Verassing (kremasie) in die lig van God se Woord

24-01-2014 21:31

 

DIE SKRIF OOR BESKAWING EN VERBRANDING.

 

Die woorde beskawing en verbranding kom in die titel van my lesing voor. Dit roep dadelik die vraag op of  enige verband tussen beskawing en verbranding bestaan. Ons neem die woord verbranding dan in die betekenis waarin dit ons vandag besighou. Die opsetlike verbranding van die liggaam nadat die dood ingetree het.  Die woord opsetlike is hier ook belangrik want baie mense het of deur verbranding gesterwe of hulle lyke is verbrand sonder dat dit opsetlik gebeur het. Ons kan hier dink aan mense wat op brandstapels, in hulle huise of  waar dan ookal deur die vuur oorval is en gesterf het.

 

Die verband tussen beskawing en lykverbranding.

 

Ek gaan nou op geen enkele manier herhaal wat dr. Hanno Boon vanoggend gesê het nie. Wie na hom geluister het en wie die geskiedenis van lykverbranding ken weet dat dit ook in samelewings voorgekom het wat  volgens menslike begrippe hoog beskaafd was. Die geskiedenis ken meerdere voorbeelde van in ons oë beskaafde volke waar lykverbranding die gewone manier van lykversorging is.[1]

Menslike beskawing in die algemeen is nie ‘n waarborg vir die verwerping van lykverbranding nie. Dit is nie so dat die verset teen lykverbranding in die mens se hart gevind kan word nie. Dit is nie een of ander natuurwet nie.[2]

Beskawing in algemene sin is nie ‘n norm wat lykverbranding veroordeel nie.

Die groot vraag om tog  oor beskawing en verbranding meer te kan sê is: Wat is beskawing? Wat is kultuur? Is dit wat ons die beskaafde wêreld noem ‘n eenheid?  

 

        Wat is beskawing?

 

Ons wil die antwoord op hierdie vraag uit die Bybel as God se openbaring vir ons kry. Die eerste hoofstuk van die Bybel is hier van groot belang. Ons lees daar dat die God is wat die mens na Sy beeld en gelykenis skep.[3] Hoe is die mens nou God se beeld, wat is Sy taak as God se beeld op aarde?

Dit: “En God het gesê: laat ons mense maak ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voeëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. …. En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.”

Die mens ontvang op dieselfde dag dat hy geskep word ‘n belangrike opdrag en ook ‘n hoë plek in die skepping. Hy is God se onderkoning wat in die Skepper se opdrag die hele aarde moet regeer en bevolk. Die mens is God se kroon op Sy skepping en mag God se medewerker wees.

Dit maak duidelik dat die mens nie soos een of ander onbeskaafde wese was wat tot ‘n beskaafde mens geevolueer het nie. Beskawing is nie iets wat  eers nie op die aarde was nie. Beskawing is nie iets wat na miljoene of miljarde jare gegroei het nie. Die beeld wat Willem de Klerk in sy boek: “Die vreemde God en sy mense” van die ontstaan van die mens en groei na beskawing  teken is in teenspraak met dit wat God in die Bybel sê. Hy skryf in sy boek wat deur baie mense in ons Afrikanersamelewing vorige jaar en hierdie jaar gelees is o.a: “Die aarde is triljoene jare oud. Ons tydsbesef kan dit nie omvat nie. Al wat Genesis 1 en ander soortgelyke antieke geskrifte verhaal, is twee dinge: God het alles geskep en die werksmetode wat Hy gekies het, is om te skep deur evolusieontwikkeling. ….. In die loop van die geskiedenis het god (nou met ‘n hoofletter geskrywe om die een ware God aan te dui) besluit om Hom aan die mens te openbaar. Dit was ‘n beslissende ingryp van God. Dit is waarvan ons lees in Genesis 1 en 2. God het Adam en Eva geskape as mense van ‘n ‘hoër orde’ as die bestaan de mense. Hy het Adam en Eva omvorm na sy beeld en sy lewensasem in hulle geblaas. ….. Die standpunt aanvaar die evolusieproses, wat vandag tog grootliks wetenskaplik bewys is; dit ‘verklaar’  die ‘andersheid’ van Adam en Eva in vergelyking met die oermense – hulle is deur God aangeraak en ‘n meerderwaardige mensegeslag is begin, wat waarskynlik die ander oermense oor geslagte heen oorwin en uitgeroei het; “[4]

Die mens het nie tot ‘n beskaafde mens geevolueer nie soos Willem de Klerk beweer nie. Die eerste mense volgens god se beeld was ook nie mense wat as meerderwaardige mense die minderwaardige van hulle soort maar vermoor en uitgeroei het nie. Dit pas eerder by onbeskaafde, barbaarse mense as by mense wat volgens die HERE se beeld, die HERE wat vol van liefde is, lewe!

Wat is egte beskawing? Dit is dat die mens volgens die doel lewe waartoe  God die mens gemaak het. Beskawing is nie in die eerste plek dat ‘n volk fatsoenlik is nie of dat ‘n volk kultureel en wetenskaplik hoog ontwikkel is nie. Die mens was vanaf die staanspoor, vanaf die eerste mense wat op aarde geleef het beskaafd. 

As ‘n mens die woord beskawing in algemene menslike sin verstaan moet ons sê dat lykverbranding ook by beskaafde volke voorkom. Die vraag is nou of lykverbranding ook by die beskawing behoort  wat  God van die mens verwag. Is lykverbranding in ooreenstemming met God se wil?

 

        Die dood het in die skepping gekom

 

‘n Mens kan nie dadelik ‘n antwoord op hierdie vraag  by die skepping van die mens verwag nie. God het naamlik die mens gemaak om te lewe en nie om te sterwe nie. Die perspektief  van die dood het vir die eerste mense op aarde nie bestaan nie. Hoe anders is dit as dit wat Willem de Klerk skryf dat die eerste mense volgens God se beeld die ander mense dalk uitgemoor het.

Die eerste mense, Adam en Eva, het die woord dood geken maar nie die saak nie. Hulle kom daarmee ook nie in aanraking as hulle volgens die HERE se wil bly lewe. As hulle altyd gehoorsaam bly, bly die dood vir ewig buite die lewe van die mens. Ons lees dit in Genesis 2:17. God het die eerste twee mense geskep en het hulle die pragtige tuin van eden gegee om in te leef. Alles rondom die mens is pragtig. Die mens kan heerlik lewe en mag van die vrugte eet wat  aan die bome groei. Die mens lewe in oorvloed. Adam en Eva mag God ontmoet en van Hom leer. Die hele skepping staan onder die mens en niks in die skepping is vir die mens ‘n bedreiging nie. Geen plant en geen dier nie. As die HERE in 6 dae Sy skepping  klaargemaak het, lees ons in Genesis 1:31: “Toe God sien alles wat Hy gemaak het, en – dit was baie goed.” Hierdie goed beteken ook dat die aarde wat God vir die mens as woning gegee het[5], vir die mens geen enkele bedreiging ken nie. Die bedreiging en die gevaar van die duiwel se kant kom later.[6]  As die mens gehoorsaam aan die HERE as s koning bly lewe, sal hy die dood nooit in sy lewe ken nie. Nogtans kan die dood in die mens se lewe kom. Die vraag hoe lyke versorg moet word is nie ‘n vraag wat in die paradys ‘n rol speel nie. Hierdie vraag kan opkom as die mens van die pad afwyk wat die HERE vir hom voorhou. Die HERE wil ‘n mens wat Hom in liefde en vrywillig gehoorsaam is. Daarom staan in die paradys een boom waarvan die mens die vrugte nie mag eet nie. Die naam van hierdie boom is die boom van kennis van goed en kwaad. Die Skepper wys Adam en Eva op hierdie boom. Ons lees daarvan in Genesis 2: “En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe. (16,17)

As die mens ongehoorsaam aan God word, kom die dood en die vraag na lykversorging in die wêreld. Ons lees in Genesis 3 hoe die mens van hierdie boom eet. Hoe hy dit doen nadat die duiwel vir Eva en Adam gelieg het en hulle hul deur hom laat verlei het om van die boom van kennis van goed en kwaad te eet. Dit is die oomblik dat die afbraak van die liggaam in die mens begin. Die mens word ‘n mens wat die dood sal ken en daarom die vraag moet beantwoord wat hulle met die mense gaan doen wat afgesterwe het.      

 

        Wat is die waarde van die begrafnis in die Bybel?

 

Wie die Bybel lees en daarop let hoe die liggame van geliefdes wat gesterf het, versorg word lees steeds weer dat hulle begrawe word.

Die eerste keer dat ons in die Bybel van ‘n begrafnis lees is as Abraham se vrou sara afsterwe. Abraham het van die inwoners van die land die spelonk Magpela gekoop as die begraafplek vir sy vrou. Gen 23. Abraham word later self op dieselfde begrawe. Gen 25:9,10. Abraham se seun Isak en sy vrou Ragel word ook begrawe. Gen 35: 19,29. Dieselfde geld van die aartsvader Jakob. Jakob word ook in die spelonk van Magpela begrawe. Sy seuns bring hom selfs vanuit Egipte daarheen. Gen 50:12,13  vgl 47:30.

God se volk in die Ou Testament doen baie moeite om hulle geliefdes te kan begrawe. Ek gee daarvan nou enkele voorbeelde:

1.                    Simson. Die rigter Simson het saam met duisende Filistyne die dood in die tempel van Dagon gevind. Sy familie het hom tussen die duisende dooie liggame gaan soek en hom in die graf van sy vader manoag gelê. Rigt 16:31.

2.                    Asahel. Asahel is ‘n vooraanstaande persoon in koning Dawid se leër. As hy in die slag by Gibeon deur Abner gedood word lees ons: “En hulle het Asahel opgetel en hom in die graf van sy vader, wat in Betlehem was, begrawe”. 2 Sam 2:23.

Die is God self wat die begrafnis as lykversorging voorskryf. Selfs iemand wat vanweë ‘n sekere misdaad waarop die doodstraf staan moet begrawe word. Dit geld selfs vir ‘n misdadiger wat so swaar gesondig het sy liggaam na die steniging nog ‘n ruk aan ‘n paal moes hang. Ons lees dit in in Deut 21:22,23:

“En as in iemand ‘n sonde is wat die doodstraf verdien en hy gedood word en jy hom aan ‘n paal ophang, dan mag sy lyk nie aan die paal oornag nie, maar jy moet hom sekerlik die dag nog begrawe.”

Die HERE self begrawe die liggaam van ‘n mens. Ons lees dit as Moses die berg  Nebo opgaan om te sterwe. Hy mag die land Kanaan nie binnegaan. Hy weet dat hy moet sterwe. Niemand is daarby as Moses, die Godsman, sy laaste asem uitblaas nie. Die HERE eer hom deur sy liggaam nie sommer op die berg te laat lê nie maar hom te begrawe. Ons lees dit in Deut 34:5,6:

“ Toe het Moses, die kneg van die HERE, daar gesterwe in die land  Moab, volgens die bevel van die HERE. En Hy het hom in die dal in die land Moab, teenoor Bet-Peor, begrawe; en niemand het tot vandag toe sy graf geken nie.”

Wie verder in die Bybel lees, sien steeds weer dat begrawe die gewone en eerbare manier is om ‘n mens wat gesterf het die laaste eer op aarde te bewys. Die Here Jesus word van skande gered dat  hy na sy dood  op die ashoop buite Jerusalem gelê sou word en sy liggaam daar deur die vuur wat daar brand tot as sou word. Dit was toe die gebruik om iemand wat aan ‘n kruis gesterf het daar nie te lê en so in die niet te laat versink. Die was die Joodse leiers se bedoeling om dit ook met die Verlosser te laat gebeur. Selfs die Ou Testament wys al daarop as die Verlosser kom dat Hy tot aan die kruis sal ly en dat na Sy dood die mense sal probeer om Sy liggaam so  te behandel dat dit  Hom nog  meer in die skande sal steek. Die HERE sorg daarvoor dat dit nie gebeur nie. Ons lees daarvan in die bekende hoofstuk Jesaja 53. Die Heilige Gees profeteer van die Verlosser wat sal kom in vers 9: “En hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee; en by die ryke was Hy in sy dood, omdat Hy geen onreg gedoen het nie en geen bedrog in sy mond gewees het nie."

Christus se teenstanders het vir Sy liggaam na Sy dood ‘n plek op die ashoop bespreek maar dit sal nie gebeur nie. Die werklikheid sal anders wees. Die woord wat in vers 9 met en vertaal is, kan in die Hebreeus ook met maar vertaal word.  Dit geen die betekenis van hierdie beter weer. Dan lees ons: “En hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee; maar by die ryke was Hy in Sy dood.”

Dit sien ons 700 jaar later ook gebeur. As Jesus van die kruis gehaal word, kom Hy nie in hande van Sy vyande nie. Dit is ook nie die outoriteite wat  Sy liggaam wegbring nie. Josef van Arimatea, wat ‘n ryk man was[7]  laat vra of  hy Jesus se liggaam mag kry om te begrawe. Die Romeinse goewerneur  Pontius Pilatus staan hierdie versoek toe en dan gebeur wat ons in in Matt 27: 58-60: “Toe beveel Pilatus dat die liggaam afgegee moes word. En Josef het die liggaam geneem en dit met skoon linne toegedraai en dit in sy nuwe graf gelê wat  hy in die rots uitgekap het.” 

Jesus ontvang ‘n eervolle begrafnis. Hy word selfs in ‘n baie mooi graf, in ‘n graf van ‘n ryk man begrawe.

Ons lees in die Nuwe Testament steeds dat die gelowiges begrawe word. As Paulus in 1 Kor 15 van Christus se opstanding skryf en wat dit vir die gelowiges beteken, gebruik hy die beeld van die saad. Die saad wat in die grond gesaai word en daar vergaan om weer nuwe lewe te kan voortbring. Hy skryf dan: “Maar iemand sal sê: Hoe word die dode opgewek, en met hoedanige liggaam kom hulle? Dwase mens! Wat jy saai, word nie lewendig as dit nie gesterf het nie. En wat jy saai – jy saai nie die liggaam wat sal word nie, maar ‘n blote korrel, byvoorbeeld van koring of van iets anders. Maar God gee dit ‘n liggaam soos Hy gewil het, en aan elkeen van die saadkorrels sy eie liggaam.” Vers 35-38.

Dit is duidelik dat Paulus hier by die beeld van die begrafnis en nie by verassing as lykversorging volgens God se norm aansluit nie.

Begrafnis is in die Bybel die eerbare manier van lykversorging.  Dit word in die Bybel as ‘n skande gesien as ‘n mens nie begrawe word nie. Sien o.a: 1 Sam 17: 44-46; 1 Kon 14:9,13; 2 Kon 9:10; Ps 79:1-3; pred 8:10; Jes 14:18-20. Dit is die manier van lykversorging wat by die mens as God se beeld pas.    Dit word nog duideliker as ons sien wat die Bybel van lykverbranding,  van verassing sê.

 

       Verassing in die Bybel

 

Die verbranding van die liggaam het in die Bybel met skande en straf te doen. Die verbranding is ‘n manier van lykversorging wat juis oneerbaarheid uitdruk. Laat ons die voorbeelde van verbranding of amper verbranding  nagaan.

1.                    Gen 38:24.  Die skoondogter van Juda, Tamar, word daarvan beskuldig dat  sy owerspel gepleeg het. Jakob se reaksie is dan dat Tamar uit haar huis gehaal moet word en dan verbrand moet word. Ons het hier te doen met die doodstraf deur verbranding. Ek gaan nou nie daarop in hoekom hierdie straf hier nie uitgevoer is nie maar dis duidelik dat dit hier om die dreiging met ‘n straf gaan.

2.                    Lev 20:14. Ons lees hier: “En as ‘n man ‘n vrou en haar moeder neem, is dit ‘n skandelike daad; hulle moet hom en die twee met vuur verbrand: daar mag geen bloedskande onder julle wees nie.”

Die sonde waarvan hier gepraat word is so groot dat van hulle wat so lewe niks op die aarde mag oorbly nie. Hulle liggame moet brand, elkeen moet wees dat op hierdie sonde die ewige straf,  die ewige vuur volg.

3.                    Lev 21:9. Ons lees hier: “En as die dogter van ‘n priester haar ontheilig om te hoereer, ontheilig sy haar vader; met vuur moet sy verbrand word.”

Hoerery is onder Israël  ‘n ernstige sonde. As die dogter van ‘n priester as ‘n hoer lewe is dit nog ernstiger omdat sy daarmee ‘n smet op God se dienaar lê en daarmee op God se heiligdom. Om hierdie smet heeltemal weg te haal mag niks van haar liggaam oorbly waarmee sy so intens gesondig het. Hierdie smet op God se heiligdom moet radikaal verdwyn, deur die verbranding van haar liggaam.

4.                    Jos 7:15,25.  Die volk Israel het die land binnegetrek wat die HERE vir hulle belowe het. Die land Kanaan moet nou deur die volk verder ingeneem word. Die eerste stad wat ingeneem word is Jerigo deurdat God die mure van hierdie stad laat instort. Die HERE het gesê dat niemand onder die volk iets uit die stad Jerigo mag saamvat nie. Die volk moet leer dat by die inneming van die land Kanaan nie die volke wat hulle oorwin vir hulle welvaart en rykdom gee nie maar dat dit die HERE is. Die HERE self  kom die rykdom toe wat in die land is. Die volk kan so hulle dankbaarheid vir die HERE wys. Dan is daar tog een man, Agan wat kosbaarhede vir homself neem. Ons lees wat die straf is en wat die straf is wat ook uitgevoer is: “En hy wat in besit van die bangoed aangewys is, moet met vuur verbrand word, hy met alles wat aan hom behoort, omdat hy die verbond van die HERE oortree en ‘n skanddaad in Israel begaan het. …. En Josua het gesê: Hoe het jy ons in die ongeluk gestort! Die HERE sal jou vandag in die ongeluk stort! Daarop het die hele Israel hom gestenig, en hulle het hulle met vuur verbrand en klippe op hulle gegooi.”

Die verbranding van die liggame moes daarop wys dat hulle sonde baie groot was.

5.                    2 Konings 23:15-18.  Die gelowige koning Josia gaan na Betel en vernietig daar die heiligdom waar Israel baie lank die HERE deur beelde gedien het. Hierdie vernietiging is vervulling van ‘n eerdere profesie.[8]

As Josia die heiligdom verniel het, sien hy die grafte wat rondom hierdie heiligdom lê. Mense het hulle juis rondom die heiligdom laat begrawe omdat dit vir hulle groter waarde gehad het. Wat doen Josia nou met die liggame wat in daardie grafte lê. Wat doen hy met die liggame van mense wat hulle tot in hulle grafte met hierdie beeldediens verbind het?  Hy laat die bene uit die grafte haal en hulle verbrand. Weer is dit teken van straf. Dit is duidelik dat verassing ook hier straf en skande uitdruk. Want wat gebeur nog meer? Daar is ook ‘n graf van ‘n profeet van die HERE. Hierdie man het nie met hierdie beeldediens saamgedoen nie. Josia gee opdrag om die bene van hierdie man en van die profeet uit Samaria met rus te laat. Sien vers 17,18.

6.                    Amos 2:1-3.  Hier lees ons dat die volk Moab die liggaam van die koning van Edom verbrand het. Dit is een van die groot sondes hoekom die HERE Sy oordeel oor Moab sal laat gaan. Ons sien hier hoe diep die HERE die verbranding van ‘n mens se liggaam haat as dit nie volgens Sy wil nodig is nie.

 

       Tweede  gevolgtrekking

 

 

Die Skrif  maak duidelik dat  begrawe die manier van lykversorging is wat in ooreenstemming met God se wil is. Dit is ook duidelik dat die verbranding van die liggaam nie die gewone manier van lykversorging mag wees nie.  [9] Dit kan ‘n vorm van ‘n besondere straf wees of by ‘n epidemie gebruik word om die lewens van ander mense te beskerm. [10]Kremasie pas nie by egte beskawing nie. Dit pas nie by ‘n volk, by ‘n owerheid, by ‘n mens wat die HERE volgens Sy Woord  wil dien nie.

God se volk mag weet dat eendag die grafte oop sal gaan en God se volk mag opstaan tot die ewige lewe waar nie meer enige vorm van lykversorging nodig is nie.

 

        Is hierdie gevolgtrekking werklik dwingend?

 

Hoekom vra ek hierdie vraag aan die einde van my lesing? Omdat sekere teoloë in ons eeu sê dat dit nie so is nie. Een van hulle is wyle dr. Johan Heyns. Hy skryf in sy boek Teologiese Etiek 1 van die argumente wat die Christelike kerk deur die eeue gebruik het om begrawe as die normatiewe manier van lykversorging uit te dra: “Vir die motief wat aan hierdie argumente ten grondslag lê, moet ons groot waardering hê. Maar of die argumente voldoende gronde bied vir die konklusie dat begrafnis daarom die enigste religieus-etiese verantwoorde vorm is vir die besorging van die liggaam van ‘n dooie val ernstig te betwyfel. Ons sou daarom woe pleit dat begrafnis nie as die enigste Bybels-verantwoorde  vorm aanvaar word nie. Na ons oordeel kom ook verassing of lykverbranding  hiervoor in aanmerking, en moet dit – mits dit natuurlik die vrywillige keuse van ‘n persoon is – ook so aanvaar word.”[11]

Heyns wys dan daarop dat  die heidense oorsprong van lykverbranding geen argument is om dit nou te verwerp nie. Ons kan dit nou vanuit ander gevoelens en gedagtes doen. Daarna  skryf  Heyns: “Ewe min is Jesus se begrafnis normatief vir ons. Hy was immers gebalsem en in ‘n grot neergelê en die praktyk volg ons vandag ook nie na nie. ‘n Selektiewe normatiwiteit is tog nie oortuigend nie. Maar let ons nou vir ‘n oomblik na verassing, sal ons ontdek dat daar geen etiese argumente bestaan waarom die praktyk verwerp moet word en nie aanvaar kan word nie.”[12]

Dit is goed om ernstig te oorweeg wat prof Heyns geskryf het. Argumente moet suiwer en geldig wees. As ‘n mens dit wat Heyns geskryf het   oorweeg en dan let op wat ons in die Bybel lees,  kan sy standpunt nie gehandhaaf word nie. Ek gee daarvoor in aanvulling van dit wat al gesê is nog die volgende redes:

a.                    Dit is nie so dat  net  die voorbeeld van Jesus se begrafnis vir ons die norm van begrawe gee nie. Die belangrike is hier juis dat dat Jesus begrafnis volledig volgens die norm is wat die HERE self in die Ou Testament al vir sy volk gegee het. By die norm het nie behoort dat  ‘n mens gebalsem word of in ‘n grot begrawe word nie. By die norm het selfs nie behoort dat ‘n mens in ‘n kis begrawe word of dat grafstene opgerig word nie. Die norm is begrawe en dan kan die manier waarop dit gebeur op sekere punte verskil sonder dat die HERE se norm aantas. Ons het al gesien dat die HERE verassing verbied en dit alleen as ‘n swaar straf voorskryf. Dit is selfs so dat een van die redes waarom  God se straf oor Moab kom, dit is dat hulle die bene van die koning van Edom verbrand het. Sien Amos 2:1. Die verbod om die liggaam van ‘n dooie te verbrand, vind sy oorsprong nie in sekere heidense-religieuse gedagtes nie maar dit gaan duidelik om die feit van verassing self. Daarom is die norm wat ons in die Ou Testament lees, vir ons vandag nog God se norm.

b.                    ‘n Ander saak wat ek nog teen Heyns se siening in wil bring is dit wat Paulus in 1 Kor 15 skryf. Heyns skryf dat sowel by begrawe as by verassing  die liggaam van ‘n dooie geskend word. Hy sien op hierdie punt geen werklike verskil tussen hierdie twee maniere van lykbesorging nie. ‘n Belangrike verskil wat bestaan word hier nie in rekening gebring nie. Paulus gebruik in 1 Kor 15  vir dit wat na ‘n gelowige se dood gebeur die beeld van die saad wat gesaai word. Sien veral die verse 42-44. Saai wys op die natuurlike proses van ontbinding. Wys daarop hoe dit sonder die opsetlike en geweldadige ingryping van die mens gebeur. Die beeld wat Paulus in 1 Kor 15 gebruik het nie die bedoeling om te wys op die uitstrooing van die saad soos as na die verassing uitgestrooi kan word nie. Wie hierdie gedeelte in die Bybel lees sal agterkom dat hierdie beeld  wys op die ontbinding waaruit nogtans iets nuuts, iets wat pragtig is vir die gelowiges ontstaan. Hierdie beeld pas by begrawe en verseker nie by verassing nie.

 

Uiteindelike gevolgtrekking

 

Dit kan nie anders wees as dat die HERE in die Bybel begrawe as die vorm van lykbesorging voorskryf en verassing teen Sy goeie wil ingaan.   



[1] Boon ,J.H.  Geskiedenis en Kremasie;  Douma, J. 1984  Rondom de dood  p 142-145. Kampen: Van den Berg;  Watson, S.J. 1991 Death and the nether world in Ancient Egipt Stellenbosch

[2]  Visser, Rob.  Kompas  Junie 1999 God se wet en die natuurreg; 

[3]  Visser, Rob 1997 In: Durand, M.C. (red) Aborsie in die lig van God se Woord  p 54-64. Potchefstroom: Herald Drukkery.

[4] De Klerk, Willem 1998. Die vreemde God en sy mense. p  31,32  Kaapstad: Human & Rousseau.

[5] Sien Ps 115: 16

[6] Die val van die engele het  na die sesde skeppingsdag plaasgevind en het plaasgevind  voordat die aarde 130 jaar bestaan. Want as Adam 130 jaar oud is word sy eerste kind Kain gebore. Dit gebeur nadat Adam en Eva uit die paradys gestuur is. Ons lees van die val van die engele in Judas 6 en 2 Petr 2:4.

[7] Mat 27:57

[8] Sien 1 Konings 13!

[9] ‘n Voorbeeld van ‘n sekere vorm van verbranding vind  ons in  1 Sam 31:11-13. Ons lees hier van verbranding van die lyke van Saul en sy seuns. Die Filistyne het hulle lyke geskend. Dit is die inwoners van Jabes wat uit liefde vir Saul en sy familie die lyke wat geskend is gaan haal.  Hierdie lyke word dan verbrand maar nie volledig nie! Ons lees naamlik dat na die verbranding die bene van Saul en sy seuns by Jabes begrawe word. Ons moet dalk hieraan dink dat hierdie lyke al in ‘n staat van ontbinding was en dat  hierdie lyke deur ‘n sekere vorm van verbranding  skoongebrand,  gereinig is en daarna op ‘n so gewoon as moontlike manier begrawe is.   

[10] Waarskynlik het ons in Amos 6:8-11 ’n voorbeeld van ‘n epidemie waarby sprake van verbranding is. 

[11] Heyns, J.A.  1982. Teologiese Etiek 1, p.509,510.  Pretoria: N.G. Boekhandel Transvaal.

[12] Heyns, J.A. a.w.  p. 510.