ORDE VAN DIENS
Opening
Vrede/Seëngroet
Psalm 4:3,4
Gebed vir die opening van die Woord
Skriflesing: Romeine 1:18-32
Psalm 19:1,2,3
Skriflesing: Romeine 3:9-20
Psalm 14:2,3,4,6,7
Teks: Dordtse Leerreëls III/IV, 3,4
Preek
Geloofsbelydenis (sing)
Dankgebed
Kollekte
Psalm 119:39,48
Seën
Gemeente van ons Here Jesus Christus, broers en susters
Ons het in die vorige artikels bely dat die mens totaal verdorwe is. Ons bely in art 3 dat dit nie net van Adam en Eva gegeld het nie maar dat elke mens wat gebore word so sleg van homself is.
As ‘n mens daaroor nadink kan skielik vrae by jou opkom. As dit werklik so is hoe is dit dan moontlik dat die wêreld nog funksioneer? Hoe is dit dan moontlik dat dit op aarde nie so erg as in die hel is nie? Hoe is dit dan moontlik dat ook heidense volke in die geskiedenis kultureel tot groot hoogtes gestyg het? Hoe is dit moontlik dat sekere kulture en volke in die geskiedenis vir ‘n lang tyd vrede geken het? Hoe kan dit so wees dat mense wat sonder Christus leef tog dinge doen wat by ander respek afdwing? Dat mense wat sonder God leef tog baie doen vir mense in nood en moeite?
Dit is vrae wat in jou hart kan opkom of wat ook deur ander vir jou gevra kan word as jy daarop wys dat die mense totaal verdorwe is. Kan ons saamgaan met die antwoord van die Humanisme wat sê dat die mense nog baie goeie dinge het. Die lig van die natuur sorg nog daarvoor dat die mens deur goeie opvoeding die regte goed kan doen. ‘n Ander antwoord gee die Jodedom. Die HERE het Sy wet gegee en as die mens mooi daarop let en hom daarvoor inspan, sal hy die goeie gaan doen en deur God aangeneem word. By die Humanisme is die lig van die natuur genoeg om die mens die goeie te kan laat doen en by die Jodedom is die lig van God se wet daarvoor genoeg. Die twee antwoorde word in die Dordtse Leerreëls aangespreek. Die volgende keer let ons o.a. op die Jodedom se antwoord. Nou hoor ons o.a. of die Humanisme se antwoord, wat ook deur die remonstrante aangehang is, regtig water hou.
Ek verkondig vir julle die evangelie onder die tema:
DIE MENS KAN NET DEUR DIE GEES SE WERK TOT GOD TERUGKEER
- Omdat hy ‘n gevangene van die sonde is.
- Omdat die lig van die natuur hom nie help nie.
- Omdat hy ‘n gevangene van die sonde is.
Enige mens sien raak dat baie dinge op die aarde verkeerd gaan. Lande en volke kan nie sonder polisie en weermag klaarkom nie. Ons weet waar die tronke is. Ons hoor en lees dikwels van misdade. Die aarde is verseker nie ‘n paradys nie. ‘n Moord soos op Marike de Klerk en verkragtings van selfs baba’s laat mense weer penregop sit.
As ons daarvan hoor, verafsku ons hulle wat dit gedoen het. Hierin is ook altyd ‘n groot gevaar. Dit is dat ons begin dink dat ons wat hierdie dinge nie doen nie eintlik nie so sleg is nie. Ons begin ons dan meet aan dit wat baie erg is pleks dat ons onsself meet aan dit wat die HERE goed noem. As ons die verkeerde buite ons en ook in ons eie lewe sien, is die groot vraag waar soek ons die skuld daarvan. Mense gee daarop verskillende antwoorde. Laat ons na enkele van hierdie antwoorde kyk.
- ‘n Mens erken dat hy nie sonder foute en sondes is nie maar soek die oorsaak vir allerhande dinge wat verkeerd gaan tog veral by ander. Hy is nog nie so sleg nie. Hy wil met sy gebreke tog nog altyd die goeie doen. Wie so leef en dink sal nooit daartoe kom om te bely dat hyself van homself sondig en verkeerd is. Hy sal nie erken dat hy vir alles in sy lewe Christus en die vergifnis wat hy verdien het nodig het nie. Dan sê jy dalk nog dat jy die Here Jesus as jou Helper nodig het maar nie as die Verlosser wat jou volledig moet verlos. Broers en susters niemand van ons sal dalk sê dat hy van homself van goeie wil is en nie vir alles Christus nodig het nie. Nogtans gebeur dit ook onder ons dat ons op hierdie manier praat. Dit gebeur as iemand van ons sê: Die swartmense jy kan tog sien in dit wat hulle doen dat ons beter is, dat ons meer gevoelig vir die evangelie is. Ons praat so as ons sê: Die wittes onderdruk ander ons as swartmense is beter as hulle. Dan sien ons nie almal ons groot skuld en sonde vir die HERE nie maar dan verhef ons ons bo ander. As ons mooi kyk en daarop let wie ons self is het ons daarvoor nie ‘n enkele rede nie en moet ons ons vir sulke uitsprake skaam.
- ‘n Ander antwoord klink baie vroom en mooi. Dit is as iemand op die ellende en verkeerde in die wêreld wys en jy sê: Ons moet nou eenmaal met die sonde rekening hou. Die sonde is iets wat nou eenmaal daar is en wat ‘n plek in die wêreld het. Jy praat daaroor as iets wat ‘n mag buite jou is waarteen dit tog nie sinvol is om te veg nie. Die stryd teen die sonde word dan nie gestry nie. Die skuld vir die sonde en vir elke nuwe sonde wat jy doen word dan nie gesien en nie beleef as ‘n werklike oortreding van jou teenoor die HERE nie. Ons mag hierdie persoonlike nooit vergeet nie. Jy en ek staan in ‘n persoonlike verhouding tot die HERE. Dit gaan in jou en my lewe altyd om my en jou konkrete sonde, konkrete opstaan teen die HERE. Die sonde is nie net een of ander teorie om die ellende in die wêreld en in jou eie lewe te verklaar nie. Elke sonde in ons lewe is aantasting van God se heiligheid. Is die opbou van skuld by die HERE. Elke sonde in ons lewe wys hoe ons in diens van die duiwel leef. Dit is so belangrik om raak te sien dat dit in die sonde om ‘n stryd tussen God en die duiwel en God en die teen hom opstandige mens gaan.
Wat is nou die groot ellende vir die mens na die sondeval? Dat ons onsself regtig tot slawe van die sonde gemaak het. Ons is dood in die sonde. Dit beteken dat ons onsself totaal ongevoelig vir die HERE en Sy goeie wil gemaak het. Ons lees dit baie duidelik in Romeine 8. As Paulus daar van die vlees skryf gaan dit om die mens soos hy na die sondeval van nature is. Ons lees dan in vers 6-8: “Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie”.
Die mens na die sondeval kan vanuit homself net dit doen en bedink wat teenoor die HERE en Sy goeie wil staan. Dit is die rede hoekom ons onsself nie aanneemlik vir God kan maak nie.
Hier staan dit wat die HERE ons in Sy Woord leer baie duidelik teenoor die dwaling van die Remonstrante. Dit gaan oor die vierde dwaling wat in ons hoofstuk genoem word: “Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Die mens wat nie weergebore is nie, is nie werklik en nie heeltemal dood in sondes nie. Ook is alle kragte om die geestelik goeie te doen hom nie ontneem nie. Hy kan nog honger en dors na die geregtigheid en die lewe en kan die offer van ‘n verslae en gebroke gees, wat God welgevallig is, bring.”
Hier sien ons weer waaraan die mens homaltyd weer vererg. Ons sien dit altyd weer in die geskiedenis. Mense vererg hulle as gesê word dat die mens van homself geneig is tot alle kwaad en glad nie in staat is om iets goeds te doen nie. Die mens wil nie in alles sleg genoem word nie. Daarom soek mense altyd weer na ‘n leer waarin die mens Christus wel nodig het maar ook self nog goeie dinge kan doen. Die mens soek na ‘n model waarin daar samewerking tussen Christus en jou is. Waarin jy vir jou verlossing nie net van God se genade afhanklik is nie.
Die Remonstrante en baie rondom ons sê dat ‘n mens van sy eie foute kan leer en so ook self kan sien wat sonde is en dit in eie krag vir God kan bely. Die mens sou dus in eie krag afstand van die sonde kan neem en hom tot God kan keer. Hy sou nie slaaf van die sonde wees nie. Dit stry met baie wat ons in God se Woord lees. Ek noem nou net twee gedeeltes.
- Rom 3:9-11: “Wat dan? Het ons enige voorrang? Hoegenaamd nie! Want ons het tevore al Jode sowel as Grieke beskuldig dat hulle almal onder die sonde is, soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.”
Die Heilige Gees wys hier baie duidelik op elke mens. Niemand is hier uitgesonder. Niemand soek God vanuit homself nie. Niemand doen uit homself wat goed is nie. Hier sien ons al dat dit onmoontlik is en volledig met die HERE se eie Woord stry om te sê dat die mens na die sondeval na God sou gaan en regtig berou oor sy sondes sou hê. Die mens na die sondeval is so in die sonde gevang dat hy sonde nie as sonde sien nie. Hy voel dit as onderdrukking van sy vryheid as hy sekere sondes nie mag doen nie. Die groot ellende van die sondige mens is dat hy self nie raaksien wat sy posisie is nie.
- Joh 6:44: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal Hom opwek in die laaste dag.”
Die Here Jesus wys hier dat die mens nie self na God sal kom nie. Daar is by hom regtig nie die verlange, die honger en dors na die HERE en dit wat werklik reg en goed is nie. Die verlange kan daar kom maar nie vanuit die mens self nie.
Hier sien ons hoe die Remonstrante en hulle leer teenoor Christus staan. Die mens wat homself verhef, kom altyd teenoor God staan. Hoe vroom en gelowig sy woorde ookal klink. Ons sien hier weer hoe ‘n verkeerde leer oor die mens en die sonde die leer van die uitverkiesing beinvloed. As ‘n mens self vir die goeie kan kies al is hy swak en het daarby God se hulp nodig dan bly dit die mens se keuse en nie God se kkeuse van genade en liefde nie. Dan gaan dit daarom om so verstandig te wees dat jy dit wat jy nog van jouself het beter as ander te gebruik. Dan kan jy as gelowige sê dat jy beter en verstandiger as ander mense is.
Hoe anders is die werklikheid! Die werklikheid is dat God se werk in jou en my nodig is om ons te maak tot mense wat begin raaksien wat sonde is en wat na die HERE en die omgang met Hom begin verlang. Ons het al gesien dat die Here Jesus sê: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie”. Dit is die Gees wat in jou die hartsverandering moet bewerk. Sonder Sy werk bly jy ongevoelig vir die HERE en die evangelie. Wat dit verder beteken en wat die Gees in mense werk sien ons by ander gedeelte in ons hoofstuk.
Een saak is baie duidelik dat ons sonder die Gees nie tot God kan kom nie. Sonder Sy werk bly ons gevangenes van die sonde en daarom vyande van God. Die noodsaak van die Heilige Gees se werk lees ons ook in Romeine 8 as daar van die gelowiges lees dat hulle nie meer in die vlees is nie: “julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, die behoort nie aan Hom nie.” Vs 9.
Die noodsaak van die Heilige Gees se werk in die mens word nie minder deur die lig van die natuur nie. Ons let daarop in die tweede plek.
- Omdat die lig van die natuur hom nie help nie
Die e volgende vraag is: Hoe is dit dan moontlik dat baie mense wat nie Christus volg en nie God se wet aanvaar nie dinge doen en sê wat reg is? Hoe is dit moontlik dat baie mense wat nie in die Drie-enige God glo nogtans moord en steel veroordeel en bestry?
Die Dordtse Leerreëls wys daarop dat nog ‘n bietjie van die lig van die natuur in die mens oorgebly het. Die Remonstrante het daarvan ‘n groot saak gemaak. Hulle het gesê dat die mens nog soveel goeds oorgehou het dat hy nog sensitief vir die HERE en die goeie is. Die eerste wat nou opval is dat die Dordtse Leerreëls sê dat net ‘n bietjie van die lig van die natuur in die mens oorgebly het. As ons van die lig van die natuur praat moet ons mooi bedink dat dit van buite in die mens inkom. Dit gebeur deurdat God Hom in die natuur, in sy lewe Sy dade vir die mense wys.
Dit gebeur verseker op drie maniere:
- Die HERE wys Homself as die Skepper aan. As ‘n mens na die skepping kyk, raak hy beindruk. Dan moet die gedagte opkom dat daar ‘n Skepper moet wees. Iemand wat meer as die skepping is en volgens ‘n pragtige plan dit gemaak het. Die skepping is te pragtig, alles pas so goed bymekaar dat dit geen toeval kan wees nie. Ons lees naamlik in Rom 1:19: omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar.” Let daarop dat die mense in hulle iets sien, die lig van die natuur het omdat God dit vir hulle geopenbaar, gewys het. Dit kom van buite die mens.
- Die Skepper wys Homself ook daarin dat Hy nog elke dag vir Sy skepping sorg.Die skepping praat in al sy heerlikheid en majesteit van God, van die Skepper. Selfs so dat ons in Psalm 19 lees: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande. Die dag stort vir die ander ‘n boodskap uit, en die nag kondig vir die ander kennis aan.” (vers 3,4) Hiervan lees ons ook in Romeine 1:20: “Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie.”
- Omdat die HERE die Skepper is en die mens volgens Sy plan gemaak het moet die mens steeds weer toegee dat die HERE se wet by die skepping en die mens pas. As mense steel en doodslaan, as dit in ‘n samelewing toegelaat word, sien mense, en moet hulle na ‘n ruk erken, dat die op chaos, op groot ellende uitloop.
Dan wys die ellendige resultate dat iets moet verander en dat mense moet terugkeer na dinge wat die HERE in Sy wet gesê het.
Die sondige mens het geen betroubare natuurwet in hom nie. Nogtans doen die ongelowige saam met God se kinders dinge wat volgens die HERE se wil is omdat God se openbaring in Sy werke deur die mens nie volledig teengestaan kan word nie. Daarvoor is hierdie sigbare en voelbare openbaring van die HERE te sterk.
Beteken dit nou dat die lig van die natuur wat nog skyn die mens op die pad van die verlossing kan bring? Dit is totaal onmoontlik en daarop wys die Heilige Gees ook as Hy sê dat die mense die waarheid in ongeregtigheid onderdruk. Rom 1:18.
Die oorsaak daarvan lê in ons. Die oorsaak is ons sondige, harde hart wat God se openbaring in Sy dade in “ongeregtigheid onderdruk”.
‘n Mens vang hierdie openbaring van God in Sy werke op maar deur sy sondige hart dring net ‘n baie klein gedeelte van hierdie openbaring in sy hart deur. Die HERE sorg daarvoor dat ‘n klein bietjie deurdring om op die aarde daarvoor te sorg dat daar nog ruimte bly vir die verkondiging van die evangelie. Die HERE sorg daarvoor dat Sy werk van die vergadering van Sy kerk kan bly voortgaan en daarom is daar op die aarde wel baie ellende maar staan dit nie gelyk aan die hel nie.
Vir die mens is dit egter onmoontlik om deur hierdie lig van die natuur tot saligmakende kennis van God te kom en hom te bekeer. Gevolglik kan hy selfs in natuurlike en burgerlike sake hierdie lig nie reg gebruik nie. Hoe ook al, veeleer verduister hy dit op verskillende manier heeltemal en bedek dit in ongeregtigheid. Omdat hy dit doen, is daar vir hom geen verontskuldiging voor God nie.”
Dit is duidelik dat dit vir ‘n mens en vir die menslike samelewing onmoontlik is om op die lig van die natuur, om op God se openbaring in Sy dade ‘n goeie lewe en samelewing te bou.
Ons sien weer dat ons die Heilige Gees nodig het om werklik met Christus te leef en verlossing te ontvang. Hoe belangrik is dit dat jy leer om op jou knieë te gaan. Om steeds weer daarom te bid dat die Gees in jou werk en jou steeds weer en meer vernuwe. Wie nie bid en nie sy knieë buig en tog vir ‘n deel op homself bly vertrou, leef sonder Christus. Leef sonder vergifnis. Voel jou nie te groot en te belangrik om op jou knieë te gaan en jou eie onvermoeë en skuld te bely nie. Voel jou nie te goed om te vra dat die Gees volgens God se belofte steeds in jou werk en jou oue sondige mens afbreek en jou leer om Christus lief te hê en en te volg nie. Wie so bid mag deur Christus se werk en God se trou weet dat die Gees in jou woon en werk. Soek jou verlossing buite jouself in Christus en dan sal die Gees jou vir ewig aan die Vader en die Seun verbind tot jou ewige redding.
CHRISTUS SE GEMEENTE Sê OP HIERDIE VERKONDIGING: AMEN