God se Woord en die regte toepassing van die kerklike tug het alles met verskeidenheid en ook met verskeurdheid te doen.
Verskeidenheid wat in Christus se kerk benut moet word.
Geen mens is dieselfde nie. God se skepping wys juis 'n groot verskeidenheid. Dit word al in Genesis 1 beklemtoon. Ons lees daar dat die HERE plante en diere volgens hulle soorte maak. (Gen 1:11,12,21,24,25)
Die verskeidenheid in die natuur wys op God se grootheid. Selfs as ons al hierdie verskeidenheid in een skepsel saam kon bring is God nog steeds groter.
By die mens wat na God se beeld en gelykenis gemaak is, sien ons vanaf die staanspoor verskeidenheid. Van hierdie verskeidenheid lees ons al in Gen 1:27: "En God het die mens geskape na sy beeld, na die beeld van God het Hy hom
geskape; man en vrou het Hy hulle geskape." Die mens is God se beeld in verskeidenheid, in die verskeidenheid van man en vrou. Dis 'n verskeidenheid wat ons moet eerbiedig, want dit is volgens Sy skeppingsorde aan ons gegee. (Sien ook 1 Tim 2:13)
Verskeidenheid by mense gaan verder as net die tussen man en vrou. Dis duidelik dat elke mens nie dieselfde werk op aarde gaan doen nie. By die uitvoering van die kultuuropdrag wat ons in Genesis 1:26 lees, ontstaan
differensiasie onder die mense. Dis nie nodig om dit as 'n gevolg van die sondeval te sien nie. Die engele het selfs verskillende take van God ontvang. Onder die engele is daar gerubs en serafs en dalk nog ander soorte engele. Een engel neem ook 'n hoër en meer verantwoordelike plek in God se diens in as 'n ander. Dink aan Migaël en Gabriël, dink aan die aartsengele.
Die differensiasie sien ons al by Adam se seuns Kain en Abel. Die een is 'n veeboer en die ander verbou veral koring. Hoe meer die mens ontdek, hoe meer dinge hy kan doen, hoe meer sien ons differensiasie. Hoe meer sien ons ook die
verskeidenheid van talente onder die mense raak.
Dis 'n verskeidenheid wat die HERE self in Sy skepping, in die mens gelê het. Iets wat ons nie in die kerk mag dooddruk nie. Dis skeppingsgawes wat ons juis in die kerk en ook in die wêreld moet gebruik. Ons moet dit juis
gebruik om Christus se kerk te bou. Dit mag nie so wees dat ons 'n kerk van min of meer dieselfde mense wil wees nie, van mense uit dieselfde sosiale klas, met ongeveer dieselfde idees nie. Die kerk mag nie 'n plek word waar
gelykgesindes en persoonlike vriende saamkom nie. Dit mag nie 'n vergadering word van mense wat by mekaar kom omdat dit so lekker voel nie.
Ons moet juis daarop gerig wees om die verskeidenheid wat in die gemeente aanwesig is te gebruik. Dis 'n verskeidenheid wat juis vir een doelwit gebruik moet word en dit is vir die opbou van Christus se Koninkryk. As die een doel
vergeet word, veroorsaak dit verdeeldheid en verabsolutering van een of twee gawes.
Dit sien ons duidelik in die gemeente van Korinte. Dis 'n gemeente wat sekere opvallende gawes so beklemtoon, dat dit die lewe in die gemeente en ook in die kerkverband en die verhouding met Paulus skeeftrek. Die gawe om in ander tale
te praat kry in hierdie gemeente 'n plek wat dit nie volgens die Heilige Gees se orde verdien nie. Hierop wys Paulus veral in 1 Kor 14. Voordat hy prakties hierop ingaan wys hy ons in hoofstuk 12 hoe belangrik dit is om die genadegawes wat lidmate in die gemeente ontvang het, raak te sien en te gebruik. Om dit ook te gebruik in die geheel van die bou van die gemeente. Dit wat ons in 1 Kor 12:4-7 lees is baie belangrik by die waardering en gebruik van hierdie gawes.
Ons lees in hierdie Bybelgedeelte die volgende: "Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees; en daar is verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde Here; en daar is verskeidenheid van
werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk. Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is." Vers 4-7.
Hierdie verskeidenheid moet ons in Christus se kerk gebruik en dan onder leiding van die Gees wat ons aan God se Woord bind. Dit beteken dat een gawe nooit die alleenreg in die kerk mag opeis nie. Dat 'n gawe nooit so gebruik mag word
dat dit duidelik teen die Bybel ingaan nie.
Die Woord waaraan die Heilige Gees ons bind is ook beslissend as dit om vryheid en verskeidenheid gaan. Dit kan maklik gebeur dat ons uit 'n sekere tradisie, uit 'n sekere denkklimaat en verwysingsraamwerk verskeidenheid onnodig verbied en terugdring. Dan is ons besig om 'n menslike wettiese juk op te lê wat die bou van die kerk nie bevorder nie. 'n Duidelike voorbeeld daarvan vind ons by die Fariseërs wat allerhande wetjies aan die volk opgelê het wat bo
God se wet uitgegaan het.
Verskeidenheid wat in die kerk mag bestaan
Die mens se verstand en kennis het as gevolg van die sondeval verminder en heeltemal vervorm. Selfs so dat die mens ook met sy verstand en kennis in die verkeerde rigting oplossings soek. As 'n mens deur God se Gees tot Christus
en Sy gemeente gelei is, het hy nog geen volmaakte verstand en kennis ontvang nie. 'n Mens kan nie van alles in hierdie wêreld sê hoe daaroor gedink moet word of van die dinge in die kerk, hoe dit gedoen moet word nie.
In die kerkgeskiedenis is etlike kere oor adiafora, middelmatige dinge gepraat. Om nou 'n praktiese ding te noem: As dit om die kontak met 'n buitelandse kerk gegaan het, was dit vir Calvyn 'n middelmatige saak watter vorm van
kerkregering hierdie kerk gehad het. Die vorm van kerkregering wat in die Anglikaanse kerk van krag was, was vir hom geen verhindering om hierdie kerk as ware kerk te erken nie toe hulle regtig vanuit die gereformeerde belydenis gelewe het. Dit was ook so toe ons gereformeerde vaders die Sinode van Dordtrecht 1618/1619 saamgeroep het. Die Anglikaanse kerk was ook genooi en die biskop van Kantelberg het 'n belangrike plek tydens hierdie Sinode ingeneem. Juis hierdie saak het in die Kerkorde wat in die Vrye Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika van krag is 'n duidelike plek gekry. Artikel 47 van hierdie Kerkorde bepaal: "Die buitelandse kerke sal nie op grond van ondergeskikte punte van kerkorde en kerklike praktyk veroordeel word nie."
Ons moet erken dat ons kennis gebrekkig is en dat dit op aarde onmoontlik is om die waarheid volledig te ken. Dit is selfs so ten aansien van sekere dinge in ons belydenis. Die kerk het die belydenis aangeneem en toe gesê dat dit in alles met God se Woord ooreenstem maar nogtans is die belydenis op sekere punte ook die mees verregaande ooreenstemming wat bereik kon word. 'n Konsensus waarby nie alles gesê is nie. As ons aan Die Dordtse Leerreëls dink het ons 'n duidelike belydenis ten aansien van die uitverkiesing in Christus. Nogtans het dit nie die verskil tussen infra en supra-lapsarisme vir altyd beslis nie. Die verskil oor infra en supra-lapsarisme gaan oor die volgorde van God se besluite.
Ons kan dink aan die uitleg van die woorde: "neergedaal het na die hel". Die Heidelbergse Kategismus gee daarvan in vraag en antwoord 44 'n sekere uitleg sonder dat die ander uitleg wat hel as doderyk wil verstaan regtig daarmee ver-
oordeel word.
Soms kan ons nie verder kom as om aan te toon hoe iets nie is nie. Sonder om met sekerheid te kan bely hoe iets presies wel moet wees. 'n Duidelike voorbeeld daarvan is hoe die Konsilie van Chalcedon in 451 van Christus as God en mens bely: Ongedeel-ongeskei; onvermeng-onverander.
'n Sekere verskeidenheid wat ons moet verdra het ook te doen met die manier waarop mense in die kerklike lewe optree. Duidelike voorbeelde Bybel daarvan is: Romeine 14 en 1 Kor 8.
Rom 14: 5,6: "Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees. Hy wat die dag waarneem, neem dit waar tot eer van die Here; en hy wat die dag nie waarneem nie, neem dit nie waar tot eer van die Here, want hy dank God; en wie nie eet nie, eet nie tot eer van die Here, en hy dank God."
1 Kor 8. Hier gaan dit om die verskil wat in die gemeente van Korinte oor die eet van offervleis bestaan. Paulus maak duidelik dat geen beginselbeswaar teen die eet van hierdie vleis bestaan nie. Nogtans is dit nie al wat hy sê nie want
in die verse 9-13 lees ons: "Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie miskien 'n struikelblok word vir die wat swak is nie. Want as iemand jou wat kennis het, aan tafel sien in 'n afgodstempel, sal sy gewete, as hy 'n swak man is, nie aangemoedig word om van die offervleis aan die afgode te eet nie? En moet die
swakke broeder vir wie Christus gesterf het, verlore gaan deur jou kennis? Maar deur so teen die broeders te sondig en hulle gewete wat swak is, seer te maak, sondig julle teen Christus. Daarom, as voedsel my broeder laat struikel,
sal ek in der ewigheid geen vleis eet nie, om my broeder nie te laat struikel nie."
Ons moet ons vryheid ook nie so gebruik dat dit broers of susters so in verwarring bring dat hulle daardeur in sonde begin lewe nie.
KERK EN VERSKEURDHEID
Wie is 'n skeurmaker?
Ons moet op hierdie vraag 'n duidelike antwoord kan gee. Wanneer het mense skeurmakers geword? Wanneer is 'n afskeiding skeurmakery pleks reformasie?
Ons kry met skeurmakery te doen as mense hulle eie siening so sterk dryf dat hulle nie meer die verskeidenheid in die kerk wil aanvaar en verdra wat volgens God se Woord verdra moet word nie. Dis skeurmakery as ons mense in die kerk aan meer wil bind as waar die Skrif ons aan bind. As dit gebeur noem ons dit ‘n bo-Skriftuurlike binding. Dis skeurmakery as ons die groep opsoek of laat ontstaan waarby ons ons die beste tuisvoel en ons daarom van 'n ander afstig sonder om te kan sê dat hierdie kerk nie meer op die fondament van Christus, op die fondament van apostels en profete bou nie.
Voorbeelde van hierdie vorm van skeurmakery sien ons o.a. in die gemeente van Korinthe waar groepe rondom die naam en die uitstraling van sekere persone vergader. Paulus skryf daaroor: "Want dit is aan my deur die huisgenote van Chloë bekend gemaak aangaande julle, my broeders, dat daar twiste onder
julle is. Ek bedoel dit, dat elkeen van julle sê: Ek is van Paulus, en ek van Cefas, en ek van Christus. Is Christus gedeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig? Of is julle in die naam van Paulus gedoop? (1 Kor 1: 11-13)
'n Ander voorbeeld van hierdie vorm van skeurmakery sien ons in 'n bepaalde optrede van Petrus. Daarvan skryf Paulus aan die gemeentes van Galasië die volgende: "Maar toe Petrus in Antiochië gekom het, het ek hom openlik
teëgestaan, omdat hy veroordelend gestaan het. Want voordat sommige van Jakobus af gekom het, was hy gewoond om saam met die heidene te eet; maar na hulle koms het hy hom teruggetrek en hom eenkant gehou uit vrees vir die wat uit die besnydenis is. En saam met hom het ook die ander Jode geveins, sodat selfs Barnabas hom laat meevoer het deur hulle geveins. Maar toe ek sien dat hulle nie reguit loop volgens die waarheid van die evangelie nie, het ek vir Petrus in teenwoordigheid van almal gesê: As jy wat 'n Jood is, soos 'n heiden lewe en nie soos 'n Jood nie, waarom dwing jy die heidene om soos Jode te lewe?" Gal 2:11-14
Sodra ons mense gaan bind aan menslike gebruike waaraan God ons nie bind nie is ons met skeurmakery besig.
Bind en ontbind
Baie belangrik vir die problematiek van kerk en verskeurdheid is wat Christus na aanleiding van Petrus se belydenis dat Hy die Christus is van die sleutels van die koninkryk en die bind en ontbind, sê. Ek wil nou enige aandag aan Mat 16:19 gee.
Christus sê daar: "En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees."
Wat is nou die verhouding tussen die sleutels waarvan Christus praat en die bind en ontbind? Is dit so dat Hy daarmee op 2 sleutels wys waarvan een die toegang tot die hemelse Koninkryk oopsluit en die ander die toegang tot
hierdie Koninkryk toesluit?
Dis nie die geval nie want die woorde bind en ontbind het onder die Jode 'n besondere betekenis gehad. Hierdie woorde het by Jesus se leerlinge dadelik 'n sekere gedagte, 'n bepaalde beeld opgeroep. Dis ook die manier waarop hierdie
woorde op ander plekke in die Nuwe-Testament gebruik word. Mat 5:19; Joh 7:23; 10:35; Rom 7:2; 1 Kor 7:27,39.
As die Jode gesê het dat hulle iets bind of ontbind, het dit beteken dat hulle iets geldig of ongeldig, iets verbindend of nie verbindend verklaar het nie. Die Rabbyne het dan uitgespreek dat 'n sekere leer, uitspraak of lewenstyl reg of verkeerd was.
Petrus en die ander leerlinge en daarna die ampsdraers in Christus se kerk word geroep om te bind en te ontbind.
Hoe gaan Petrus en die ander apostels dit doen? Dis op die oomblik dat Jesus hierdie woord uitspreek nog toekomsmusiek. Dis musiek wat verseker werklikheid gaan word. In Mat 16:19 word nog die woord sal, die toekomende tyd gebruik. Voordat dit werklikheid kan word moet eers nog sekere
dinge gebeur en gedoen word.
Petrus het bely dat Jesus die Christus, die Seun van die lewende God is. Nogtans mag Jesus se leerlinge die mense nog nie daaraan bind nie. In vers 20 sê Jesus met klem vir Sy leerlinge dat hulle vir niemand mag sê dat Hy Jesus die
Christus is nie. Jesus gaan eers nog Sy leerlinge verdere onderwys gee. Die leerlinge moet eers nog meer van Hom weet, moet die regte beeld van Hom kry. Hulle moet nog leer dat Hy juis as die Christus, as die Seun van die lewende
God moet ly. Dit is iets wat hulle nog nie verstaan nie. Waarteen hulle selfs in verset kom. Dit sien ons al dadelik nadat Hy vir die eerste keer nadruklik oor Sy lyding praat. Kyk vers 22,23.
Jesus se leerlinge kan mense nog nie aan die regte beeld van Hom bind nie en kan daardeur verkeerde leer nog nie mooi herken nie. Hulle kan dit nog nie ontbind nie.
Jesus bly Sy onderwys gee. Hy doen dit ook dadelik na Sy opstanding. Dan verskyn Hy weer aan Sy leerlinge. As Hy die aand na Sy opstanding by hulle verskyn, wys Hy hulle hoe in die Ou-Testament van Sy lyding en opstanding geskryf word. Ons lees dan in Lukas 24:45: "Toe open Hy hulle verstand om
die Skrifte te verstaan." Nou het Sy leerlinge die regte beeld van Hom vanuit wat Hy gedoen het en wat Hy hulle uit die Ou-Testament geleer het. Hulle kan dit nou met God se Woord bewys. Hierdie aand verdwyn die sal, die toekomende tyd, wat ons nog in Mat 16:19 gelees het. Ons hoor nou uit Jesus se mond hierdie woorde wat duidelik uit die belofte van Mat 16:19 voortkom:
"Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sˆ vir hulle: Ontvang die Heilige Gees. As julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe; as julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou." (Joh 20:21-23)
Van daardie oomblik af moet die dissipels as Jesus se getuies optree. Hulle moet nou en in die toekoms duidelik maak waaraan mense gebind is. Wat die ware leer is, wat 'n lewe volgens Christus se gebooie is. Hulle moet op daardie
manier die pad na Christus, na die vergewing van die sondes wys. So moet hulle die evangelie verkondig en mense aan Jesus wat die Christus is, bind. Hulle moet vir die mense aanwys wat die geldige Woord van God is. Die Woord waaraan mense gebind is en waarsonder niemand gered kan word nie.
Dit het hulle ook in die praktyk van die eerste Christelike gemeentes gedoen. Hulle het gewys waaraan hulle gebind is as hulle regtig kerk van Christus wil wees. Hulle gebruik regtig die sleutels van die hemelryk.
Enkele voorbeelde daarvan is:
1. Hand 2: 38,42
2. Hand 5: 3-5, 9,10
3. Hand 15: 1,5,7,22,28,29
4. Die Nieu-Testamentiese briewe waarin verskillende sienings as dwaalleer aangewys word.
Die apostels het gewys wat die regte leer, wat die regte lewe is. Hulle het Christus se kerk in Sy naam daaraan gebind. Hulle het ook gewys wat dwaalleer is, wat 'n lewenstyl is wat in Christus se kerk nie kan bestaan nie.
Hulle het die dwaalleer en 'n lewe teen Christus se gebooie in ongeldig verklaar. Hulle het dit ontbind. Hulle het so die pad van die hemelse Koninkryk gewys. Hulle het so gewys waar Christus se kerk is. Daar waar die kerk op die
fondament van die apostels en die profete bou. Kyk Ef 2:20; Openb 21:14.
Wanneer word 'n kerk 'n kerk wat skeur?
Die antwoord daarop kan baie kort wees. Dit gebeur as 'n kerk nie meer bind aan dit waaraan Christus ons deur Sy apostels gebind het nie. As 'n kerk dit waaraan die Skrif bind ontbind en dit wat daar ontbind word geldig verklaar.
Dan word so'n kerk 'n gevaar vir God se volk. Dan is so'n kerk 'n instituut wat mense in verwarring bring. Dan saai hierdie instituut twyfel en wys selfs die verkeerde pad. Laat mense op 'n pad stap wat van Christus aflei. Daarvoor mag ons geen medeverantwoordelikheid neem nie. Ons moet in Christus se kerk voor die waarheid van die evangelie stry sonder om sektaries te word. Ons mag aan die ander kant nie aan 'n kerk bou waar waarheid en dwaalleer altwee 'n
wettige plek kan inneem nie. So'n kerk is nie Christus se kerk nie. Want Christus se kerk bind en ontbind in gehoorsaamheid en oorgawe aan die onfeilbare Woord van God.
Dit gebeur o.a. deur die binding aan die Drie Formuliere van Eenheid. Hierdie binding mag geen lippetaal wees nie. Dit kan makkelik so word. Mense begin dan om van 'n dinamiese binding aan die belydenis praat. Hulle begin om te sê
dat die belydenis ons 'n uitstaande voorbeeld van die geloof van die vaders gee waarop ons op ons manier voortbou. Woorde kan baie mooi klink maar steeds weer word duidelik dat hierdie woorde moet verdoesel dat mense, dat leraars,
dat kerke hulle nie werklik aan die leer van die Skrif wil bind nie. Mense wil nie antiteties teenoor die tydgees gaan of bly staan nie. Mense wil nie in die isolement hulle plek inneem nie. Hulle wil meer akseptabel vir die wêreld rondom hulle wees. Dit is 'n ding wat sowel in die teologie as in die kerklike lewe 'n verwoestende invloed uitoefen. Ons het hier te doen met ons doodsvyand die wêreld wat by ons ander doodsvyand ons eie sondige natuur aansluiting vind.
Ons sal dapper in die geloof moet wees en as leraars en lidmate van die kerk moet aanwys waaraan Christus se kerk gebind is en wat ontbind moet word. Ons moet wys wat verskeurdheid is en weier om in 'n kerk te lewe of te bly
lewe waar dwaalleer en 'n onbybelse lewe 'n wettige plek ontvang. Ons moet Christus se trop so lei dat ons saam 'n kerk mag vorm waar verskeidenheid in gehoorsaamheid aan Christus die kerk laat blom. Waar ons in christelike
verdraagsaamheid lewe, waar ons nie sektaries is nie. Waar ons ons onvoorwaardelike aan God se Woord bind en aan die belydenis wat daarmee in ooreenstemming is. As ons so lewe skeur ons nooit Christus se kerk nie, dan is ons geen skeurmakers nie maar kerk van Christus. Die poorte van die doderyk kan en sal hierdie kerk nooit oorweldig nie.
As ons so werk dien ons die vrede van Jerusalem, die egte eenheid van Christus se kerk. Dan staan ons nie medeskuldig aan skape wat in verwarring gebring word nie. Christus roep ons almal om so aan Sy kerk te bou.