ORDE VAN DIENS
Opening
Vrede/Seëngroet
Psalm 4:1,2
Geloofsbelydenis
Psalm 57:1,2
Skriflesing: Johannes 10:11-29
Johannes 17
Gebed
Kollekte
Psalm 89: 1,3,6
Teks: Dordtse Leerreëls II 7,8
Preek
S.B. 10:1,2,3,6
Dankgebed
Psalm 115:1,9
Seën
Broers en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus.
Ons het al eerder gesien dat die Here Jesus nie vir alle mense gesterf het nie. Ons kan en mag nie sommer vir elkeen sê: Jesus het ook vir jou aan die kruis gesterf en sê: God het jou daarom lief nie.
Hierdie manier van dink en praat is ook onder mense wat regtig met hulle die HERE wil volg en die Bybel as God se onfeilbare Woord lees baie populêr.
As ek nou sê dat Jesus net vir die uitverkorenes gesterf het, kom jy of ‘n ander met die reaksie maar in die Bybel lees ons tog dat die HERE wil dat enigeen gered sal word.
Mense wys dan veral op 1 Timoteus 2:2-6. Ons lees daar: “Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd.”
As ons dit lees, is dit baie belangrik om ons weer te herinner aan die baie belangrike reël dat die Bybel God se Woord is en daarom nie teenstrydige sake kan bevat nie.
Sekere dinge is baie duidelik in God se Woord:
· Die mens is na die sondeval nie meer in staat om vir die HERE te kies nie. Hy wil van homself net die sonde doen.
· Die mens is deur die sonde totaal verdorwe en wil nie glo en erken dat dat hy van sy sonde en skuld verlos moet word nie.
· Die HERE het van ewigheid sekere mense uit die sondige mensheid uitverkies en het ander in hulle val laat lê.
· Christus het vir God se kinders nie die moontlikheid om verlos te word verdien nie maar die sekerheid en werklikheid daarvan. Ons kom hierop in die preek nog terug.
Al hierdie sekere dinge in die Skrif wat die HERE ons leer maak duidelik dat dit nie kan beteken dat Christus vir alle mense gely en gesterf het nie. Wat lyk die beste verklaring as ons na 1 Timoteus 2 kyk?
Let daarop dat Paulus hier vir Timoteus skryf vir wie hy moet bid.
Die konings en hooggeplaatstes was toe nie die mense wat Christus se gemeente goed gesind was nie. Hulle kry juis vanuit daardie kringe groot teenstand. Die kans is dan groot dat jy nie vir hulle bid want jy sien hulle as teenstanders. Sekere groepe mense is dan vir jou gevoel nie werd om vir te bid nie.
Nou wys Paulus vir Timoteus dat hy nie sekere groepe in sy gebed mag vergeet nie. Die rede om vir alle groepe in die samelewing is dat God ons Verlosser wil hê dat alle mense gerd word.” Hierdie alle moet ons hier opvat as allerhande soorte mense. Dit is nie vreemd nie want vanuit die Grieks is dit ook heeltemal wettig om die woord wat daar gebruik word met allerhande te vertaal. Christus het nie net gekom om ‘n sekere volk, of ras of armes of rykes of watter groep te red nie. Hy het die losprys betaal vir allerhande soorte mense. Hy het dit betaal vir die uitverkorenes sonder dat die ongelowiges kan sê dat daar nie verlossing vir hulle kon wees nie want Sy sterwe was genoeg vir die hele wêreld. As iemand nie gered word nie is die oorsaak daarvan sy eie ongeloof. Die gelowige het die redding nie in homself nie maar in Christus. Ons let daarop as ek vir julle Christus se evangelie verkondig onder die tema:
GOD SE UITVERKORENES HET ALLES IN CHRISTUS
Daarom
1. Ontvang hulle die saligheid
1. Ontvang hulle die saligheid
Ons het vanuit die artikels 5,6 gesien hoe die evangelie vir soveel as moontlik mense verkondig moet word. Christus se gemeente behoort ‘n gemeente te wees wat na buite die evangelie verkondig. Dan is niemand te arm, te vuil, te sondig, te ryk, te aansienlik om vir hom of haar Christus te verkondig nie.
Baie mense hoor in die geskiedenis die evangelie van die Verlosser, van die redding uit die sonde en die dood deur Christus alleen. Nogtans neem baie wat dit hoor die evangelie nie aan nie. Die oorsaak daarvan is hul eie ongeloof, dit is hul eie skuld. Hierteenoor bely ons in artikel 7 dat as mense die evangelie hoor en daaruit begin leef en by Christus hulle lewe soek dit net vanweë God se genade is. Die geloof wat deur die evangelie in ‘n mens kom is dan nie aan jou goeie keuse te danke nie maar daaraan dat die HERE dit vir jou as ‘n onverdiende present gegee het.
Ek gaan nou nie herhaal wat in vorige preke hieroor al gesê is nie. Ek gaan ook nie die tekste in God se Woord wat so duidelik daarop wys dat die geloof God se onverdiende werk in die gelowige is nie. Ek wil nog net wys op twee tekste wat ek nie eerder genoem het wat ook die genadekarakter van die geloof beklemtoon. Die eerste Is 1 Kor 4:7. Die Korintiërs dink baie van hulleself. Hulle meen dat hulle ‘n beter gemeente is as die ander gemeentes. Paulus skryf dan juis vir hierdie gemeente: “Want wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?”
‘n Ander plek in Paulus se tweede brief aan die Korintiërs wat daarop wys dat geloof net ‘n geskenk van die HERE is, is 2 Kor 5:17. Ons lees daar: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.”
Let daarop dat die Gees hier sê dat ‘n mens wat waarlik glo ‘n nuwe skepsel geword het. Wie is die enigste wat ‘n nuwe skepsel kan maak? Die HERE! Ons kan nie daarvoor sorg dat ons opnuut gebore word of ‘n nuwe skepsel word. Dit is net God se werk. Ook hieraan sien ons dat ons vir die geloof net die HERE as die Bewerker en Gewer daarvan kan dank. Dit wys vir ons ook baie prakties dat ons onsself nie kan verhef en begin dink of sê dat ons beter as ander is, of ons familie beter is as ander families om dat ons glo nie. Jy is van jouself nie beter omdat jy glo nie. Dit is die HERE se werk in en geskenk vir jou uit genade alleen.
Hier lê nou die groot verskil met die Remonstrante en al die mense wat vandag sê dat jy self, in eie krag vir Christus kan kies. Ons sien dit veral as ons let op twee Verwerpinge van die dwaling wat by hoofstuk twee behoort.
Die eerste waar ek julle aandag vir wil vra is die derde een. Ons bely daar: “Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Christus het deur die voldoening vir niemand met sekerheid die saligheid verdien nie; ook nie die geloof waardeur hierdie voldoening van Christus kragdadig tot saligheid toegeien word nie. Hy het, daarenteen, slegs die mag of volkome wil vir die Vader verwerf om opnuut met die mense te handel en om nuwe voorwaardes, soos Hy wil, voor te skrywe. Die uitvoering daarvan sou van die vrye wil van die mens afhang. Dit sou dus kon gebeur dat of niemand of alle mense die voorwaardes sou kon nakom.”
Hoerby sluit baie nou aan die tweede deel van die dwaling wat in die sesde dwaling genoem word: “Dat sommiges die vergifnis van die sonde en die ewige lewe deelagtig word en ander nie, hang van hulle vrye wil af, wat hom aanpas by die genade wat sonder onderskeid aangebied word. Dit hang nie van die besondere gawe van die barmhartigheid af wat kragtig in hulle werk, dat hulle, anders as ander mense, hierdie genade vir hulleself sou toeeien nie.”
Wat sê die Remonstrante? Hulle sê dat die Here Jesus daarvoor gesorg het dat elke mens wat die evangelie hoor die evangelie kan aanneem. As die mens sy vrye wil goed gebruik doen hy dit. Die HERE is nou die toeskouer wat moet afwag of mense hul vrye wil goed gebruik en hoeveel dit sal doen.
Wat is die antwoord wat ons hierop in die Dordtse Leerreëls gee? Die volgende: “Die Sinode leer: Hierdie mense minag die dood van Christus geheel en al en aanvaar op geen wyse die vernaamste vrug of weldaad wat daardeur teweeggebring is nie. Hulle roep weer die dwaling van Pelagius uit die hel terug.
Die Sinode leer: Daardie mense wat voorgee dat hulle hierdie onderskeiding reg voorstel, probeer om die kerkvolk met die verderflike Pelagiaanse dwaling te vergiftig.”
Wie mooi geluister het, het gehoor hoe hierdie dwaling in baie sterk woorde aangespreek word. Hierdie dwaling is maar nie ‘n klein verskilletjie nie. Dit word selfs ‘n leer genoem wat uit die hel teruggeroep is en hier word bely dat die kerkvolk daardeur vergiftig word. Dit is sterk woorde en hoekom gebruik ons hierdie sterk woorde?
Omdat dit die dwaal van Pelagius weer in die kerk terugbring. Pelagius was ‘n monnik wat in die eerste eeue na Christus geleer het dat elke mens as hy gebore is sonder sonde gebore word en selfs sonder die wil om te sondig. Elke mens sou by sy geboorte goed wees en het daarom ‘n vrye wil hê wat vir die goeie, vir God en Christus kan kies. Die mens kom tot sonde deur die verkeerde voorbeeld wat hy sien maar is nie van nature sondig nie. Broers en susters dit is die agtergrond as mense sê dat jy self vir Christus kan kies. Dit is die agtergrond as mense sê: God het jou lief, Christus het vir jou gesterf jy moet net nog vir Hom kies. Dit is nie ‘n hemelse maar ‘n helse leer.
Die mens het na die sondeval nie meer ‘n vrye wil nie. Na die sondeval het die mens en sy wil hom aan die duiwel en die sonde gebind. Jy en ek is as sondaars gebore: “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.” Ps 51:7.
Paulus skryf in Efesiërs 2: :”en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.” Vs 3.
Wie leer dat die mens ‘n vrye wil het en self vir God kan kies, beledig God en gee die mens ‘n te hoë plek. Hy gee die HERE nie die eer wat Hy verdien dat ‘n mens die geloof net aan die HERE en Sy werk te danke het en dat dit net gevolg van Sy onverdiende liefde in jou lewe is.
Dit is die Vader wat daarvoor sorg dat Sy Seun vir die uitverkorenes ly en dat daardeur alle uitverkorenes die geloof ontvang en daardeur die volle saligheid. Die Here Jesus het presies geweet vir wie Hy die saligheid, die verloste lewe met die HERE verdien het.
Ons lees dit o.a. in Johannes 10. Ons ken almal die gelykenis van die Goeie Herder. Die Here Jesus vertel dan dat Hy Sy lewe sal gee. Vir wie? Weet die Here Jesus vir wie dit is? Ja want hy sê: “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape….. My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. (vs 11,28) Die Here Jesus ken die trop wat Hom as die Goeie Herder sal volg. Dit is die trop wat die Vader uitgekies het en vir Hom gegee het. Dit is die gegewenes van die Vader. Ons lees daarvan veral in Johannes 17.
Ons lees daar o.a; “Ek het U Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het U Woord bewaar. … En Ek is nie meer in die wêreld nie, maar hulle is in die wêreld; en Ek kom na U toe. Heilige Vader, bewaar in u Naam die wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees soos Ons. Toe Ek saam met hulle in die wêreld was, het Ek hulle in u Naam bewaar. Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word.” 6,11,12
Die Here Jesus sal as die Verlosser daarvoor sorg dat die wat die Vader Hom gegee het die volle saligheid vas en seker ontvang. Hy sê dit in Joh 6 so: “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toekom, nooit uitwerp nie. Want Ek het uit die hemel neergedaal nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag.” 37-39
Broers en susters wat ons hier hoor is die heerlike evangelie. Die troos hiervan is onwankelbaar. Die leer dat die mens self die goeie keuse moet doen en dat hy dit in eie krag moet doen, is so onbarmhartig. As die HERE so met ons sou handel, sou niemand van ons tot die regte keuse kom nie. Dan sou Christus regtig vir niks en niemand gesterf het. Dan sou die hemel en die nuwe aarde leeg gebly het.
Ons het gelukkig ‘n Vader wat Sy kinders onpeilbaar liefhet. Hy het Sy Seun gestuur om die uitverkorenes daadwerklik te verlos. Hy sorg daarvoor dat Sy kinders tot geloof kom, Hy sorg daarvoor dat hulle dit nie by die sonde kan uithou nie, dat hulle die evangelie hoor en glo. Die Here Jesus het vir hulle gesterf om daarvoor te sorg dat niemand van hulle verlore gaan nie. Ons het van onself die wêreld lief maar die HERE sorg dat deur Christus se offer ons die wêreld leer haat en die wêreld ons haat. Jesus sê dit in Joh 15:19: “As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.”
Wie sy eie vrye wil wil handhaaf, onteer God. Laat ons leer om tog nie ‘n bietjie onsself te handhaaf nie. Laat ons vol diepe verwondering die HERE aanbid wat ons tot geloof in Christus roep. Wat elkeen wat glo in Christus alles gegee het. Laat ons steeds weer bid dat die Heilige Gees ons leer om net van genade te wil leef want dit is vir ons so moeilik. Hoe belangrik is dit om die dwaalleer te ontmasker en ook in ons eie harte en na buite te bestry want dit gaan hier om God se eer. Dit gaan ook om Christus se eer.
Hoe heerlik en groot is Christus se werk dat elkeen wat glo nie op sy vrye wil hoef te bou en te vertrou nie maar rus mag vind in Christus wat regtig alles vir Hom of haar verdien het.
AMEN