Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 5
DIE NEDERLANDSE GELOOFSBELYDENIS
NGB Art 5.
DIE BYBEL DIE BOEK VIR DIE HELE LEWE ART 5 NGB
Die Bybel die belangrikste boek vir ons hele lewe
Wie werklik gereformeerd wil wees, moet sy gedagtes in die eerste plek aan die Bybel toets. As ons dit doen sal ons ook na die gereformeerde belydenis kyk. Ons is aan die gereformeerde belydenis gebind behalwe wanneer ons kan bewys dat die belydenis in stryd met God se Woord, met die Bybel is. Wanneer ons oortuig is dat 'n deel van die Drie Formuliere van Eenheid: die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls, in stryd met die Bybel is, moet ons die belydenis verander. ‘n Afrikaanse teoloog wat baie invloed gehad het en ook na sy afsterwe deur sy boeke en artikels baie invloed uitoefen is Ferdinand Deist. Hy het gesê dat hy 'n voluit gereformeerde teoloog is. Daarom probeer hy om sy gedagtes oor die Skrif teenoor die gereformeerde belydenis te regverdig. Hy het beweer dat dit wat hy oor die Heilige Skrif leer in ooreenstemming met die gereformeerde belydenis is. .
Bybel en geloof
Deist verantwoord hom in sy boek: "Kan ons die Bybel dan nog glo?" deur juis op artikel 5 van die Nederlandse Geloofsbelydenis te wys. Artikel 5 van die Nederlandse Geloofsbelydenis lui: "Ons aanvaar al hierdie boeke, (die 66 Bybelboeke R.V) en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig. Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind." Deist erken die Bybel egter nie as die onfeilbare Woord van God nie. Die Bybel is volgens hom 'n menslike boek met foute waarvan God gebruik maak. Hoe kan 'n boek vol foute nou 'n boek wees waarvolgens ons ons geloof moet rig, grondves en bevestig? Hoe kan die Bybel dan nog die norm vir ons lewe wees? Deist wys dan op een woord in die eerste sin van artikel 5 en sê dan dat die Bybel net vir 'n bepaalde deel van ons lewe gesag het. Ons lees dit in Deist se boek op bladsy 47. Ek haal die helfte van pag 47 aan sodat jy kan lees hoe Deist met artikel 5 omgaan. Daarna gaan ons dit aan die Skrif self toets. Hy skryf:
"In die eerste plek word hier bely dat ons die Bybel beskou as die enigste maatstaf waaraan ons ons geloofsuitsprake kan toets en waarop ons dit kan grond. Dit wil sê die opstellers het nie maar sommer so in die algemeen bely dat die Bybel 'n betroubare boek is nie. Hulle het gesê dit is 'n betroubare geloofsmaatstaf. Dit blyk ook uit hulle laaste argument oor waarom ons hierdie belydenis uitspreek, as hulle sê dat die dinge wat in die Bybel voorspel is, plaasgevind het. Hoogs waarskynlik het hulle hier die Christusgebeure in gedagte gehad: dit wat omtrent Christus in die Ou Testament voorspel is, het toe later, soos blyk uit die Nuwe Testament, so gebeur. Dit wil dan sê dat hulle 'n lyn deur die Bybelse boeke sien loop, 'n lyn waarop ons ons geloof begrond en waaraan ons ons geloof toets. 'n Mens sou dus hierdie belydenis soos volg kon parafraseer: "Ons beskou die Bybel as 'n betroubare maatstaf vir ons geloofslewe en geloofsuitsprake rakende die verlossingsplan van God in Christus."
Wanneer 'n mens mooi lees sien jy dat Deist die belang en gesag van die Bybel al hoe meer beperk. Die eerste wat hy sê is dat die Bybel net 'n betroubare geloofsmaatstaf is. Hy verdeel die lewe in die deel van die geloof en 'n ander deel wat buite die geloof staan. As ‘n mens dan weer verder lees sien ons dat die gesag van die Bybel nog meer beperk word. Die Bybel is volgens Deist geen betroubare maatstaf vir die hele terrein van die geloof nie. Hy skryf in die laaste sin wat ons aangehaal het dat die Bybel 'n betroubare maatstaf vir ons geloofslewe en geloofsuitsprake rakende die verlossingsplan van God in Christus is. Eers beperk Deist die gesag van die Bybel tot die terrein van die geloof en dan beperk hy dit binne die terrein van die geloof tot dit wat die Bybel oor die verlossing in en deur Christus sê. Is dit nou wat ons belydenis bedoel? Ons moet, om dit te kan raaksien, terug na die Bybel. Verdeel die HERE die lewe in 'n terrein van die geloof en 'n ander deel wat buite die geloof, buite die omgang met die HERE staan? Beperk die HERE self die gesag van die Bybel tot dit wat die Bybel van Christus en die verlossing deur Hom sê?
Mag die lewe gedeel wees?
As 'n mens sê dat die Bybel net beslissend is vir geloofsuitsprake, moet 'n mens tot die gevolgtrekking kom dat die HERE vir 'n deel van ons lewe nie die belangrikste is nie. Hierdie gevolgtrekking is in stryd met wat die HERE self in die Bybel sê. Ek gee daarvan 'n enkele voorbeeld. Ons kyk eers na dit wat ons aan die einde van die boek Prediker lees. Ons lees in Prediker 12:13,14: "Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense. Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg." Elke werk, die hele lewe het met die HERE te doen. Geloof, vertroue op die HERE, dat 'n mens na Christus luister, het betekenis vir elke oomblik van 'n mense se lewe. Ons mag geen enkele ding in ons lewe van die lewe met Christus, van die geloof, losmaak nie. Wat ons in Prediker 12 gelees het, lees ons o.a. ook in 2 Korinthiërs 5: 9,10 en Openbaring 20:12. 2 Korinthiërs 5: 9,10: "Daarom lê ons ons ook ywerig daarop toe, of ons inwoon of uitwoon, om Hom welbehaaglik te wees. Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad." Openbaring 20: 12: "En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en 'n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke." Die HERE beoordeel nie net 'n deel van ons lewe nie. Hy beoordeel ons hele lewe. Hy het ons Sy Woord, die Bybel, gegee vir die hele lewe. Die Bybel is nie net 'n geloofsboek nie, maar dit is die lewensboek. Die Bybel is die boek waarin die HERE ons die pad vir die hele lewe wys. Die lewe wat op geen enkele terrein van die geloof, van Christus losgemaak mag word nie.
Die Bybel is die lewensboek
Die Bybel is nie net 'n geloofsboek nie, maar dit is die lewensboek. Die Bybel is die boek waarin die HERE ons die pad vir die hele lewe wys. Die lewe wat op geen enkele terrein van die geloof, van Christus losgemaak mag word nie. Dat die Bybel nie net 'n betroubare maatstaf ten aansien van God se verlossingsplan in Christus is nie, bewys die Bybel self. Ek wys nou op een gedeelte in die Bybel wat dit baie duidelik sê. Ons lees daar dat die Bybel vir alles in die lewe van die grootste belang is. Ek dink aan 2 Timotheus 3:16, 17: "Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus." Dit gaan daarom dat jy vir jou hele lewe leer om soos ‘n mens van God te leef. Om in alles in jou lewe God se beeld op aarde te vertoon. Om weer werklik mens te wees. Die Bybel is beslissend en nuttig vir die hele lewe. Die Bybel is ook 'n baie praktiese boek. Wanneer ons net aan die boek Spreuke dink, aan al die dinge wat Christus van die gewone lewe sê. Wanneer ons dink aan al die konkrete voorskrifte wat die apostels in hulle briewe gee, sien ons dat die Bybel vir die hele lewe beslissend is. God se verlossingsplan in Christus het groot gevolge vir die hele lewe, die HERE vra van ons dat ons aan die Woord van Koning Christus in ons hele lewe gehoorsaam sal wees.
Ons mag Christus en Sy Woord buite geen enkele deel van ons lewe hou nie. As ons dit nogtans doen, is ons besig om twee here te dien. Wat sê die Verlosser daarvan? Dit: "Niemand kan twee here dien nie; want of hy sal die een haat en die ander liefhê, of hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God en Mammon dien nie!" (Mat 6:24)
Dit is duidelik dat die Bybel die geloof nie tot 'n deel van die lewe beperk nie. Die geloof, die kennis van God, die omgang met Christus moet die hele lewe beheers. Die Woord van God moet orals en altyd in ons lewe gehoorsaam word. As die HERE in Sy Woord so praat kan dit ook nie so wees dat die Belydenisskrifte, wat God se Woord wil naspreek, die geloof beperk net tot ‘n sekere deel van ons lewe nie.
Het die Bybel net Christus se koms en werk voorspel?
Die laaste sin van artikel 5 van die Nederlandse Geloofsbelydenis word deur Ferdinand Deist in sy boek “Kan ons die Bybel nog glo” op 'n snaakse manier uitgelê. Ons bely dat die Bybel self getuig dat die Bybel God se Woord is. Dit word in ons belydenis so onder woorde gebring: "en omdat hulle (die 66 Bybelboeke R.V) ook die bewys daarvan in hulleself het, aangesien die blindes self kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind." Deist skryf dan dat die Belydenis hier dalk aan die Christusgebeure gedink het. Die Nederlandse Geloofsbelydenis sou hier aan die dinge wat in die Ou Testament oor Christus voorspel is en in die Nuwe Testament gebeur het dink. Niks in artikel 5 wys egter hierop nie. Hier bely ons juis baie algemeen.. Die Ou-Testament profeteer nie net van Christus nie. Die profete wys ook op ander dinge wat in die toekoms gaan gebeur. Een van die baie voorbeelde is dat die HERE in 1 Kon 13 profeteer dat die altaar in Betel baie jare later deur koning Josia vernietig sal word. Kyk 1 Kon 13:2. Ook hierdie profesieë word vervul. Kyk vir die voorbeeld van 1 Kon 13:2: 2 en 23:15,16. Twee ander voorbeelde is:
1. Abram hoor van die HERE dat die volk wat uit hom sal voortkom die land Kanaan in besit sal neem, maar voordat dit sal gebeur sal hierdie volk 400 jaar in 'n ander land as vreemdelinge moet bly. Ons lees dit in Genesis 15:13: "Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in die land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word 400 jaar lank." Dit het in Egipte gebeur en daarna het Israel uit Egipte uitgetrek en Kanaan in besit geneem. Dit het die HERE in Genesis 15:14 profeteer.
2. Die HERE het die ballingskap van Israel na Babel voorspel en ook die terugkeer van 'n deel van die volk. Hy het selfs profeteer watter koning sal sorg dat Israel weer na Kanaan sal terugkeer. Die HERE sorg daarvoor dat dit wat Hy van die toekoms sê, gebeur. Nog voordat Juda in ballingskap was en voordat Kores gebore was sê die HERE deur Sy profeet Jesaja: "wat die woord van Sy kneg vervul en die voorsegging van Sy booddskappers volbring; wat van Jerusalem sê: Dit moet bewoon word; en van die stede van Juda: Hulle moet herbou word, en Ek sal sy puinhope oprig; wat vir die diepte sê: Verdroog! en jou riviere sal Ek laat verdroog; wat van Kores sê: Hy is my herder, en hy sal volbring wat My behaag deurdat hy van Jerusalem sê: Dit moet gebou word, en die tempel moet gegrond word." (Jesaja 44:26-28)
Daar is baie meer profesieë in die Ou-Testament as net die wat van Christus praat. Die Belydenis wys in art 5 van die NGB op al God se profesieë! Die Belydenis praat in die algemeen en dan is dit niks anders as subjektivisme en willekeur wanneer 'n mens sê dat artikel 5 net op die Christusgebeure dui. Deist doen dit omdat hy die gesag van die Bybel tot 'n sekere gebied van die lewe wil beperk en wil bewys dat die gereformeerde Belydenisskrifte sy siening staaf. Wanneer iemand die Bybel iets anders wil laat sê as wat die Bybel sê moet hy ook die gereformeerde Belydenis ander dinge laat sê as wat daar bely word. Laat ons gewaarsku wees.